Die Groot Geloofswoordeboek: Die Beeld van God

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Beeld van God

Beeld van God

‘n Mens kan twee betekenisse gee aan die term “beeld van God”. Dit kan ‘n beeld wees wat gemaak is om God voor te stel, of vir Christene kan dit verwys na die mens wat as die beeld van God geskep is.

Wat beelde van God betref, is daar in die Bybel sterk uitspra­ke daarteen om ‘n beeld van God te maak. Die tweede gebod lui selfs uitdruklik dat ons geen beelde hoegenaamd mag maak nie. Almal stem saam dat dit beteken dat ons nie van God ‘n beeld mag maak nie. Christene verskil egter oor die verdere reikwydte van hierdie gebod. Daar is groepe wat selfs meen dit beteken dat ons nie foto’s van mense of enigiets anders mag neem nie. Ander is oortuig dit verbied iets soos ‘n kruis in ‘n kerkgebou. Nog ander wys daarop dat die gebod uitdruklik lui dat ons nie hierdie beelde mag vereer of dien nie. Dit sou dan impliseer dat ons wel beelde of foto’s van mense of dinge mag hê, maar dit nie mag aanbid nie.

Wat die mens as die beeld van God betref, is daar ‘n ryk ge­skiedenis van interpretasie en besondere geestelike dimensies agter hierdie begrip.

Beeld en gelykenis

Die begrip kom uit die eerste skep­pings­verhaal in Genesis waar ons lees dat God die mens maak as sy verteenwoordiger, as sy beeld (Gen 1:26-27). Die 1983-vertaling is nie so geslaagd nie, en daarom sal ons die begrippe van die 1953-vertaling gebruik: beeld en gelykenis. In die geskiedenis van die uitleg van hierdie uit­­spraak, is daar verklarings wat nie steekhou nie. Die een is dat “beeld” en “gelykenis” eintlik twee verskillende sake is. Irenaeus, ‘n kerk­vader van die tweede eeu, was oortuig dat “beeld” verwys na die mens as ‘n rasionele en vry we­se, en dat “ge­ly­kenis” verwys na die heiligheid (die etiese kant) van die mens. Deur die sonde het die mens dan wel die ge­lykenis verloor (die mens het sonde gedoen), maar nie die beeld nie: die mens het ‘n vrye, rasionele wese gebly.

Hierdie onderskeiding kan nie regtig aanvaar word nie om­­dat die twee begrippe oor en weer gebruik word. Hulle is ‘n tipiese voorbeeld van wat die Hebreeuse parallelismus membrorum genoem word: die verskynsel in Hebreeus om ‘n ding twee keer (parallel) te sê met woorde wat eintlik dieselfde of byna dieselfde beteken. Maar Irenaeus se motief agter hierdie onderskeiding is tot vandag nog belangrik. Die vraag is: Wat het as gevolg van die sonde, van die mens se vermoë geword om die beeld te wees? Irenaeus se ant­woord was: die mens se heiligheid of son­deloosheid het verlore gegaan, maar nie ons denke en vryheid nie. Maar dit stel ‘n mens dadelik voor die vraag: Wat is nou regtig die beeld?

Twee verskillende sienings oor die beeld

Hierdie vraag kan op twee maniere verstaan word, en dit bete­ken dat daar twee verskillende sienings is van wat die beeld is. Volgens die een is daar iets in die mens wat die beeld is, en die vraag is dan: Wát in die mens, watter “deel” van die mens? Die ander beskouing is dat die mens self die beeld is.

Sommige kies die eerste moontlikheid en identifiseer dan iets in die mens, ‘n deel van die mens, as die beeld: die siel, die gees, die wil, die verstand. Telkens is die vraag dan: Wat beteken dit as die mens die beeld verloor het? Die mens het tog nie sy of haar siel of verstand verloor nie. Daarom is dan gekies vir die sag­ter siening, dat die mens nie die beeld verloor het nie, dis net ver­swak of verduister. As ‘n mens aanvaar die beeld is die wil, kan jy wel sê dat die mens die wilsvryheid verloor het en ‘n slaaf van die sonde geword het. Dit sluit nogal aan by die Nuwe Testament waar ons lees dat die Seun ons vry maak van die sonde (Joh 8:34-38).

