Die Groot Geloofswoordeboek: Sondeval
Die Groot Geloofswoordeboek: Sondeval
Sondeval
In die geskiedenis van die teologie is baie gemaak van die sondeval. Dit hou verband met die groot rol wat die eerste paar hoofstukke van Genesis in die algemeen in die teologie en in gewone Christene se denke speel. Veral uit Genesis 3 word vreeslik baie afgelei oor die sonde. Dit word die “sondeval” genoem met die betekenis dat Adam en Eva se sonde nie van verbygaande aard was nie, maar hulleself en die hele mensdom saam met hulle skuldig gemaak het voor God. (*Erfsonde) Die hele Ou Testament en Nuwe Testament word dan in die lig van hierdie sondeval verstaan.
Hierdie oorheersende rol wat die eerste hoofstukke van Genesis en veral Genesis 3 in die teologie speel, is nie in harmonie met die res van die Bybel nie. Veral hoofstuk 3 speel prakties geen rol in die res van die Ou Testament nie. Na Eva word nooit weer in die Ou Testament verwys nie, en behalwe in ‘n geslagsregister (1 Kron 1:1) ook nie na Adam nie, selfs nie in Hosea 6:7 nie. Daar is “Adam” ‘n dorp (Jos 3:16).
Israel het hulleself en hulle verhouding met God dus nie in terme van Adam en Eva verstaan nie, maar eerder in terme van Abraham en die uittog. Dit is in skrille kontras met ‘n baie algemene neiging om omtrent alles na Genesis 3 terug te voer.
In die Nuwe Testament word wel na hierdie hoofstukke verwys, maar hulle kry nie ‘n selfstandige betekenis nie. Na die spesifieke inhoud van Genesis 3 word net ‘n paar keer in die Nuwe Testament verwys: na Eva en die slang (2 Kor 11:3; 1 Tim 2:14), moontlik na die slang wat deur Eva se nasate onder die voete vertrap sal word (Rom 16:20), en dan die baie algemene maar uiters belangrike verwysing in Romeine 5.
Die hooftema van Romeine 5 is nie Adam en sy sonde nie, maar Christus en sy geregtigheid. Adam word bygebring om Christus beter te verduidelik. Adam is die stellende trap, Christus die oortreffende trap. Deur Adam se sonde het alle mense onder die oordeel van God gekom, maar deur Christus se gehoorsaamheid word alle mense vrygespreek.
Vir die leer van die *erfsonde is Romeine 5 beslissend, maar Adam het nie ‘n selfstandige rol daarin nie. Al het daar nie regtig so ‘n persoon 6 000 jaar gelede geleef nie, kan hy nog altyd die simboliese betekenis hê dat alle mense onder die oordeel van God staan en net deur Christus gered kan word.
Skrywer: Prof Adrio König