Die Groot Geloofswoordeboek: Godsbewyse
Die Groot Geloofswoordeboek: Godsbewyse – Adrio König
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof.
Die Groot Geloofswoordeboek deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van meer as 500 geloofswoorde.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Godsbewyse
Bestaande pogings
Deur al die eeue was daar mense wat probeer bewys dat God bestaan. Daar is die gedagte dat ’n mens uit die natuur kan aflei dat daar ’n God is. Dink maar net aan al die mooi dinge in die natuur: die blomme, bome, waterstrome. Maar die teendeel is ook waar. Daar is genoeg onveiligheid, wreedheid en ontreddering in die natuur om te “bewys” dat God nie bestaan nie, maar eerder die duiwel: droogtes, orkane, vuurspuwende berge.
Uit die makrokosmos en die mikrokosmos lei mense ook graag af dat God moet bestaan. Die heelal is so onvoorstelbaar groot en beweeg op so ’n ongelooflike wyse, daar is soveel merkwaardige samewerking tussen die gewig en die bewegings van die hemelliggame, alles is so ongelooflik in harmonie dat ’n mens dit onmoontlik kan voorstel sonder om te aanvaar dat daar inderdaad ’n God agter alles is. (*Evolusie) Maar dan weer die teendeel: daar is sulke ontstellende chaos in dele van die heelal, soos die swart gate (black holes) wat een groot bedreiging en verwoesting van alles rondom is, daar is soveel onherbergsaamheid, soveel sonne wat sinloos rondbeweeg, nêrens heen nie, tot dit na miljoene der miljoene jare uitbrand en verdwyn, soveel planete waar geen lewe moontlik is nie, dat die teendeel ook “bewys” kan word: ’n chaosmonster wat willekeurig alles sinloos laat ronddraai.
Ook uit die Bybel probeer mense bewys dat God bestaan. Soms word die profesieë daarvoor gebruik. Die profesieë sou dan so letterlik uitkom dat dit onmoontlik is om te ontken dat daar iemand agter dit sit wat alles presies vooruit bepaal. (*Voorsienigheid) Nogeens is die teendeel ook waar: baie profesieë word vry en op onverwagte maniere vervul, in so ’n mate dat ’n mens soms moet glo dat ’n bepaalde gebeurtenis die vervulling van ’n bepaalde profesie is. (*Profesie)
Pas Godsbewyse by God?
Intussen kan ’n mens beswaarlik verwag om in die Bybel bewyse van God se bestaan te kry. Die Bybelskrywers redeneer nie; hulle vertel verhale, verhale van Israel se ervarings met God. Hulle aanvaar dus eenvoudig sonder enige nadenke dat God bestaan. Die Bybel begin nie met argumente nie, maar met ’n verhaal waarin God die hooffiguur is: “In die begin het God … ” Daar is geen gedagte om Hom eers voor te stel of te bewys dat Hy bestaan nie, nie aan die begin nie, en ook nie later nie. In die Bybel is dit net dwase wat ontken dat God bestaan (Ps 14:1; 53:2), en hoe redeneer ’n mens nou met dwase?
Eintlik is dit ’n vernedering vir God as iemand probeer bewys dat Hy bestaan. Dink jou in dat die koerant ’n artikel op die binneblad het met vyf bewyse dat mnr Mandela bestaan. Dis ’n bietjie belaglik. Wie soek bewyse daarvoor? As die koerant iets sinvols wil doen, plaas hy ’n artikel oor vyf wonderlike dinge wat mnr Mandela die afgelope jaar gedoen het om arm kinders en siek mense te help. Waarom? Niemand wonder of hy bestaan nie; hy het soveel gedoen dat die vraag of hy bestaan nie eens by mense opkom nie.
En God? Dit is nou duidelik waarom die Bybel net verhale vertel oor wat God gedoen het, veral die twee lang verhale oor wat Hy met Israel en in Jesus gedoen het, die eerste verhaal amper
1 000 bladsye, en die tweede vier boeke vol (die Evangelies). Om te probeer bewys dat Hy bestaan, is onvanpas en beledigend.
In die tyd van die Bybel het alle mense geglo daar is gode. Die enigste vraag was: Watter god dien jy? Elke volk het sy eie god gehad, sommige selfs ’n hele paar: ’n god vir elke groot behoefte, soos reën, veiligheid, vrugbaarheid. Net Israel het net een God gehad en hulle het geglo dat Hy, te midde van baie ander gode, die enigste ware God is. En God sou dit self deur sy seën aan hulle bewys, in so ’n mate dat die ander volke na Jerusalem sou stroom om daar te kom kyk wat Hy doen (Jes 2:2 ev; Sag 8:23). Daar was dus wel ’n Godsbewys nodig; nie ’n bewys dat Hy bestaan nie, maar ’n bewys dat Hy die enigste ware God is. En Israel se ongehoorsaamheid het veroorsaak dat Hy dit nie gelewer het nie, dat die volke met Hom gespot het in plaas van om na Jerusalem te stroom (Eseg 36:19 ev).
