Die Groot Geloofswoordeboek: Gnostiek
Gnostiek – Adrio König
[Hierdie gedeelte moet saam met die Evangelie van Tomas geskryf word.]
Dit beteken die Evangelie is so geskryf dat ’n mens dit nie moet verstaan nie. Die veronderstelling is dat ’n mens van elders insig of inligting moet kry om dit te begryp. Dit beteken moontlik dat die skrywer ’n groep ingewydes om hom versamel het en dat ’n buitestander deel van die groep moes word om hierdie verborge kennis te kry. Dit is bekend dat daar in hierdie vroeë eeue ’n beweging was wat as die Gnostiek bekend gestaan het en wat beweer het dat net hulle oor die geheime kennis beskik wat mense weer met die Godheid in aanraking kon bring. Hulle het onder andere op die Christelike godsdiens geteer. Sommige navorsers meen dat ons hier met so ’n Gnostiese geskrif te doen het. Die inhoud is dus doelbewus onverstaanbaar omdat die lesers oorreed moet word om deel van die groep te word om die verborge kennis te kry.
Samevatting
As ’n mens die geheelprentjie wat uit die Evangelie van Tomas oor Jesus na vore kom, vergelyk met die ryk verskeidenheid perspektiewe wat ons oor Jesus in die Bybel kry, is die kontras opvallend. Geen dade, geen geskiedenis, geen verduidelikings, geen titels, geen geboorte, dood of opstanding van Jesus nie. Net 114 uitsprake wat nie in konteks geplaas word nie. ’n Arm, kaal prentjie. Dit is dus duidelik ’n geskrif wat sterk selektief te werk gegaan het. Die skrywer wou ’n bepaalde faset van die optrede van Jesus uitlig, waarskynlik sy wysheidspreuke. Dit beteken egter ’n eensydige, lewelose prentjie, iemand wat dinge sê wat gewone mense moeilik kon verstaan.
Dit is dus nie vreemd dat die vroeë Christene nooit oorweeg het om hierdie “Evangelie” in die Bybel op te neem nie.
Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek.