Die Groot Geloofswoordeboek: Joodse Feeste

Die Groot Geloofswoordeboek: Joodse Feeste

Joodse feeste

  • Die feeste wat in verband met die Sabbat staan Die groot feeste Die Groot Versoendag

Daar was baie Joodse feeste. Dit is nie korrek om te dink daar was net sewe nie. Maar dis wel waar dat die getal sewe heeltemal oorheersend is in die kalender van feeste.

•             Elke sewende dag was die Sabbat.

•             Elke sewende maand was ‘n heilige maand.

•             Elke sewende jaar was ‘n Sabbatsjaar.

•             Na 7 x 7 jare (49 jaar) is die Jubeljaar gevier – dus elke 50ste jaar.

•             Die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brode is veertien (2 x 7) dae na die begin van die maand gevier en die Fees van die Ongesuurde Brode het sewe dae geduur.

•             Die Pinksterfees was 49 dae (7 x 7) na die Paasfees.

 

Die Joodse feeste kan in drie groepe ingedeel word:

1.            Dié wat in verband staan met die Sabbat.

2.            Die groot feeste.

3.            Die Groot Versoendag

 

  • Die feeste wat in verband met die Sabbat staan

Die Sabbat

Elke sewende dag was Sabbat. Daar is geen aan­duiding dat die aartsvaders al die Sabbat gehou het nie. Israel begin skynbaar eers tydens die uittog daarmee. Volgens die een weergawe van die Tien Gebooie is dit onderhou in herinnering aan God se rus op die se­wende dag na die skepping (Eks 20). Volgens die ander weergawe is dit ter herinnering aan die uittog (Deut 5).

Dit is ‘n dag van volkome rus, selfs vir die slawe. Dit was nie in die eerste plek ‘n godsdienstige dag, soos ‘n dag van fees­vierings by die tempel nie, alhoewel die daaglikse brandoffer van ‘n lam op die Sabbatdag verdubbel is, en die gebruik later ont­wikkel het om op die Sabbat *sinagoge toe te gaan waar hulle wel gods­diens­oefeninge gehad het, soos ons dit nog in die tyd van Jesus en later ook kry (Luk 4:16). Maar die wette rondom die Sabbat was oorspronk­lik eensydig ingestel op rus van daaglikse werk (Eks 20:8-10; 23:12). Daarom het daar ook nie tydens die uittog op die Sabbat manna geval nie (Eks 16:22 ev), en die Jode kon nie hulle woon­plekke ver­laat of ‘n vuur aansteek nie (Eks 35:3). Die verbre­king van die Sabbats­wette was strafbaar met die dood (Eks 31:12-15). Hierdie is maar net ‘n paar van die talle wette wat op die Sabbat betrekking het.

Na die *ballingskap is daar nog talle ander wette bygevoeg in ‘n poging om die Sabbat so streng te onderhou dat so ‘n ver­nietigende straf van God soos die ballingskap hulle nooit weer sou tref nie (Neh 13:15 ev, veral v 17-18; Jes 56:1-8). Dit het groot­liks aanleiding gegee tot die erge vorme van *wettisisme waarteen Jesus in opstand gekom het.

Jesus het telkens met die Joodse leiers oor die Sabbat gebots (Luk 6:1-11; 13:10-17; 14:1-6). Dit het nooit gegaan oor die feit dat hul­le dit gevier het nie, maar eerder oor die manier waarop hulle dit ge­doen het. Sy beginsel dat die Sabbat vir die mens gemaak is en nie die mens vir die Sabbat nie (Mark 2:27), het beteken dat Hy ruim­te gehad het vir barmhartigheidswerk en noodleniging op die Sabbat.

 

Die Nuwemaan

Dit is moontlik dat daar oorspronklik ‘n ver­band was tussen die getal sewe, die Sabbat en die Nuwemaan. Die maan gaan maandeliks deur vier fases van sewe dae elk, wat beteken dat daar elke sewende dag ‘n Nuwemaansfees gevier is. Die profete het ook ‘n besondere gebruik van die Sabbat en die Nuwemaansfees gemaak, moontlik om met mense te praat (2 Kon 4:23). Op die Nuwemaan is besondere brandoffers en sondoffers gebring.

Die Nuwemaan van die sewende maand

Die sewende maand het ‘n besondere betekenis gehad. Op die eerste dag van hier­die maand is ‘n buitengewone Nuwemaan gevier (Num 29:1-6). Ons lees: “Dit is ‘n dag vol feesvreugde vir julle” (v 1).

