Die Groot Geloofswoordeboek: Pinksterkerke/Charismatiese Kerke
Die Groot Geloofswoordeboek: Pinksterkerke/Charismatiese Kerke
Pinksterkerke • Charismatiese kerke
Alhoewel hierdie twee groepe kerke baie in gemeen het, is daar ook duidelike verskille. Die eerste verskil is die tyd van ontstaan. “Pinkster” (soos die Pinksterkerke soms genoem word) het teen die begin van die vorige eeu in Amerika ontstaan, terwyl die Charismatiese beweging ‘n halfeeu later, in die laat 1950’s begin het.
Pinksterkerke
Die Pinksterbeweging het in die VSA ontstaan, aanvanklik in 1901 in Topeka, Kansas, onder die Metodistepredikant Parham, en daarna in 1906 in Azusastraat in Los Angeles, Kalifornië, in ‘n ou Metodistekerkgebou, onder die leiding van ‘n heiligheidsprediker William Seymor. Dit was van die begin af gekenmerk deur die *doop met die Gees en *spreek in tale, en ander *gawes van die Gees. (*Pinksterspiritualiteit)
Charismatiese kerke
Die Charismatiese beweging het ook in die VSA begin in historiese kerke wat nie verband met die Pinksterbeweging gehad het nie. Dit is eweneens van die begin af gekenmerk deur die doop met die Heilige Gees, die spreek in tale en ander gawes. Anders as die Pinksterbeweging wat van die begin af aparte kerke gevorm het, het die Charismatiese beweging aanvanklik in die historiese kerke gebly en in baie gevalle ‘n groot invloed op hierdie kerke uitgeoefen. In Suid-Afrika het dit in die begin van die 1960’s in die Anglikaanse Kerk begin en vinnig na ander historiese kerke uitgebrei. Die sogenaamde *”Afrikaanse kerke” het die sterkste weerstand gebied, en is ook die minste deur hierdie beweging beïnvloed.
Daar is groot ooreenkomste tussen hierdie kerkgroepe, maar ook duidelike verskille. Die een probleem is dat die Charismatiese beweging so wyd vertak het en soveel gestaltes aangeneem het, dat veralgemenings baie moeilik en soms selfs misleidend is. Daar het byvoorbeeld in die 1970’s onafhanklike Charismatiese kerke ontstaan (die sogenaamde denominasionele Charismatiese beweging) wat onderling soms groot verskille openbaar, en ook heeltemal wegbeweeg het van die Charismatiese groepe in die historiese kerke. (*Charismatiese spiritualiteit)
Wat ooreenkomste betref, aanvaar albei groepe die *Four Square Gospel: Jesus is die Verlosser, die Geneser, die Doper met die Gees en die komende Koning. Beide lê groot nadruk op ‘n persoonlike bekeringservaring, die doop met die Gees, die gawes van die Gees, die persoonlike leiding van die Gees en *evangelisasie.
Wat verskille betref, beskou die Charismatiese beweging nie so algemeen die spreek in tale as bewys van die Geesdoop nie. Dit word meer opsioneel beskou sodat iemand wel met die Gees gedoop kan wees sonder om juis in tale te praat. Die onafhanklike kerke in die denominasionele Charismatiese beweging het nie sterk onderlinge bande met mekaar nie, en in Suid-Afrika is daar die losse groepering van die ICCC, die International Council of Christian Churches. Dit is heel anders as die Pinksterbeweging wat hoofsaaklik ingedeel is in die Apostoliese Geloofsending, die Volle Evangelie Kerk van God en die Assemblies of God.
Terwyl die Pinksterkerke in klein gemeentes georganiseer is en pastore vryelik oor en weer na gemeentes beroep word, het die denominasionele Charismatiese beweging in makrogemeentes ontwikkel wat onder die gesag van een persoon staan; die stigterpastoor wat onafskeidelik aan die gemeente verbonde is, en sonder meer die hoof, die hart en siel van die gemeente is.
Skrywer: Prof Adrio König