Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (7)
Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (7)
- Wedergeboorte (Nuwe lewe) (*Kind/Kinders van God)
Soos die ander begrippe oor die heilsweg is wedergeboorte ‘n radikale woord. Dis eintlik skokkend om te dink ‘n mens moet nog ‘n keer gebore word. Jou eerste geboorte was nie goed genoeg nie. ‘n Motor met ‘n paar lelike stampe kan nog by die duikklopper reggeklop word. Maar as jy die motor weer wil opsmelt om dit heeltemal oor te maak beteken dit dit was onherstelbaar beskadig. Dis wedergeboorte. God moet ons oormaak.
‘n Paar sake is belangrik. Die eerste is dat dié woord eintlik baie min in die Bybel voorkom, net ses keer (Matt 19:28; Joh 3:3; Tit 3:5, 7; 1 Pet 1:3, 23 – in ‘n paar gevalle net in die 1953-vertaling). Dit skep die indruk dat dit nie eintlik baie belangrik is nie. Ook omdat ons nie in enige een van hierdie plekke ‘n goeie beeld kry van wat dit beteken nie. Maar dis ‘n misverstand. Dieselfde gedagte kom oor en oor in ander woorde voor. Dink maar net aan Paulus wat skryf dat ons nuwe mense of ‘n nuwe skepping is, en selfs dat ons nog dag na dag verder vernuwe moet word, en Johannes wat skryf dat ons uit God gebore is en kinders van God is.
Die gedagte dat ons totaal nuut gemaak is en heeltemal ‘n ander soort lewe moet lei, kom sterk by Paulus na vore. Dink maar aan die radikale uitspraak: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God” (2 Kor 5:17-18). Trouens, dit kan selfs vertaal word met: Iemand wat aan Christus behoort, is deel van ‘n nuwe skepping. Die totale ou orde/tydperk is verby, ‘n totaal nuwe orde/tydperk het gekom. Dit oue en die nuwe is dus nie maar net die individu se ou lewe wat verby is en nuwe lewe wat begin het nie. Deur Jesus het die totale werklikheid ‘n nuwe tydperk ingegaan, die tyd waarin die koninkryk van God op hande is.
Natuurlik sluit dit ons eie individuele lewe in. Daarom die uitgebreide vermanings in Efesiërs en Kolossense. Deur die geloof in Jesus het ons ‘n nuwe lewe ontvang. Ons is nuwe mense. Daarom moet ons ‘n nuwe lewe lei, anders as die ou lewe in die sonde (Ef 2:10; 4:20 ev; Kol 3:9 ev). En dit word baie konkreet gemaak met lyste sondes waarmee ons moet ophou, en lyste nuwe dinge wat ons lewe moet vul. Lees dit gerus.
Die gedagte dat ons kinders van God is, kom nie op baie plekke in die Nuwe Testament voor nie, maar tog ‘n paar keer in Romeine 8 en 9, in Galasiërs 3 en 4, en in 1 Johannes 3. By Paulus kom die pragtige gedagte voor dat ons nie net kinders van God is nie, maar selfs erfgename van God, wat beteken dat ons saam met Jesus gaan erf. In dieselfde verband word Jesus dan ook ons broer genoem (Rom 8:14 ev; Gal 4:7; Rom 8:29).
Veral Johannes ontwikkel die gedagte van kindskap verder (1 Joh 2:28-3:10). En dis interessant dat juis hy dit doen omdat dit ook juis hy is wat bekend is vir die begrip “wedergeboorte”.
Johannes begin met “Kyk”, wat ‘n uitroep van verbasing is. Dis eintlik ongehoord. Mense wat sondaars is, kom in die allernouste verhouding denkbaar met God: kinders! Dit is dus nie vreemd nie dat hy ‘n interessante toevoeging maak: “en ons is dit.” Dis asof hy wil sê “Kind van God” is nie maar net ‘n titel nie, dis die werklikheid.
Dit ondersteun hy dan verder met die gedagte dat ons “uit God gebore is” en dat “die saad van God” in ons bly (1 Joh 3:9, 1953-vertaling). Dit kom ook voor in sy Evangelie: ons het die reg om kinders van God te word, want “ons is uit God gebore” (1:12-13, 1953-vertaling) of God is ons Vader (1983-vertaling).
Maar daaruit ontwikkel hy dan ‘n merkwaardige gedagte, iets soos “aardjie na sy vaartjie” (‘n kind moet na sy pa aard). As ons kinders is, sal ons by ons Vader moet pas. Daarom is dit nie vreemd dat die wêreld ons nie ken nie. Hulle ken Hom nie (1 Joh 3:1). “Ken” beteken hier iets soos “verstaan”: die wêreld verstaan nie ons manier van lewe en veral ons lewenswaardes nie omdat ons oorgeskakel het na God se waardes, en dit lyk baie anders. Of lyk dit in jou lewe regtig so anders?
Daar kom ‘n tweede gedagte by: omdat Jesus die Seun van God is en ons is kinders van God, moet daar tussen ons en Hom ‘n soort ooreenkoms wees. Wanneer Jesus kom, sal ons “soos Hy wees”, maar intussen moet ons iets daaraan doen: ons moet ons lewe so rein hou soos Hy rein is (1 Joh 3:2-3). Hierdie “soos” laat ‘n mens na jou asem snak, maar dit word baie in die vermanings van die Nuwe Testament gebruik en is ‘n geweldige gedagte: tussen ons en Jesus, en selfs tussen ons en God, moet daar ‘n soort ooreenkoms wees. En dis ook nie heeltemal so vreemd nie, ons is dan sy beeld, of ons is tenminste veronderstel en bedoel om sy beeld te wees. (*Beeld van God)
Die pad wat Johannes dan hier verder loop in terme van die totale onaanvaarbaarheid van sonde in ons lewe (3:4-9), is enersyds volkome logies, maar andersyds byna te veel om waar te wees. (*Kind/Kinders van God, *Perfeksionisme)
Skrywer: Prof Adrio König