Die Groot Geloofswoordeboek: Samaritane
Die Groot Geloofswoordeboek: Samaritane
Samaritane
Die Samaritane is die afstammelinge van die vermenging van Jode en hoofsaaklik Kutiërs. Daar het Jode in Samaria agtergebly na die *ballingskap van die noordelike stamme in 722 vC. Die veroweraars het ander mense, veral mense uit Kuta, ingevoer om die stede van Samaria te bevolk, en hierdie mense en die Jode wat agtergebly het, het ondertrou. Hulle was dus ‘n gemengde bevolking wat die naam van die streek gekry het: Samaritane van Samaria. Hulle het ook ‘n vermengde godsdiens beoefen. Die Kutiërs is “geëvangeliseer” om die God van Israel te dien, maar het ook aangegaan om die gode wat hulle saamgebring het te dien. Dit is die rede waarom die Jode so op die Samaritane neergesien het. Hoe erg hulle die Samaritane geminag het, is duidelik in die beskuldiging van die Jode aan Jesus waar hulle “Samaritaan” en “duiwelbesetene” as sinonieme gebruik (Joh 8:48). En die Samaritane het natuurlik op “paslike” wyse teen die Jode gereageer (Luk 9:51-55). Die ontstaan van hierdie volk vorm ‘n baie interessante geskiedenis (2 Kon 17:24-41).
Skrywer: Prof Adrio König