Die Groot Geloofswoordeboek: Die Goddelikheid van die Heilige Gees

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Goddelikheid van die Heilige Gees

Die Goddelikheid van die Heilige Gees

Oor die *Heilige Gees bely die kerk dat ook Hy God is, en verder dat Hy ‘n Persoon is, en nie maar net ‘n Goddelike krag of die onpersoonlike krag van God nie. Dit beteken dat die Gees nie maar net die onpersoonlike krag of invloed van God is nie, maar ‘n Goddelike Persoon. Na Hom word oor en oor in persoonlike terme verwys, nie as “dit” nie (dus nie ‘n krag nie), maar as “Hy”, ‘n Persoon. Die dinge wat aan Hom toegeskryf word, is ook dinge wat ‘n persoon doen. Hy sal die dissipels herinner, Hy sal die wêreld oortuig, Hy praat en besluit, wat alles handelinge van ‘n persoon is (Joh 14:17-26; 16:7-14; Hand 13:2; 15:28). Die Goddelikheid van die Gees spreek daaruit dat ook na Hom as “Here” verwys word, en dat dinge wat in die Ou Testament deur God gesê is in die Nuwe Testament aan Hom toegeskryf word (vgl Jes 6:9 met Hand 28:25-26; en Jer 31:31 ev met Heb 10:15-16). Petrus sê dat Ananias vir die Heilige Gees gelieg het, en dat dit beteken dat hy vir God gelieg het (Hand 5:3-4).

 

Drie, en tog Een

Ons het nou na die Bybel gekyk. Uit hierdie getuienisse het die kerk afgelei dat daar drie Persone is wat God genoem word, maar dat daar net een God is. Op een of ander manier moet die drie dus saam die een ware God wees. Die vraag is nou hoe ‘n mens dit kan probeer verstaan.

Baie voorstelle is deur die eeue gemaak en word vandag nog gemaak. ‘n Mens moet altyd aan twee kante waak: óf dat ons die drie so selfstandig teenoor mekaar stel dat ons uiteindelik met drie verskillende Gode sit, óf dat die drie eintlik net drie verskillende gesigte van die een God is.

Ons moet hulle onderskei, maar ons mag hulle nie skei nie. Dit is nie die Vader wat aan die kruis gesterf het. Dit is nie die Seun wat op die Pinksterdag uitgestort is nie. Dit is nie die Gees wat die Seun gestuur het nie. Elkeen het sy eie lewe en werk, al is dit net so duidelik dat al drie voortdurend by mekaar en in mekaar se werk betrokke is. Natuurlik het die Vader ook gely toe Jesus aan die kruis gesterf het. Natuurlik het Jesus op die Pinksterdag saam met die Gees na ons gekom soos Hy beloof het. Maar in elke Goddelike handeling is een Persoon primêr die verantwoordeli­ke Een.

Een Wese, drie Persone

Hoe formuleer ons dit nou? Die kerk het gekies vir twee woorde wat nie in die Bybel voorkom nie, maar eerder in die Griekse wysbegeerte. God is een Wese, maar drie Persone. Hierdie woorde is egter nie op sigself belangrik nie. ‘n Mens kan enige betekenis aan ‘n woord gee. Maar die bedoeling is taamlik duidelik. Daar is net een ware God, maar daar is drie (Persone) wat al drie saam hierdie een ware God is. Hulle kan duidelik van mekaar onderskei word, maar hulle is nooit geskei in die sin dat hulle op hul eie handel nie. Al drie was by die kruis betrokke, al is dit net die Seun wat aan die kruis gehang het. Al drie was by Pinkster betrokke, al is dit die Gees wat uitgestort is en nie die Vader of Christus nie.

Dit gaan nie om die woorde (een Wese, drie Persone) nie, maar om die saak. Dis duidelik dat die evangelie deur Griekeland na die wêreld gekom het. Dis Griekse filosofiese begrippe. As die evan­gelie deur Afrika suid van die Sahara na die wêreld gekom het, sou ons nie hierdie woorde gebruik het nie. Afrika se tale het nie sulke onderskeidings nie. Maar die saak sou dieselfde gebly het: Daar is net een ware God, die God van Israel, maar daar is drie wat op een of ander manier saam hierdie God is.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

OuteurProf Adrio König