Die Groot Geloofswoordeboek: Modernisme

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Modernisme

Die Modernisme staan tussen die vroeëre Antieke Tye en die he­dendaagse *Postmodernisme. Daar is baie maniere om hierdie tyd­perke teenoor mekaar te stel. Teenoor die onderdanigheid aan ge­sag wat kenmerkend van die Antieke mens sou gewees het, staan die moderne mens wat volwasse geword het, wat self dink en besluit, wat dinge uitredeneer en bewys. Maar teenoor die se­ker­hede wat deur hierdie Modernisme tot stand gekom het, sou die Postmodernisme nou weer staan met sy relativering van alle waar­heid. Waarheid sou nou wees dit wat vir my waar is, sonder dat daar enige absolute waarheid is wat vir alle mense geld.

In die Antieke Tye het mense in bonatuurlike dinge geglo, soos wonderwerke en die opstanding. In die Moderne tye het die men­se net dit wat bewys kan word, as geldig aanvaar. Die na­tuur­we­tenskappe met hulle duidelikheid en eksaktheid was die ideaal. Die Postmodernisme relativeer glo nou weer alles. Daar is nie absolute sekerheid nie, nie die bonatuurlike waarheid van die Antieke Tye nie, en ook nie die natuurlike waarheid/geldig­heid van die Mo­dernisme nie.

‘n Mens moet dit nie so verstaan dat die een tydperk die ander opvolg nie. En ook nie dat die verskillende tye, of liewer le­­wens­houdings, netjies omskryf en teenoor mekaar gestel kan word nie. Daar is groot verskille binne elke lewenshouding, en baie kante van waar sulke lewenshoudings bekyk kan word. Dit is ‘n totale oorvereenvoudiging dat mense nou nie meer in bo­natuurlike dinge glo nie. Dit is wel waar dat daar ‘n klompie Westerlinge is wat beweer hulle glo dit nie meer nie. Maar daar is al lankal sulke men­se.

‘n Bepaalde lewenshouding is eerder ‘n mengsel as ‘n suiwer tipe. Net soos die telefoon nie die posdiens vervang het nie, en die e-pos nie die faks nie, maar daar net eenvoudig meer en meer geriewe kom wat elkeen sy eie nut het, bestaan verskillende le­wenshoudings langs mekaar en selfs deurmekaar, selfs in een per­soon se oortuigings.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print