Die Groot Geloofswoordeboek: Katolieke Kerk, Ortodokse Kerke en die Pous

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Katolieke Kerk, Ortodokse Kerke en die Pous

Katolieke Kerk Pous Ortodokse Kerke

Die eerste kerkskeuring

Vir omtrent 1 000 jaar was die kerk net “die kerk”, daar was geen be­sondere name vir bepaalde kerke nie omdat daar nie ver­skil­len­de kerke was nie. Dit is uit hierdie tyd wat die *Apostoliese Geloofs­belydenis kom waarin ons oor die kerk bely: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk.” Dit beteken dat daar ‘n kerk is, net een, soos daar net een maan of een son is. Dit hoort so, en ons behoort vandag nog ons belydenis so te verstaan. Die Here het nooit in gedagte gehad dat daar ‘n klomp kerke sal wees wat mekaar ook nog opponeer nie.

In 1054 nC het daar egter ‘n skeuring gekom tussen die kerk in die Ooste en die kerk in die Weste. Onder “die kerk in die Ooste” verstaan ons die kerk in die Oos-Europese lande, soos Griekeland, Hongarye, Bulgarye, Rusland, en onder “die kerk in die Weste” die Katolieke Kerk in die Wes-Europese lande.

Na eeue lange verskilpunte oor ‘n hele aantal sake het die skeu­ring uiteindelik gekom oor een enkele klein woordjie wat in Latyn heet filioque en beteken “en vanuit die Seun”. Die kerk in die Weste, wat later die Katolieke Kerk genoem sou word, het hierdie woordjie by ‘n ou belydenis van die kerk bygevoeg. Die belydenis het gelui dat die Gees van die Vader uitgegaan het, wat beteken dat die Gees sy oorsprong in die Vader het. Maar die kerk in die Weste het geglo dat die Gees “ook van die Seun” uitgegaan het.

Om taamlik ingewikkelde redes wou die kerk in die Ooste dit nie aanvaar nie, en daardeur het daar ‘n skeuring gekom wat vandag nog nie geheel is nie. Vandag praat ons van die Katolieke Kerk en die Oosterse of die Ortodokse Kerke. Ons gebruik in hulle geval die meervoud (kerke) omdat hulle van land tot land taamlik selfstandig langs mekaar funksioneer en nie die soort strukturele eenheid van die Katolieke Kerk het nie.

 

Ortodokse Kerke

Die Ortodokse Kerke het nie dieselfde ontwikkelings as die Ka­tolieke Kerk gehad nie. Hulle het geglo dat net die hele kerk saam oor leerkwessies en belydenis kan besluit, en daarom het hulle by die ou belydenisse bly staan en nooit nuwe belydenisse oor nuwe probleme geformuleer nie omdat die hele kerk nie meer saam was nie.

 

Katolieke Kerk

Dit word verkeerdelik (en soms ook ‘n bietjie minagtend?) die Roomse Kerk of die Rooms-Katolieke Kerk genoem omdat hulle sentrale gesag in die Vatikaanstad in Rome gesetel is. Die woord “ka­to­liek” beteken “algemeen” en word in ons belydenis gebruik: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene (ka­to­­lieke) kerk, die gemeenskap van die heiliges.” In dié sin bely ons saam met alle ander Christene dat ons (deel van) die alge­mene (katolieke) kerk is wat oor die hele aar­de versprei is. Maar tegnies word hierdie spesifieke kerk die Kato­lieke Kerk genoem. (*Algemeenheid van die kerk)

Die Katolieke Kerk is die grootste Christelike denominasie, met meer as een biljoen lidmate wêreldwyd. Dit is die enigste kerk wat wêreldwyd as een organisasie bestaan. Die ander tradisies het ver­skillende kerklike organisasies in die verskillende lande, soos verskillende Gereformeerde Kerke wat in die verskillende lande on­afhanklik van mekaar funksioneer. Maar die ganse Ka­tolieke Kerk is verenig onder die leierskap van die pous.

Net soos die Ortodokse Kerke maak hierdie kerk daarop aan­spraak dat hy die voortsetting is van die oorspronklike kerk wat deur die apostels in Handelinge begin is. Vir baie lank het hy homself ook as die enigste ware kerk beskou, maar hy het in die laaste halfeeu meer erkenning aan ander kerke begin gee. Dit is die kerk waarteen die Kerkhervormers soos Luther en Cal­vyn in die sestiende eeu in opstand gekom het. Die Kerkher­vor­mers (*Hervorming) was oortuig dat die Katolieke Kerk in die Middeleeue so ver van die waarheid afgedwaal het dat hulle nie meer die ware kerk kon wees nie. Daarom het die Her­vor­mers daarop aanspraak gemaak dat hulle die ware kerk ver­teen­woor­­dig omdat hulle die evangelie glo en verkondig soos dit oor­spronk­lik deur Jesus en die apostels aan ons oorgelewer is in die Nuwe Testament. Hulle het baie negatief oor die Katolieke Kerk geoordeel. Hulle het selfs na die pous as die *antichris verwys.