Een van die probleme met hierdie siening dat ‘n deel van die mens die beeld is, is dat die mens dan maklik ingedeel word in twee dele, ‘n belangrike deel (die beeld), en ‘n onbelangrike deel (die res). Onder die behandeling van die *mens sal op die pro­bleme gewys word wat hierdeur veroorsaak word.

Die ander beskouing is dat die hele mens die beeld is. Die ar­gument is dat daar nêrens in die Bybel die indruk geskep word dat iets in die mens, dit wil sê net ‘n deel van die mens, die beeld is nie. Die vraag is dan: In watter sin is die mens God se beeld?

  • Die beeld in die Ou Testament

Ook op hierdie vraag is ver­skillende antwoorde gegee. Gewoon­lik word die beeld dan be­perk tot ‘n bepaalde faset van die mens se lewe: die mens se heer­skappy oor die natuur (Gen 1:26, 28, waar elke keer direk ná die verwysing na die beeld ook verwys word na die mens se heerskappy oor die natuur), of die mens as ‘n ver­houdingswese (Gen 1:27, waar direk ná die beeld, na die mens as man en vrou verwys word).

Die probleem hiermee is dat ‘n mens nie die indruk kry dat Ge­nesis 1 regtig met hierdie kort verwysings probeer verdui­de­lik wat die beeld is nie. Die verwysings is te toevallig. Daar is wel een verwysing wat ‘n mens nogal laat dink. In Genesis 5 is daar di­rek na mekaar twee verwysings na “beeld”. Die eerste is ‘n herha­ling van Genesis 1: God het die mens geskep as beeld van Hom­self (v 1), en direk daarna ‘n verwysing na die geboorte van Adam se seun Set van wie dan gesê word: “sy beeld, een soos hyself” (v 3). As dit gesê word van ‘n pa en sy seun, kan ‘n mens vermoed dit be­te­ken: daar is besondere ooreenkoms. En dit lê natuurlik van die begin af opgesluit in die woorde “beeld” en “gelykenis”. Dit sou dan beteken dat daar ‘n besondere ooreenkoms is tussen God en mens.

Verder is daar egter nêrens in die Ou Testament besondere aandag aan die beeld of wat die inhoud van die beeld is nie. Daar is maar net enkele verwysings wat geen besonderhede bevat nie (Gen 5:1; 9:6).

 

  • Die beeld in die Nuwe Testament

Maar in die Nuwe Tes­tament is daar ‘n verskeidenheid ver­wysings met heelwat inhoud. Die beeld word veral in twee verbande gebruik: Christus word twee keer die beeld van God genoem (2 Kor 4:4; Kol 1:15; vergelyk ook Heb 1:3), en die mens se nuwe lewe word met die begrip “beeld” omskryf (Ef 4:24; Kol 3:10). En ten slotte word die gelowiges ook twee keer die beeld van Christus genoem (Rom 8:29; 2 Kor 3:18).

Eerstens word Christus die beeld van God genoem in verban­de waarin ons lees dat God met sy volle wese in Hom woon (Kol 1:19; 2:9), en dat ons in die volheid van God deel omdat ons aan Christus verbonde is (Kol 2:10), dat die heerlikheid van God uit Hom uitstraal (2 Kor 4:4-6), en dat Hy die openbaring van God is. Hy is immers die beeld van die God wat nie gesien kan word nie (Kol 1:15).

