Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (3)

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (3)

Die Jode (Israel)

Baie Christene is oortuig dat die Jode se terug­keer na Israel sedert 1948 ‘n teken is dat die koms van Christus nou naby is. Gewoonlik word die uitspraak van Jesus oor die vyeboom wat bot op Israel se terugkeer toegepas. Dit kan egter nie so werk nie. As die vyeboom wat bot Israel se terugkeer is (Matt 24:32), wat dan van “al die ander bome” wat ook bot? (Luk 21:29) Moet alle volke dan terugkeer na waar hulle vandaan kom?

Boonop is dit nie korrek om te beweer dat die vyeboom al­tyd in die Bybel na Israel verwys nie. Dit verwys nie eens drie hoofstukke vroeër in Matteus self na Israel nie (Matt 21:18 ev). Trouens, die verwysing na die vyeboom het geen “dieper of geestelike” betekenis nie. Dit is ‘n blote vergelyking: Soos ‘n mens uit die vyeboom se bot kan aflei dat die somer naby is, kan jy uit die tekens wat sal gebeur, aflei dat die wederkoms naby is.

In die Ou Testament is daar heelwat profesieë dat Israel na Palestina en veral na Jerusalem sal terugkeer. Dit is vervul in die terugtog, lank voor die geboorte van Jesus. In die Nuwe Testament is daar nêrens sprake van so ‘n terugkeer voor die wederkoms van Christus nie. Heelwat tekste word wel hiervoor gebruik (oa Matt 10:23; 19:28; 23:39; Hand 3:19-20), maar daar is nie van so iets sprake nie. Lukas 21:20-24 is deel van ‘n profesie van Jesus oor die tekens van sy koms. Jerusalem sal omsingel word en baie sal as krygsgevangenes weggevoer word. Heidennasies sal Je­rusalem vertrap “totdat ook hulle tyd verby is” (v 24). Daar staan egter niks van wat daarna met Israel sal gebeur nie. Die gedeelte gaan maar net aan oor die spanning onder die nasies omdat hulle tekens in die lug sal sien.

Israel se toekoms: Romeine 9-11. Hier het ons die enigste deel in die Nuwe Testament wat enigsins breedvoerig aandag gee aan die toekoms van Israel. Die agtergrond is die feit dat die kerk in Paulus se tyd vol heidene sit met omtrent geen Jode nie, en dit terwyl Jesus die Jode se Messias is. Dit is vir Paulus ‘n hartseer saak (Rom 9:1-4), so erg dat hy wens dat hy liewer verlore gaan as die kerk maar net vol Jode kan word.

Die rede waarom die heidene “oorgeneem” het in die kerk is eenvoudig: hulle het die evangelie van vrye genade geglo terwyl Israel self hul heil wou verdien (Rom 9:30-33).

En wat nou van die toekoms? Met ‘n baie interessante beeld ver­duidelik Paulus dit, die beeld van die twee olyfbome (11:16 ev). Die mak olyfboom is die volk van God, die wilde boom is die heidene. Die stam of wortel van die mak olyf is die gelowiges van die Ou Tes­tament. Die Jode wat nie vir Jesus as Messias wil aanvaar nie, is die takke wat van die mak boom afgekap is. Die heidene wat tot geloof kom, is takke wat van die wilde olyfboom afgebreek is en op die mak boom geënt is (11:17-24). Tot sover die huidige situasie.

En die toekoms? In ‘n sekere sin is die toekoms oop. Die Jode wat Jesus in die toekoms as Messias aanvaar, is soos afgebreekte takke wat weer op die mak boom geënt word. En die heidene wat hulleself verhef en nie in die geloof volhard nie, sal weer van die mak boom afgebreek word.