Maar dit is vandag nie meer soos in Bybeltye nie. God bestaan op ’n ander vlak en ’n ander wyse as mnr Mandela. God se bestaan kan ontken word, en dit word vandag deur sommige ontken. Party glo nie dat daar ’n God is nie (*Ateïsme), en ander sê hulle weet nie. (*Agnostisisme) Selfs dit wat God in Jesus gedoen het, kan betwyfel word. Dit is al in Jesus se tyd radikaal ontken deur die godsdienstige leiers wat Hom selfs gehaat en laat kruisig het.
Daarom is daar inderdaad gedagtes oor die vraag of ons kan bewys dat God bestaan. Maar wat bedoel ons met “bewys”? ’n Mens kan bewys 2+2=4. Maar God bestaan op ’n ander vlak. Bewyse het met beheer te doen. Ek kan iets bewys wat onder my beheer is. Ek kan bewys hoeveel geld ek in die bank het, of hoeveel water ’n boom nodig het, of wat die spoed van ’n motor is. Maar God is bo en buite my beheer. Ek be-“heer” Hom nie. Hy is self “Heer”.
En tog is dit moontlik om sinvol oor Hom te praat omdat ons glo dat Hy betrokke is by wat op aarde gebeur. Dit sal eintlik ’n mosie van wantroue in Hom wees as ons bely Hy het alles gemaak en Hy onderhou sy skepping, maar ons kan nêrens enige spore van Hom kry nie.
Spore van God
Is daar spore van God, of Godsaanduidings? As ons na die skepping kyk, is dit sinvoller om te aanvaar daar is ’n God as om dit nie te aanvaar nie? Die heelal is so ongelooflik fyn saamgestel, en die verhouding tussen sekere gasse en elemente op aarde is in so ’n fyn balans dat die kleinste afwyking lewe op aarde onmoontlik sou maak. Die ontstaan van lewe is so ingewikkeld, die blote samestelling en werking van ’n sel so kompleks, dat dit inderdaad sinvoller is om te aanvaar dat intelligensie daaragter sit as dat dit toevallig ontwikkel het. Trouens, dit vra ’n heel besondere vorm van intelligensie! (*Evolusie)
Natuurlik is die teenvraag dan: Wat van die vreeslike chaos, bedreigings en sinloosheid in die heelal? Maar daar is genoeg getuienis in die Bybel dat daar van die begin af chaos in die *skepping was. Daar is in die Bybel selfs sprake van *chaosmagte wat van die begin af deur God getem is. Die Bybel bied oorvloedig ruimte vir ’n dubbele kyk op die werklikheid: seën én vloek, goed én kwaad, mooi én lelik, orde én chaos.
Tradisionele Godsbewyse
Dit is interessant om ’n oomblik te kyk na die tradisionele Godsbewyse. Die klassieke voorbeeld is die “vyf weë” van Thomas Aquinas. Met “weë” het hy bedoel maniere om te weet dat daar ’n God is.
Die eerste weg: Daar is baie beweging of verandering in die wêreld. Maar alle beweging of verandering moet ’n oorsaak hê, iets of iemand wat die beweging aan die gang sit. As hierdie beweger self ook beweeg word, moet daar nog ’n beweger wees. Die lys kan nie onbepaald voortgaan nie. Iewers moet daar ’n eerste beweger wees wat self nie beweeg word nie. Hierdie onbeweegde beweger (unmoved mover) is God.
Die tweede weg: Elke ding wat gebeur, word veroorsaak. Die oorsaak word self ook weer veroorsaak. Dit kan nogeens nie tot in die oneindige voortgaan nie. Dus moet daar ’n oorspronklike oorsaak wees wat self nie veroorsaak word nie. Dit is God.
Die derde weg: Alle dinge wat bestaan, kan ook vergaan. Hulle bestaan dus nie noodwendig nie; dit is ook moontlik dat hulle nie kon bestaan het nie. Dit beteken dat hulle bestaan veroorsaak moet wees omdat hulle bestaan nie noodwendig is nie. Die een wat hulle bestaan veroorsaak, moet self egter noodwendig bestaan, anders is sy bestaan ook veroorsaak. Hierdie onveroorsaakte oorsaak van alle dinge is God.
Die vierde weg: Ons neem dinge waar wat nie volmaak is nie, maar net gedeeltelik volmaak. ’n Ding is net amper rond, in ’n mate rond, nooit volmaak rond nie. Iets is in ’n mate swaar, in ’n mate hard. Maar dit veronderstel iets wat absoluut is, en dit is God.
Die vyfde weg: Alle dinge werk sinvol saam, maar dit is net moontlik omdat daar ’n absolute intelligensie daaragter is. Hierdie intelligensie is God.
Thomas het nie gepraat van Godsbewyse nie. Hy het dit aangebied as “vyf weë na God”. Dit is baie kort opsommend hier behandel, eintlik net om ’n mens ’n idee te gee van hoe vreemd dié soort redenasie aan die Bybel is. Dit is eenvoudig heeltemal ’n ander styl as die Bybel se manier om oor God te praat. In die Bybel word van God vertel, nie oor Hom gefilosofeer nie. Godsbewyse oortuig ook nie mense om hulle lewe aan die Here te wy nie. En dit is die doel van die *boodskap van die Bybel.