Die Groot Geloofswoordeboek: Volharding van die Heiliges

Die Groot Geloofswoordeboek: Volharding van die Heiliges

Volharding van die heiliges

(*TULIP)

Die vraag of gelowiges hulle geloof heeltemal kan verloor en weer verlore kan gaan, is ’n ou verskilpunt onder Christene. Daar is eenvoudig twee antwoorde gegee: ja en nee. Die verskil loop saam met die verskil oor die vraag wat eerste kom: bekering of wedergeboorte. (*Heilsweg) Dié wat die nadruk lê op die inisiatief van God, plaas wedergeboorte eerste en aanvaar dat ge­lowiges nie weer verlore kan gaan nie. Immers, dit is God wat hulle red en Hy is getrou. Maar dié wat die nadruk lê op die verantwoordelikheid van die mens, stel bekering eerste (die mens moet reageer op God se roepstem) en daarom kan die mens weer verlore gaan.

In die bespreking van die *Heilsweg is daarop gewys dat dit ’n valse probleemstelling kan wees. Wedergeboorte en bekering is nie twee verskillende ervarings wat op mekaar volg nie, maar twee maniere om dieselfde heilservaring van twee verskillende kante af te beskryf.

Wat die volharding betref, is die saak moeiliker. Daar is sterk argumente ten gunste van die volharding, en daar is ernstige be­sware daarteen. Die argumente ten gunste van volharding be­rus eerstens op die trou van God. Daar word graag gesê dat dit eintlik nie ons volharding is nie, maar God se trou om ons te behou. Engels het ’n mooi woordespel: Not perseverance, but preservation. Hierdie siening word ook gesteun deur ’n be­paal­de uitverkiesingsleer waar­volgens net dié wat uitverkies is, ge­red word, en dat God nie sy ewige besluit oor hierdie uit­ver­ko­re individue sal verander nie. Natuurlik is dit in terme van hier­die siening altyd moeilik om sinvol oor die mens se ver­ant­woordelikheid te praat. Maar daar is duidelike steun in die Bybel vir hierdie standpunt. Dink maar net aan Jesus se uitspraak: “Nie­mand sal hulle uit my hand ruk nie,” en die direk­te vervolg: “Niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie” (Joh 10:28-29).

Hierdie siening bring rus en kalmte in sekere gelowiges se ge­moed, veral in tye van twyfel en onsekerheid.

Maar daar is ook uitsprake wat na die ander kant toe wys. Daar is Jesus se eie woorde: “Maar wie tot die einde volhard, sal gered word” (Matt 24:13). Daar is ook nog Galasiërs 5:2-4 en veral Hebreërs se ernstige waarskuwings teen moontlike afval van die geloof. Veral 6:4-8 word so verstaan, maar ook 2:1; 3:12-15; 4:11; 10:26-30, 36, 39. Hier is sprake van afval van die geloof, afvallig word van die lewende God, van “omkom”, van “geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie”. Op hierdie standpunt is dit natuurlik maklik om ons verantwoordelikheid te beklemtoon, maar dit bring dikwels onsekerheid in gelowiges se lewe: Is ek goed genoeg? Volhard ek regtig?

Deur die eeue heen is van albei kante baie pogings aange­­wend om hulle probleme te hanteer en om die ander kant verkeerd te be­wys. Die voorstanders van volharding staan voor die pro­bleem dat daar soms iemand is wat die geloof skynbaar heelte­mal prysgee. Hulle kan dan een van twee weë volg. Of hy of sy was maar net skynbaar ’n gelowige, of hy of sy het net skynbaar die geloof verloor. Maar omdat hulle glo die verkiesing staan vas, sal God sulke mense op sy eie manier weer terugbring.

Die groep wat aanvaar dat ’n gelowige werklik die geloof kan verloor en weer verlore kan gaan, ontken nie die trou van God nie. In die sin waarin dit van Hom afhang, is ons veilig. Ons kan op Hom reken. Maar ons kan ’n keuse teen Hom maak, en God respekteer ons vryheid.

As ons na die Skrifbewyse kyk, kry ’n mens regtig die idee dat albei kante sterk steun het. Sou ’n mens ’n soort “pastorale kompromie” kon aangaan? Sou ’n mens gelowiges wat oor watter rede ook al begin twyfel, maar aanhou om op Jesus te vertrou, kon verseker dat Hy hulle in sy hand sal hou en dat niemand hulle uit sy magtige hand kan trek nie, en vir gelowiges wat onverskillig geword het en nie meer ’n verhouding met die Here het nie, ernstig waarsku dat net dié wat tot die einde volhard, gered sal word?

Tegnies lyk dit na ’n logiese teenspraak. Maar kan die geloof nie daarmee saamleef nie? In ons geloof is daar meer proble­me op hierdie vlak soos dat God een én drie is. (*Drie-eenheid)

 

Skrywer: Prof Adrio König