Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (3)

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (3)

  • Bekering

Bekering kan in minstens twee verskillende beteke­­nis­se ge­bruik word: as ‘n eerste bekering, wat beteken dat ‘n mens vir God kies en op Hom begin vertrou, en as ‘n voortgaande be­kering, wat baie nou verwant is aan *heiligmaking.

Bekering as ‘n eerste bekering kom veral in die Nuwe Tes­tament voor waar sprake is van heidene wat hulle tot God bekeer. Paulus skryf van die Tessalonisense, wat heidene was, dat hulle hulle “van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien” (1 Tess 1:9). Dit is dus die soort bekering wat veral voorkom in situasies waar mense ‘n ander godsdiens het en dan die evangelie hoor en hulle tot God bekeer. Hierdie bekering is dus ‘n wegdraai van vals gode na die ware God. Hierdie mense dien ná hul bekering ‘n ander God as voorheen, ‘n nuwe God.

Bekering as ‘n voortgaande bekering kom veral in die Ou Tes­tament voor wanneer die profete die ongehoorsame volk van God oproep om hulle van hulle sonde te bekeer en die Here te gehoorsaam. Hulle moet hulle van bepaalde sondes bekeer, en wel omdat hulle die volk van God is. In hierdie geval gaan dit dus om mense wat klaar die ware God dien, maar juis daarom aan Hom gehoorsaam moet wees en hul sonde los. Dit is dus duidelik dat die heidene wat hulle bekeer ook uiteindelik hierdie oproep sal hoor nadat hulle God deur ‘n eerste bekering begin dien het, maar dan soos Israel in sonde val. Dan beteken bekering ook vir hulle dat hulle opgeroep word om hulle sonde te los juis omdat hulle nou deel is van die volk van God.

In gemeentes vandag is dit nie altyd so maklik om waterdig tussen hierdie twee vorme van bekering te onderskei nie. Ge­meentes be­staan meestal nie meer soos in die tyd van die Nuwe Testament uit mense wat so pas tot bekering gekom het nie. Veral in die historiese kerke is dit eerder ‘n mengsel van gelowiges en ongelowiges. Die prediking en pastoraat moet daarmee rekening hou. Beide vor­me van bekering moet dus gepreek word. Daar sal altyd gelowiges wees wat klaar aan die Here behoort, maar hulle juis daarom van hul sonde moet bekeer. Maar daar sal in die meeste gevalle ook al­tyd mense wees wat nog nooit regtig hul lewe vir die Here gegee het nie en wat tot ‘n eerste bekering opgeroep moet word sodat hulle Hom kan begin dien.

In gevestigde gemeentes sal daar gewoonlik nie mense wees wat regtig ‘n ander god gedien het nie. Dit sal mense wees wat in ‘n bepaalde Christelike kerk en tradisie grootgeword het, maar nooit bewustelik op die evangelie gereageer het en ‘n standpunt by Jesus ingeneem het nie. ‘n Mens kan in allerlei teg­niese redenasies betrokke raak of so ‘n persoon regtig ‘n eer­ste bekering nodig het of eenvoudig as gedoopte met sy of haar voortgaande bekering moet begin. Maar die kool is die sous nie werd nie. Mense wat nie in ‘n bewuste verhouding met die Here leef nie, moet opgeroep word om ‘n oorgawe aan Hom te maak.

 

  • Geloof

Veral Johannes en Paulus verkondig dat ons moet glo en dat ons deur geloof gered word (Joh 1:12; 3:15-18; 5:24; 6:40). Paulus se term is dat ons deur die geloof geregverdig/vrygespreek word. (*Reg­ver­diging)

Beteken dit dat geloof baie belangrik is? Ja en nee.

Ja, geloof is baie belangrik. Dis die manier waarop God ons wil red. Dis net ‘n ander woord vir vertroue of vir oorgawe aan Hom, of om jou lewe in sy hande te gee, of om Jesus aan te neem.

Maar dan besef ons ook dadelik dat dit nie ons geloof of ons ver­troue of ons oorgawe aan Hom is wat ons red nie. Dit is Hy wat ons red as ons glo. Hy is die belangrike Een. Ons geloof is maar net die middel. In daardie sin is geloof weer nie belangrik nie.

‘n Mens kan dit ook nog weer anders formuleer. Ons geloof is nie die grond van ons redding nie. Jesus se kruisdood is die grond van ons redding. Ons geloof is net die manier waarop ons aan Jesus se kruisdood deel kry.

Nog weer anders gesê: Om te glo beteken om te bely dat ons in onsself verlore is, dat ons heil/redding van buite onsself moet kom, en dat dit inderdaad van God se genadedaad in Jesus af kom. Ge­loof is dus nie ‘n besondere bydrae wat ons lewer om gered te word nie. Om te glo is eerder om te erken dat ons bankrot is in onsself en net van buite af hulp kan kry, of liewer van Bo af.

Maar moet nou nie weer op hol gaan omdat jy dit nooit alles presies só verstaan het en nou dink dat jy dus dalk nooit regtig geglo het nie. Dis net ‘n verfynde verstaan van wat geloof is. As jy op Jesus vertrou, is jy gered, hoe min jy ook al daaroor gedink het.

Geloof word soms as ‘n gawe van God beskou. En daar is ‘n sin waarin alles wat van ons verwag word, eintlik gawes van God is. Maar soms word die gedagte van geloof as ‘n gawe van God op so ‘n wyse aan ‘n spesifieke siening oor die *uitverkiesing verbind dat ‘n mens die indruk kry dat ‘n ongelowige maar moet sit en wag tot hy of sy eers die gawe van geloof van God ontvang het, en dan eers kan begin glo en tot bekering kom. Die 1953-vertaling van Efesiërs 2:8 wat daarop neergekom het dat geloof ‘n gawe van God is, was nie ‘n goeie vertaling nie. Die 1983-vertaling het dit verander.

Daarom moet ons aanvaar dat ons in staat is om te glo wanneer ons die evangelie hoor, en dat dit ons verantwoordelikheid is om te glo. Ons sal nie by wyse van spreke eendag vir God kan beskuldig dat ons nie kon glo nie omdat Hy ons nooit die gawe van geloof gegee het nie. As iemand verlore gaan, sal dit nie God se skuld wees nie. Hy wil hê dat almal gered word (1 Tim 2:4).

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...