Die Groot Geloofswoordeboek: Tempel; Sinagoge
Die Groot Geloofswoordeboek: Tempel; Sinagoge
Tempel • Sinagoge
Tempel
Die tempel was die hart van Israel se godsdienstige lewe. Die geweldige betekenis van die tempel blyk uit uitsprake wat ons oral in die Ou Testament kry. Die sogenaamde Sionspsalms is sterk getuienis daarvan (Ps 46, 48, 76, 84, 87, 122, 125). (Terloops, “Sion” is die “berg” [bult] waarop die tempel gebou was.) Dink net aan die bruisende vertroue en entoesiasme in Psalm 46 (waarvan v 5-6 die kern is) en Psalm 48! Selfs as Israel ongehoorsaam was aan die Here, was die tempel nog vir hulle die simbool dat die Here sal aanhou om hulle te bewaar (Jer 7:4).
Aanvanklik was daar die tabernakel wat opgeslaan en vervoer kon word tydens die tog deur die woestyn. Ons lees uitvoerig daarvan in Levitikus. Hierdie tabernakel is later in Silo opgeslaan (Jos 18:1). Daarna is daar in Silo ‘n tempel gebou waarin die tabernakel skynbaar opgeneem is (1 Sam 2:22; 3:3). Dis hier waar Samuel gedien het. Silo was in die tyd van die Rigters die hart van Israel se godsdiens (Rig 18:31; 21:12 ev; 1 Sam 1, 2). Later is die stad en die tempel verwoes (Ps 78:60; Jer 26:6).
Eers koning Salomo het die eintlike tempel in Jerusalem gebou (1 Kon 6-8). Dit was die sentrum van Israel se godsdiens. Die Sabbat was nie in die eerste plek ‘n godsdienstige dag nie, maar ‘n rusdag. Hulle godsdiens het eerder om die jaarlikse feeste gesentreer (*Joodse feeste), en daarvoor het hulle tempel toe gegaan in Jerusalem. Die pragtige pelgrimsliedere (Ps 120-134) is die liedere wat hulle op pad Jerusalem toe gesing het. Hier het hulle feesgevier, offers gebring en die wet geleer. Die priesters het die sentrale rol tydens die feeste gespeel.
Sinagoge
‘n Sinagoge is ‘n gebou waar Jode bymekaarkom vir godsdiensoefening. Die oorsprong van sinagoges is onbekend. Dit is moontlik dat dit teruggevoer kan word na die ballingskap in Babilon. Sowel in Babilon as in Palestina kon in dié tyd kleiner geboue opgerig gewees het waar die Jode kon bymekaarkom vir aanbidding en lering. Dis moontlik dat Psalm 74:8 na sulke plekke verwys. Hierdie geboue kon nooit die tempel, die feeste en die offers vervang nie, maar het hul eie waarde gehad om die Jode se geloof te voed, en veral om die wet (Torah) te leer. (*Pentateug)
Jesus het self dikwels in die sinagoge die mense geleer. En op sy sendingreise het Paulus by voorkeur by die Jode begin en daarom telkens na die sinagoge gegaan as hy ‘n nuwe plek besoek (Hand 13:5, 14, 42; 14:1; 16:13; 17:1, 10). Hierdie feit gee aanleiding tot die misverstand dat Paulus nog die *Sabbat gehou het. Ons lees wel telkens dat hy op die Sabbat sinagoge toe gegaan het, maar dit was eenvoudig omdat die Jode net op die Sabbat daar bymekaargekom het. Daar is verder geen aanduiding dat hy nog die Sabbat gehou het, of dat ‘n gemeente in die Nuwe Testament op die Sabbat bymekaargekom het nie.
Skrywer: Prof Adrio König