Die Groot Geloofswoordeboek: Vernuwingsbeweging
Die Groot Geloofswoordeboek: Vernuwingsbeweging
Vernuwingsbeweging
Daar is ‘n omvattende vernuwingsbeweging in die NG Kerk wat in die 1980’s begin het en nog steeds sterker word. Dit is nie ‘n homogene eenheid nie, maar daar is groot gemeenskaplikhede. Daar is ‘n groot misverstand oor hierdie beweging, en dit is dat dit Charismaties is. Baie van die mense wat dit beweer, gebruik dit ook sommer as ‘n veroordeling omdat hulle meen dat Charismaties vanselfsprekend ook verkeerd is. Dit is egter bekend dat die doop met die Gees en die besondere gawes twee ononderhandelbare kenmerke van die Charismatiese beweging is (*Charismatiese kerke), en dit kom omtrent glad nie in die Vernuwingsbeweging voor nie.
Oorsprong
Die Vernuwingsbeweging is die herlewing van die ou Evangeliese spiritualiteit in die NG Kerk. (*Nederduitse Gereformeerde Kerk) ‘n Aantal woorde herinner ‘n mens dadelik aan wat hiermee bedoel word: Andrew Murray, Pinksterbidure, Hallelujaliedere, *bekering, *CSV, *sending. Hierdie *spiritualiteit was vir meer as ‘n anderhalf eeu die dryfkrag agter die sendingwerk van die NG Kerk. Dit het ‘n spontane warmte en dringendheid. Dit lê baie nadruk op persoonlike bekering en toewyding, op Bybelstudie en getuienis.
Gedurende hierdie anderhalf eeu het daar twee rigtings langs mekaar in die NG Kerk bestaan, soms in vrede, soms in spanning: die strenger Gereformeerde rigting, en die Evangeliese rigting. Die Gereformeerde rigting het altyd die amptelike leiding geneem: die voorsitters van sinodes, die professore, die belangrike gesagsposisies in die kerk. Die Evangeliese rigting het altyd die inisiatief geneem in geestelike sake.
Gedurende die 1970’s was daar ‘n beplande aanslag op die Evangeliese rigting. Die CSV is uit die meeste tersiêre kampusse uitgewerk, die nuwe Gesangboek het ‘n paar Hallelujaliedere ingesluit en die Hallelujabundel het verdwyn, en die sendingentoesiasme het getaan.
Maar in die 1980’s het die *Evangeliese tradisie in ‘n nuwe gedaante na vore gekom. Dit het veral begin met die vernuwing van eredienste wat informeler geword het met ander liedere en musiekinstrumente. Groot interkerklike byeenkomste het nuwe idees by jongmense wakker gemaak, en groot sendinguitreike het mense se verbeelding aangegryp.
Vestiging van Vernuwing
Geleidelik het die Vernuwingsbeweging veld gewen. Die Vernuwingsgemeentes het oor die algemeen sterk gegroei. Die nuwe reëling dat gemeentegrense stippellyne geword het, het beteken dat lidmate na die gemeente van hulle keuse kon gaan. Daar het onderlinge verhoudings begin groei tussen Vernuwingsgemeentes. Meer en meer aandag is gegee aan die herstrukturering van eredienste en gemeentebediening.
Erediensvernuwing is meer as om ander liedere te sing. Alternatiewe vorme van Woordverkondiging word ontwikkel. Woordverkondiging is nie net ‘n halfuur lange monoloog nie. Voorstellings, getuienisse en besprekings is moontlikhede.
Gemeentebediening. Wat gemeentebediening betref, is die Liggaamsmodel besig om hier en daar by die Herder-kudde-model oor te neem. Bedienings ontstaan waarin gemeentelede die leiding neem. Die selgemeentekonsep het groot invloed in sommige Vernuwingsgemeentes begin uitoefen.
Sendingbetrokkenheid het na die insinking in die 1970’s en 1980’s weer begin opleef, veral in die vorm van individuele gemeente-ondernemings.
Daar is ongetwyfeld uitwasse wat onder die naam van Vernuwing skuil. Maar in die breë is die Vernuwingsbeweging ‘n gesonde ontwikkeling van ‘n alternatiewe spiritualiteit wat groot belofte inhou. Daar is inderdaad beperkte Charismatiese invloed, veral wat die liedere en begeleiding betref, maar in die geheel het die Vernuwing sy eie Evangeliese karakter.
Skrywer: Prof Adrio König