Die Groot Geloofswoordeboek: Universalisme

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Universalisme

Universalisme

Universalisme is die oortuiging dat alle mense gered sal word. Sommige meen selfs dat alle engele en bose magte ook gered sal word. Daar kan wel ‘n verderf wees (*Hel), maar dit sal net tydelik wees, amper iets soos die Katolieke se geloof oor die *vaevuur. Hulle beroep hulle daarvoor op ‘n aantal dinge. Eer­s­tens is dit vir hulle ondenkbaar dat die *God wat liefde is, men­se en bose magte vir alle ewigheid in die allervreeslikste pyn sal laat ly. Verder is daar uitsprake, veral ‘n paar by Paulus, wat volgens hulle aandui dat almal gered sal word.

Daar is die beroemde oorwinningsuitspraak wat die groot­heid van Christus besing in die heerlike Christuslied in Kolos­sen­se 1. Daar lees ons dat God alles deur Christus met Homself ver­soen het, alles op die aarde en in die hemel (1:20). Die oormatige ge­bruik in hierdie lied van die Griekse woord vir “alles” bete­ken dat “alles” hier alles beteken, dat daar niks êrens is wat nie ver­soen is nie. Beteken dit nie dat almal en alles dan gered sal word nie?

En dan die ander uitspraak wat net so almal-insluitend is: “Sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is die knie sal buig en elke tong sal bely (nie bloot “erken” nie) dat Jesus Christus die Here is” (Fil 2:10-11).

Kan dit iets anders beteken as universalisme, alsaligheid? En sal dit nie in werklikheid tot eer van God wees as sy hele skep­ping be­hou word nie? Sal dit nie pas by die grootheid van die verlossings­werk wat Christus gedoen het nie?

Dit is nie swak, willekeurige argumente wat ten gunste van universalisme op tafel gesit word nie! Dink maar aan die ern­sti­ge probleme wat ons inderdaad oor die *hel het as ‘n plek van ewige pyniging.

En tog kan ons nie hierdie pad van universalisme loop nie. Dit lei te veel af uit die alversoeningsteks van Paulus. In 2 Korin­tiërs 5:18-20 word met net soveel nadruk geskryf dat God die hele wêreld deur Christus met Homself versoen het, maar dit beteken nie dat die hele wêreld daarom gered word nie. Net in die volgende sin vermaan hy dan die mense ernstig om hierdie versoening te aanvaar. Die implikasie is dat hulle nie daarin sal deel as hulle dit nie in die geloof aanvaar nie. En ons weet alle mense doen dit nie, en ons weet ook daar is nêrens sprake daarvan dat bose magte in geloof die versoening aanvaar waarvan ons in Kolossense 1 lees nie.

Die saak is moeiliker met Filippense 2. Daar lees ons dat alle wesens sal bely dat Jesus Here is. Dit lyk sterk na universalisme. Omdat daar elders in die Bybel baie sterk getuienis van die teendeel is, naamlik dat nie alle mense nie, en ook geen bose magte gered word nie, soek jy na uitweë met Filippense 2. En soms word dan beweer dat daar ook so iets soos ‘n gedwonge belydenis kan wees. Iemand word eenvoudig deur die feite gedwing, in hierdie geval deur die heerlikheid van Christus. As dit hier om sy toekomstige verskyning gaan, kan ‘n mens aanneem dat Hy in heerlikheid sal verskyn, en dat dit oorweldigend sal wees. Ons lees elders ook dat alle mense daarop sal reageer (Matt 24:30), maar nie in geloof nie.

Dit sou wonderlik gewees het om ‘n universalisme te kon bely as die groot bewys van die heerlikheid en die oorwinning van God deur Jesus. Maar dit klop nie met wat ons elders veelvuldig in die Bybel kry nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print