Die Groot Geloofswoordeboek: Geregtigheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Geregtigheid

Geregtigheid

Die begrip “geregtigheid” word meestal in verband met God ge­bruik, maar geld ook in menslike verhoudings. Dit is verwant aan reg-verdigheid. Ge-reg-tigheid is ’n begrip wat dikwels misverstand wek. Dit is ’n regsterm wat met reg te doen het, dit wil sê met dit wat reg is in ’n bepaalde verhouding.

Dit beteken dat daar nie een vaste betekenis is vir geregtigheid nie. Wat reg is, word bepaal deur die aard van die verhouding. Dit is reg dat ’n ouer sy of haar kind tug om­dat ouers gesag oor kinders het en vir hul opvoeding verantwoorde­lik is, maar dit is nie reg dat ’n man sy vrou tug, of ’n vrou haar man nie. Dit is reg dat ’n getroude man en vrou gemeenskap het, maar nie ’n ongetroude man en vrou, of ’n getroude persoon met iemand anders nie. Dit is reg dat ’n mens onvoorwaardelik gehoorsaam is aan God, maar nie aan ’n ander mens of menslike instansie nie om­dat net God ab­solute gesag oor ons het. Geregtigheid, dit wat reg is, wissel dus van verhouding tot verhouding.

Dit is ’n bekende uitdrukking dat God geregtigheid eis; dit be­teken Hy eis dat die verhouding tussen Hom en ons reg sal wees. Dit is ’n ernstige saak. Ons moenie dink God is ’n goedige oupatjie wat maar alles deur die vingers sien nie. God het sy wet aan ons gegee, en Hy verwag dat ons daarvolgens sal lewe. Dit het ook te doen met die heiligheid van God. God verdra nie onreg nie, Hy haat *sonde (Ps 5:5-7). Geregtigheid geskied (dit beteken alles is reg) tussen Hom en ons as ons Hom liefhet en dankbaar en gehoorsaam dien.

Die probleem is egter dat ons dit nie doen soos Hy dit van ons verwag nie. En daarom staan ons onder die oordeel van God – ook ’n regsterm. Daarom is God se geregtigheid ’n bedreiging vir ons.

Hiervoor het Luther in die sestiende eeu gevrees. As hy aan die geregtigheid van God gedink het, het hy in vertwyfeling uit­geroep: Waar kry ek ’n genadige God? Hy kon nie verstaan dat die gelowiges in die Psalms juig oor God se geregtigheid nie. Tel­kens word God se geregtigheid in dieselfde asem gebruik as sy liefde en sy trou (Ps 36:7; 85:11-12). In die vertaling van 1953 lees Psalm 31:2: “Bevry my deur u geregtigheid,” wat in 1983 vertaal is: “Bevry my, want U is getrou.” God se geregtigheid bedreig ’n mens dus nie net nie. Gelowiges juig ook oor sy geregtigheid, en wel om twee redes. In die eerste plek laat Hy reg geskied, wat beteken dat Hy mense help wat veronreg word. Hy word veral die God van die weduwees en weeskinders genoem omdat daar groot onreg aan hulle gepleeg is in die Ou Testament. Hy laat reg aan hulle geskied deur vir hulle om te gee en hulle te versorg.

Maar tweedens skenk Hy ook geregtigheid. Dit het Luther ver­al in Romeine 1:17 gekry. In die 1953-vertaling sê Romeine 1:17 oor die evange­lie: “Want die geregtigheid van God word daarin geopen­baar.” In 1983 lui dit tereg: “In die evangelie kom juis tot open­ba­ring dat God mense van hulle sonde vryspreek.” God gee hulle dus die ge­regtigheid wat hulle voor Hom nodig het. Daar­om lees ons ook van God “wat die goddelose vryspreek” (Rom 4:5). (*Regverdiging)

Sy geregtigheid beteken dus nie net dat Hy geregtigheid (dit wat reg is) eis nie, maar ook dat Hy reg laat geskied aan dié wat veronreg word, en dat Hy geregtigheid skenk aan dié wat dit nie het nie, maar op Jesus Christus vertrou wat vir ons geregtigheid voor God verwerf het. God regverdig ons; dit beteken Hy bring ons in die regte verhouding met Hom as ons op Jesus vertrou.

 

Skrywer: Prof Adrio König