 

Die Sabbatsjaar

Elke sewende jaar was ‘n Sabbatsjaar. Die doel was dat die land self moes rus. Dit beklemtoon die feit dat die Sabbat ‘n rusdag was, en nie ‘n feesdag soos die eerste dag van die week (*Sondag) vir Christene nie. Die land self kon nie op die Sabbatdag rus nie; daar­om moes daar ‘n volle jaar van rus kom wanneer niks geplant en geoes mag word nie. In hierdie jaar moes die slawe vrygelaat word en skuld afgeskryf word (Deut 15:1-6). Omdat Israel nie getrou hierdie jaar onderhou het nie, het die ballingskap 70 jaar lank geduur om die land kans te gee om sy agterstallige rus in te haal (2 Kron 36:21). Let nogeens op die getal 7 (70 = 7 x 10).

 

Die Jubeljaar

Na sewe Sabbatsjare volg die Jubeljaar in die 50ste jaar (Lev 25:8-55; 27:17-24). Behalwe dat die Joodse sla­we vrygelaat moes word, moes die grond na die oorspronklike eienaar teruggaan. Daar was besonder interessante gebruike in hierdie verband. Omdat die grond in beginsel aan die Here be­hoort het, kon dit nooit regtig ver­koop word nie (Lev 25:23). Al wat verkoop is, is die opbrengs van die land. Dit het beteken dat die koopprys bepaal is in die lig van die aantal oeste wat oor is voor die volgende Jubeljaar. Grond het dus al goedkoper geword soos die Jubeljaar nader gekom het.

 

  • Die groot feeste

Daar is drie groot feeste wat ‘n uiters belangrike ontwikkeling deurloop het. Dit was natuurfeeste wat oorspronklik direk met die oes (die natuur) in verband gestaan het, maar wat geleidelik met Israel se geskiedenis (God se bevrydingsdade) in verband gebring is. Al drie het onder verskillende name bekend gestaan:

•             die Paasfees saam met die Fees van die Ongesuurde Brode (Eks 12)

•             die Oesfees/die Fees van die Weke/die Pinksterfees/die Fees van die Eerste Vrugte (Eks 23:14 ev; 34:18 ev)

•             die Huttefees of die Insamelingsfees (Lev 23:33 ev)

Tydens hierdie feeste is die jaarlikse oes gevier: die Fees van die Ongesuurde Brode was aan die begin van die koringoes, die Pink­sterfees aan die einde, en die Insamelingsfees was die fees van die vrugte-oes. Maar die Paasfees het by die Fees van die On­ge­suurde Brode bygekom om die verlossing uit Egipte te vier, en die Huttefees het ook die deurtog deur die woestyn op pad na die beloofde land gevier. En uiteindelik het die Christene ook die Oes­fees/Pinksterfees gehistoriseer deurdat ons die koms van die Gees vier wat juis op die dag van die Joodse Pinksterfees uitgestort is.

Hierdie historisering van die feeste is van die uiterste belang. Dit getuig daarvan dat die Ortodokse Jode en die Christene ‘n ver­los­singsgeloof het en nie net ‘n voorsienigheidsgeloof nie. In ons ver­houding met God gaan dit om meer as die oes, meer as die daag­lik­se versorging – hoe belangrik dit ook al is en in hoe ‘n mate dit ook al in die Bybel beklemtoon word. Dit gaan om ‘n lang heilsgeskiedenis waarin God in ons lewe ingekom en ons verlos het, vir ou Israel uit Egipte en ons uit ons sonde. Hierdie verlossing is die wese van ons geloof, die *Voorsienigheid is ‘n wonderlike ekstra.

 

  • Die Groot Versoendag

Die Groot Versoendag is jaarliks gevier (Lev 16; 23:26 ev). Twee bokramme moes as sondeoffer vir die hele volk gebring word, een skaapram as brandoffer, en een bul as soenoffer vir die priesters.

Die vervulling van hierdie feeste in Christus

Sommige van die feeste is op ‘n merkwaardige manier in Christus vervul. Ty­dens die Paasfees stel Hy die nagmaal in as die fees van ons verlossing van sonde. Op die jaarlikse Joodse Pinksterfees word die Gees uitgestort as die een wat die oes kom insamel (Hand 2). Die Groot Versoendag is vervul in Christus wat as dié Hoëpriester dié offer gebring het as versoening vir ons sonde (die Hebreërsbrief). En Christus bring die eintlike rus, die rus van sonde, waarvan die Sabbatsrus ‘n voorteken was (Heb 4:8-11).

 

Skrywer: Prof Adrio König