Die Groot Geloofswoordeboek: Israel
Die Groot Geloofswoordeboek: Israel
Israel
Israel is die volk wat die Here uitverkies het om sy volk te wees. Hy sal hulle God wees wat vir hulle sorg, en hulle sy volk wat Hom dien. (*Verbond) Maar daar is misverstande moontlik. Israel was nie ‘n bestaande volk wat deur die Here gekies is en wat Hy sy volk gemaak het nie. Daar was glad nie so ‘n volk nie. Hy het Abraham en Sara wat uit die Ooste gekom het, uitgekies om uit hulle vir Hom ‘n nuwe volk voort te bring. En onthou, Hy het gewag tot dit menslik nie meer moontlik was vir hulle om ‘n kind te hê nie. Toe eers is Isak gebore. (*Hoop)
Dit beteken ‘n paar dinge. Soos God die wêreld uit niks geskep het, skep Hy as’t ware uit niks ‘n nuwe volk. Later sal Hy ook “niks” (geen lewe) uit die dood opwek. (*Opstanding)
Die beteken ook dat Israel nie ‘n eie bestaan gehad en daarna toe nog iets bygekry het, naamlik hulle verhouding met God nie. Hulle het net een bestaan gehad: hulle was die volk van God.
Omdat God nie die werk van sy hande laat vaar nie, beteken dit verder dat Hy met sy volk sal aanhou. Hy is geduldig. (Geduld by *God) Dit blyk duidelik uit die dekades, ja, eeue wat Hy volhard om Israel deur die profete tot bekering te roep. Selfs die vreeslike *ballingskap is nie om hulle te vernietig nie, maar om hulle tot besinning te probeer bring. Daarom bring Hy hulle terug en laat hulle oor begin. Die stad en die tempel word herbou.
Dit laat ‘n mens vermoed dat Hy ook tydens en ná die tyd van die Nuwe Testament met hulle sal aanhou. Israel word wel verwerp omdat hulle die *Messias verwerp het (Matt 21:43; Rom 11:15), maar dit beteken net dat hulle uit hul uitsonderingsposisie verwerp is, nie dat die deur van die heil vir hulle toegemaak is nie. As die evangelie na die heidene gaan, is dit juis om Israel jaloers te maak op die feit dat die heidene nou met hulle Messias wegloop, dat die kerk nou vol heidene sit terwyl God alles by Israel begin het. (Israel se toekoms onder *Tekens van die tye)
Hierby moet ons onthou dat die heidene wat tot geloof kom, nie ‘n nuwe volk van God vorm nie, maar op die Israel van die Ou Testament geënt word terwyl die ongelowige Jode takke is wat afgebreek word (Rom 11). Eintlik moet ‘n mens dus ná die dood van Jesus nie meer van die Jode as “Israel” praat as jy met “Israel” bedoel “die volk van God” nie. Die kerk is nou Israel (Gal 6:16), en die kerk bestaan uit alle gelowige Jode én heidene.
Daar is ‘n sin waarin presies dít natuurlik van die begin af die doel van God was. Israel moes die heidene jaloers maak op hulle God. As Israel aan Hom gehoorsaam was, sou Hy hulle só seën dat die heidene na Jerusalem sou stroom om te kom kyk. En só sou alle volke dan die Here in Jerusalem kom dien (Gen 12:3; Jes 2:2-5). Dan sou alle gelowige Jode en heidene saam Israel gevorm het. Deur Israel se ongehoorsaamheid het dit nooit voor die koms van Jesus gebeur nie. En, ironies genoeg, óók deur Israel se ongehoorsaamheid gebeur dit nou ná die koms van Jesus dat heidene in groot getalle deel word van “Israel” (Rom 11:31).
‘n Mens kry iets van dieselfde beginsel in verband met Abraham. Hy word nie langs die pad vervang met ‘n ander voorvader van die gelowiges nie. Hy is die vader van alle gelowiges. Ons word nog altyd ingelyf in God se verbond met hom, want dis die verbond van die genade en die geloof (Rom 4:16). Gelukkig dat dié verbond nooit verander of vervang is nie. (*Abrahamverbond, *Doop)
Daar is dan ook nie in die Nuwe Testament ‘n ander toekoms vir die *Jode as om tot bekering te kom nie. En dit is ons taak as heiden-Christene om hulle jaloers te maak (Rom 11).
Doen jy iets daaraan?
Skrywer: Prof Adrio König