Tweedens word ons nuwe lewe die beeld van God genoem. Ons word vermaan om anders as ongelowiges te leef, om vol­kome heilig en volgens God se wil te leef omdat ons “as die beeld van God geskep is” (Ef 4:24). Ons het hier duidelik ‘n verwysing na Genesis 1, maar met ‘n verskil. In Genesis is dit eenvoudig ‘n stelling dat die mens as die beeld van God geskep is. In Efesiërs 4 word dit deel van ‘n opdrag. Ons moet dus word wat ons bedoel is om te wees. In Kolossense 3 kry ons dieselfde gedagte. Die gemeente word opgeroep om op te hou met die sonde waarin hulle vroeër ge­leef het. Hulle nuwe lewe word beskryf as “die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper” (Kol 3:10). En dit word gevolg deur ‘n aantal kon­krete vermanings oor hoe ons lewe as gelowiges moet lyk. Die voortgang in die *heiligmaking word hier nog duideliker beskryf as in Efesiërs 4.

Derdens is daar die twee verwysings na die beeld van Chris­tus (Rom 8:29; 2 Kor 3:18). Ook hieruit is dit duidelik dat ons moet verander om by Hom te pas (Rom 8:29) en dat gelowiges in die proses van verandering is om soos Hy te word (2 Kor 3:18).

Hierdie verwysings na die beeld van God in die Nuwe Tes­tament help ons om te verstaan wat bedoel word met die mens as beeld van God. Ons moet verander om te word wat ons bedoel is om te wees: beeld van God. Om dit te bereik moet ons met die sonde ophou en anders as die ongelowiges leef. Ons moet gelyk word aan die beeld van Christus. Só word ons as die beeld van God herstel.

Dit beteken dat die mens as beeld van God bedoel is om God se waardes en lewenswyse na te volg en te vertoon.

Soos God, soos Christus

‘n Mens kom tot dieselfde gevolgtrekking as jy na ‘n ander saak in die Nuwe Testament kyk. Gelowiges word oor en oor vermaan om soos God en soos Christus te leef. Ons moet soos God vergeef, soos Hy heilig wees, soos Hy in die lig leef, soos Hy barmhartig wees, ja, soos Hy volmaak wees (Kol 3:13; Ef 4:32; 1 Pet 1:15-16; 1 Joh 1:5-7; Luk 6:36; Matt 5:48). En ons moet mekaar soos Christus liefhê, mans moet hul vrouens soos Christus liefhê, ons moet soos Christus in liefde lewe, ons moet onsself rein hou soos Christus rein is, ons moet so regver­dig wees soos Hy, ons is soos Hy gestuur (Joh 13:34; Ef 5:2, 25; 1 Joh 3:3, 7; Joh 20:21). Daarnaas is daar ander uitsprake wat op dieself­de neerkom. Galasiërs 4:19 beteken dat ander mense in ons lewe moet kan sien hoe Christus lyk. Iemand het gesê ek moet vir my naaste ‘n Christus word. As ‘n mens na hierdie opdragte kyk, is dit duidelik dat dit in beginsel ons hele lewe dek.

In watter sin is ons dan die beeld van God?

Die beeld van God is nie iets in ons of ‘n deel van ons of net een of ander aspek van ons lewe nie. Ons is die beeld van God as ons in ons hele lewe soos Hy leef, as ons lewe aan Hom herinner, as ons waardesisteem Syne verteenwoordig. Daar moet ooreenkoms wees tussen Hom en ons (wat ons terugbring by Gen 5:1-3).

As ‘n mens goed daaroor nadink, kan dit jou keel laat toetrek. Wie kan dit regkry om soos God te vergeef, soos God volmaak te wees?

Enersyds sal dit natuurlik net ‘n beperkte ooreenkoms wees. Ons praat van ‘n analogie. Ons sal op sy beste maar net ander aan Hom kan herinner. Maar is dit nie al klaar te veel nie? Ja, dit is. Dis om van moedeloos te word. Daarom word van ‘n ander kant af hierna gekyk waar *heiligmaking behandel word.

Woorde gemerk met ʼn * word elders hanteer

 

Outeur: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...