Die Groot Geloofswoordeboek: Evangelie

Evangelie – Adrio König

Die woord “evangelie” word gewoonlik in twee verskillende be­tekenisse gebruik. Ons gebruik dit om die hart van die boodskap van die Bybel aan te dui, maar ook vir die vier Evangelies in die Nuwe Testament. Kom ons kyk eers na die evangelie as die hart van die Bybelse boodskap.

“Evangelie” is afgelei van ‘n Griekse woord wat iets soos “goeie nuus” be­teken. Wanneer ons die *boodskap van die Bybel “die evan­gelie” noem, bedoel ons dat dit goeie nuus is omdat dit die ver­haal vertel van God se reddende geskiedenis met mense. Ons praat ook van die heilsgeskiedenis. God maak ‘n geskiedenis van heil wat oor eeue strek, eers direk met die mensdom (Gen 1-11), dan deur Israel met die mensdom (Gen 12-Mal), en dan deur Jesus met die mensdom, Israel ingesluit (die Nuwe Testament). Dit is ‘n geskiedenis waarin God voortdurend die inisiatief neem, voort­durend teleurstellings kry, maar nogtans telkens weer met nuwe inisiatiewe na vore kom. (*Verbond) Uit sy eeue lange geskiedenis met Israel straal sy geduld en sy trou.

Die klimaks is die koms van Jesus Christus. Hy verteenwoor­dig God op ‘n unieke manier. Hy kom herstel God se heerskappy (*koninkryk) nadat die *bose magte die wêreld oorgeneem het. Hy dryf die bose geeste uit die mense en die natuur uit, en gee Homself uiteindelik as die *offer wat die mensdom met God ver­soen. (*Versoening) Dan staan Hy op uit die dood en oorwin só die mensdom se aartsvyand, die *dood, sodat ons deur Hom die *ewi­ge lewe beërf.

Hy roep ons op om in Hom te glo en ons lewe aan Hom toe te wy. Hy versamel sy kinders as ‘n groot familie om Hom wat on­der sy genadige hand leef en Hom verheerlik. Hulle dra sy gena­deboodskap deur die krag van die Gees met woord en daad die wêreld in (*Sending) om in sy Naam die nood van mense te verlig en alle mense uit te nooi om Jesus as *Verlosser te kies, en hulle wag gespanne op sy koms om die stukkende wêreld heel te maak.

Dit is een van baie maniere waarop ‘n mens die *boodskap van die Bybel kortliks kan opsom.

 

Die vier Evangelies

Die tweede betekenis van “evangelie” verwys na die vier Evan­gelies in die Nuwe Testament. Dit is nie vreemd dat hulle “Evangelies” genoem word nie, want hulle het alles te doen met die hart van die boodskap van die Bybel. Hulle verkondig die boodskap van die aardse optrede van Jesus, wat uitloop op sy kruis en opstanding. Hierdie vier boeke vorm ‘n unieke literatuur­soort. Daar is geen ander literatuur wat dieselfde karakter het nie. Hulle is nie bio­gra­fieë nie. Hulle gee byvoorbeeld geen aandag aan die kleiner besonderhede oor die lewe van Jesus wat eie is aan biografieë nie, soos Jesus se voorkoms, sy geaardheid, sy voor- en afkeure, sy eetgewoontes. Hulle is deur en deur gefokus op die verkondiging van die heilsbetekenis van Jesus en word daarom tereg “Evangelies” genoem: goeie nuus.

Ons onderskei tussen die eerste drie Evangelies, wat ons die *Sinoptiese Evangelies noem, en die Evangelie van Johannes, wat die verhaal oor Jesus anders as die eerste drie vertel en waarskynlik ook lank na hulle geskryf is. Terwyl die Sinoptiese Evangelies ongeveer in die middel van die sestigerjare van die eerste eeu ge­skryf is, kan Johannes so laat as die einde van die eerste eeu wees. Johannes word onder andere gekenmerk deur die lang gesprek­ke tussen Jesus en die godsdienstige leiers, en dit is moontlik dat dit juis in ‘n tyd geskryf is toe daar al groot verwydering tussen die kerk en die sinagoge gekom het.

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König