Die Groot Geloofswoordeboek: Vreemde Tale
Die Groot Geloofswoordeboek: Vreemde Tale
Vreemde tale
Daar is baie verwarring oor talespraak omdat mense nie tussen twee verskillende vorme daarvan onderskei nie. Wat op die Pinksterdag gebeur (Hand 2) en wat Paulus in 1 Korintiërs 12-14 behandel, is twee verskillende verskynsels. By die uitstorting van die Heilige Gees praat die apostels in bekende tale, tale wat nodig is om die evangelie aan bepaalde groepe oor te dra. Maar in Korinte was daar lidmate wat onverstaanbare tale gepraat het, tale wat uitgelê moes word anders was dit sinloos om dit in die gemeente se samekoms te praat. As daar nie iemand was wat die taal kon uitlê nie, moes die talespreker dit tuis doen in sy of haar persoonlike omgang met die Here.
Dit bring nog ’n verskil na vore. Die tale van Handelinge 2 was bedoel om die evangelie aan ander oor te dra, die tale in Korinte was bedoel vir die opbouing van die lidmaat en die gemeente. Beide vorme van tale is gawes van die Gees.
Dis ’n interessante vraag of die wonder op die Pinksterdag ’n praatwonder of ’n hoorwonder was. Dit lyk of dit net Petrus is wat preek. Maar hy kon tog nie gelyk al die verskillende tale gepraat het nie. Sou hy doodgewoon Aramees gepraat het en die wonder was dat elkeen sy eie taal gehoor het? (2:11: “Ons hoor hulle in ons eie tale … ”) Of sou elke apostel in ’n ander taal gepraat het, wat ’n taamlike deurmekaarspul sou afgee? (“Ons hoor hulle in ons eie tale praat … ”)
Dis een van die dinge wat ons maar eendag moet vra as ons daar kom.
In Korinte is die probleem nie dat daar in tale gepraat is nie, maar dat die talesprekers gedink het hulle gawe is belangriker as dié van die ander lidmate. Daarom lê Paulus soveel klem daarop dat al die gawes belangrik is, dat selfs dié wat onbelangrik lyk, net so nodig is as die ander (12:14 ev).
Die niebestaande, vreemde tale is eie aan die Pinkster- en Charismatiese bewegings. Die wyse waarop dit daar voorkom, is nie so vreemd soos wat dit dalk vir buitestanders klink nie. Daar is verder ook verskille in hierdie geledere oor presies hoe dit werk. Sommige meen dat ’n persoon op ’n bepaalde oomblik die gawe ontvang en dit dan net vir daardie beperkte tyd kan praat. Ander meen dat ’n persoon die gawe permanent kry en dat dit tot sy of haar beskikking is sodat dit te eniger tyd gebruik kan word.
Indien dit net by geleentheid en net vir die bepaalde situasie gegee word, sou dit vreemd wees dat die Gees dit gee in ’n situasie waar dit volgens Paulus nie gebruik behoort te word nie. Immers, hy verklaar uitdruklik dat iemand nie in tale moet praat as hy of iemand anders dit nie kan uitlê nie (1 Kor 14:5, 28). Dit beteken dat iemand permanent die gawe het en kan besluit wanneer hy of sy dit gaan gebruik. Maar dit beteken dat die uitlêer se gawe ook permanent moet wees en verder dat hy of sy alle talespraak moet kan uitlê, anders weet die gemeente nie of daar iemand is wat sal kan uitlê voor die persoon begin praat nie.
In die Pinksterbeweging is daar ’n wydverspreide oortuiging dat alle gelowiges in tale moet praat as hulle met die Gees gedoop word. (*Doop met die Gees) Die tale sou dan die teken wees dat jy die Geesdoop ontvang het (Initial Evidence). Hierdie oortuiging is nie so algemeen in die Charismatiese beweging nie. Hier is meer ruimte daarvoor dat die tale maar net een gawe onder baie ander is, en dat “die Gees dit gee aan wie Hy wil” (1 Kor 12:7, 11).
Die eis dat almal in tale moet praat, is moeilik te rym met die beginsel van die liggaam wat Paulus in 1 Korintiërs 12 breed uitwerk. In ’n liggaam is daar baie verskillende ledemate, en elkeen is nodig om die liggaam goed te laat werk. Elke lidmaat kry dus ’n bepaalde gawe om al die ander daarmee te bedien. Maar dan is dit sinloos dat alle lidmate dieselfde gawe kry.
Skrywer: Prof Adrio König