Ons kan dit nie meer vandag soos hulle doen nie omdat daar groot veranderings in hierdie kerk gekom het, veral tydens en na die tweede Vatikaanse Konsilie (1962-’65). Die pous is vandag ‘n simbool van die evangelie, hoe vreemd sommige van sy oor­tuigings ook al vir baie Christene is.

Alhoewel die Katolieke Kerk wêreldwyd een massiewe or­ga­nisasie is, is daar verskillende ordes of groeperings wat onder­ling hulle eie beklemtonings het. Hulle het dit egter reggekry om al hierdie groeperings onder een hoof, die pous, verenig te hou. Daar­mee het hulle aan die res van die Christene ‘n wonderlike voor­beeld gestel van eenheid in verskeidenheid, iets wat die Pro­testantse Kerke nooit aangeleer het nie. Die Protestante laat elke keer toe dat verskille hulle uitmekaar skeur en van mekaar verwyder, en so­dra ‘n groep ‘n eie selfstandige organisasie het, word hereniging uiters moeilik. Die kinders van die Hervorming vertoon ‘n patetiese prentjie van verdeeldheid aan die wêreld, wat die teenoorgestelde is van wat Christus bedoel het. (*Eenheid van die kerk)

 

Pous

Die pous is die leier van die Katolieke Kerk. Daar is twee ver­skillende sisteme van kerkleiding. Daar is kerke wat, soos die Ge­reformeerde Kerke, glo dat die leidende figure (ampte) in die kerk gelyk is. In die Gereformeerde kerkregering is daar drie be­son­dere ampte: *predikant, *ouderling en *diaken. (*Amp) Hier­die drie is gelyk en behartig saam die leiding in die kerk. Maar daar is baie kerke wat een persoon aanstel om die leiding te neem soos die *Charismatiese kerke en die *Katolieke Kerk. In die Ka­to­lie­ke Kerk is dit die pous. Onder hom dien die biskoppe, priesters en diakens.

‘n Vrou kan nie pous word of ‘n be­sondere amp (biskop of pries­ter of diaken) in die Katolieke Kerk beklee nie. Vrouens kan wel be­sondere dienste verrig, soos non­ne, maar hulle kan geen ge­sag in die kerk uitoefen nie. Die pous kan ook nie getroud wees nie; geen ampsdraer in die Katolieke Kerk mag trou nie. Hulle moet die “*selibaat” beoefen. Die pous word gekies uit die hoogste groep bis­koppe, die kardinale. Hy word lewenslank tot hierdie amp verkies.

Die Katolieke is oortuig dat die pous die opvolger van Petrus is. Hulle beskou Petrus as die eerste pous. *Petrus was inderdaad die leier onder die dissipels, en Jesus het aan hom besondere erkenning gegee. Die Katolieke glo dat Jesus Petrus aangewys het as die rots waarop Hy sy kerk sal bou (Matt 16:18, alhoewel baie Protestantse Christene nie met hierdie uitleg saamstem nie) en ook aan hom ‘n besondere verantwoordelikheid teenoor die an­der dissipels en die gelowiges in die algemeen gegee het (Luk 22:32; Joh 21:15-19).

Ons kry nêrens in die Bybel die indruk dat Petrus opge­volg moes word nie. Protestantse Christene glo dat sy amp, soos dié van die ander apostels, uniek was en nie op iemand ná hulle oor­ge­gaan het nie. Dit kon ook nie, omdat dit ‘n vereiste was dat iemand die Here ná sy opstanding moes gesien het om ‘n apostel te word (Hand 1:21-22). Daar was ná die apostels nie meer sulke mense in die kerk nie.

Die ander vraag wat die meeste ander Christene het, is dié oor die onfeilbaarheid van die pous. Beteken dit dat die pous nooit ‘n fout kan maak nie? Nee. Die Katolieke Kerk leer net dat die pous nie ‘n fout kan maak as hy amptelik (ex catedra) ‘n uit­spraak maak oor die leer van die kerk nie. Hulle beroep hulle op die belofte dat die Gees die kerk in die hele waarheid sal lei (Joh 16:13). As leier van die kerk sal hy dan altyd die waarheid uitspreek oor die leer van die kerk. Protestante vra egter hoe dit dan strook met wat vir ons lyk na opsigtelike dwalings in die ge­skiedenis van die Katolieke Kerk.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...