Hier kom nog iets by. As die Here die wilde lote op die mak boom kon ent, sal dit soveel makliker wees om die mak lote wat afgebreek is, weer terug te ent. Dit beteken dat Paulus verwag dat dit maklik gaan wees om die Jode te oortuig dat Jesus hulle Messias is. Dit is ook sy eintlike oogmerk met sy sending onder die heidene. Hoe­wel hy die apostel vir die heidennasies is, strewe hy in sy bedie­ning daarna om sy eie mense jaloers te maak en hulle te red (11:13-14). Hy hoop juis dat die heidene wat in Jesus glo, die Jode jaloers sal maak omdat Jesus eintlik hulle eie Messias is.

Paulus is oortuig dat dit maklik kan gebeur. Hulle is tog die mak takke wat pas by die mak boom en dus maklik daarop geënt sal kan word (11:24). Die argument is duidelik. Die Jode ken die Ou Testament as hul eie geskiedenis terwyl heidene in ‘n nuwe, vreemde wêreld moet inkom. Daarom verwag Pau­lus dat ‘n massa Jode tot bekering kan kom. Die “sommige” (11:14) is eintlik die groot meerderheid. Kyk na die betekenis van “sommige” of “party” in 3:3 en 11:17, waar dit elke keer na die groot massa verwys. En verder verwag hy dat dit wel nog in sy leef­tyd kan gebeur. Dit is presies waarvoor hy werk, en waarop sy hele heidensending ingestel is (11:13-15).

Dit beteken dat Paulus nie die bekering van Israel sien as ‘n ge­beurtenis iewers in die verre toekoms wanneer die hele volk eensklaps vir Jesus as die Messias sal aanvaar nie. Dit kan nooit die betekenis wees van “die hele Israel” wat gered word nie (11:26). Een enkele geslag iewers ver in die toekoms is nie “die hele Israel” nie, maar net een geslag.

Daar is Christene wat meen 11:26 volg op 11:25, in plaas daar­van dat 11:26 ‘n verduideliking is van 11:25. 11:26 begin nie met: “en daarna” nie, maar met “en op hierdie manier”. Hier staan nie dat die hele Israel gered sal word nadat die volle getal uit die heidennasie ingegaan het nie. Daar word niks gesê oor wat sal gebeur nadat die volle getal heidene ingegaan het nie (net soos in Luk 21:24). Wat hier gesê word, is hoe die hele Israel gered sal word: as gevolg van Israel se verharding word die evangelie nou aan die heidene verkondig om Israel jaloers te maak. Dus, terwyl die heidene tot geloof kom, moet hulle Israel jaloers maak, en só sal die hele Israel gered word. Dit sal aanhou totdat die volle getal uit die heidennasies ingegaan het. Daar is nie goeie rede om te aanvaar dat daar dan op daardie stadium iets anders as die wederkoms van Christus sal plaasvind nie. Daar is nie sprake van ‘n ander toekoms van Israel nie as dat hulle verharding sal voortduur en net dié wat jaloers gemaak word, gered sal word.

Die vraag is dan natuurlik hoe dit kan beteken dat die hele Israel gered sal word. Dit is moontlik dat ‘n mens ‘n antwoord kry in die slotgedeelte, 11:28-32. Dit eindig met die nadruk op “almal”: “God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.” Hierdie “almal” is die Jode en heidene saam. Elders noem Paulus die gelowiges van die Nuwe Testament ook “Israel” (Gal 6:16). “Die hele Israel” is dus nie die hele volk Israel nie, maar die nuwe gestalte van die volk Israel: die volle getal ge­lo­wiges uit die Jode en die heidene.

Dit alles beteken dat Paulus nie vir Israel as volk ‘n ander toekoms sien nie as dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word en dus weer deel word van die eintlike “Israel”, die gemeente van die Nuwe Testament. Van ‘n aparte toekoms vir die volk Israel is daar nie in die Nuwe Testament sprake nie.

In watter sin is Israel as volk dan ‘n teken van die nabye we­der­koms van Christus? Israel se voortdurende verharding en die feit dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word, moet ons daaraan herinner dat Christus enige oomblik weer kan kom. Van ‘n terugkeer van Israel na die staat Israel kort voor die we­der­koms van Christus is daar nie sprake in die Nuwe Testament nie.

Outeur: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...