Die Groot Geloofswoordeboek: Wet

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Wet

Wet/Torah/Pentateug Wet/Tien Gebooie/Dekaloog

Torah is die Hebreeuse woord wat onder andere gebruik word vir die eerste vyf boeke van die Bybel. In die Nuwe Testament word dit “die wet” of “die wet van Moses” genoem (Matt 22:40; Hand 28:23). In die tyd van Jesus het hulle na die Ou Testament verwys as “die wet en die profete”. Soms is daar ook na die “geskrifte” verwys, wat die ander boeke was wat nie onder “die wet en die profete” ingesluit is nie. Die eerste vyf boeke word ook die Pentateug genoem. Baie Christene noem die Tien Gebooie ook die wet. Dit veroorsaak soms verwarring.

Kom ons kyk eers na die woord torah, en dan na die Tien Ge­booie.

Torah

Die woord torah word in die Ou Testament op ’n hele paar ma­niere gebruik.

• Dit kan in die algemeen raad, lering, onderwysing beteken, veral ouers se opvoeding van kinders (Spr 1:8; 4:1 waar dit vertaal is met “onderrig” en “opvoeding”).

• Dit kan verwys na ’n spesifieke boodskap wat die profeet in die Naam van die Here aan die volk gee. Dikwels word dit dan parallel met “woord” gebruik, soos in Jesaja 1:10 wat eintlik lui: “Luister na die woord van die Here, gee ag op wat ons God julle leer (die torah van die Here).” Uit wat volg blyk dit dat torah hier eintlik waarskuwing of selfs veroordeling beteken, want daar volg ’n reeks sterk veroordelings oor die sonde van die volk.

• Maar dit kan ook verwys na dit wat die Here in die algemeen deur die profeet vir die volk gesê het (Jes 5:24: “openbaring”; Jer 6:19: “leer”).

• Jesaja gebruik dit ook vir die volle omvang van dit wat hy verkondig het (8:16 – “prediking”), dus die hele boodskap van die profeet.

• Daar is psalms wat dit gebruik vir die totale wil van die Here (1:2: “woord”; 105:45: “voorskrifte”). Psalm 119 is ’n uitsonderlike torah-psalm.

Torah word egter ook meer spesifiek gebruik vir die bevele wat Moses aan die volk gegee het (Deut 4:8, 44; 31:9), en moontlik selfs vir een of meer van die eerste vyf boeke (Deut 28:61; Neh 8:2, 4). Gaandeweg word dit dan ook die wet van Moses genoem, en selfs net kortweg die wet (Matt 22:40).

• Uiteindelik word torah dan ’n tegniese term vir die eerste vyf boeke.

Die Torah, dit is die eerste vyf boeke, word deur sommige kon­serwatiewe Joodse groepe as die eintlike Bybel beskou. In die tyd van Jesus het die *Sadduseërs nog steeds net die Torah as ge­sag­heb­bend beskou. Dit is waarom hulle nie aanvaar het dat daar ’n *opstanding sal wees nie (Matt 22:23 ev; Hand 4:2 ev). Daar word niks oor ’n opstanding in die eerste vyf boeke geskryf nie. Dit kom eers baie later in die Ou Testament voor, byvoorbeeld in Daniël 12:2.

In die Nuwe Testament word die Griekse woord nomos vir die wet gebruik, ’n woord wat ons nog herken in ons woorde soos norm en normeer. Die wyse waarop Paulus na “die wet” verwys, is nogal moeilik om te verstaan. Hy kan baie negatief oor die wet wees wanneer die Judaïste vereis dat heidene nog die wet moet hou en daarom ook besny moet word om gered te word (Gal 2:15-21; 3:1-6, 13). Hy noem Christus die einde van die wet (Rom 10:4). Maar aan die ander kant staan hy ook daarop dat die wet heilig en regverdig en goed is (Rom 7:12). Jesus self ontken ten sterkste dat Hy die wet ongeldig wil maak. Hy wil dit juis sy volle betekenis laat kry (Matt 5:17).

’n Verkeerde gebruik van die wet

As ons ’n bepaalde onderskeid maak, kan ons dalk iets verstaan van Paulus se dubbele reaksie op die wet. Die doel waarom die wet by Sinai gegee is, was nooit dat die volk dit moes hou en daardeur verdien om die volk van die Here te word nie. Die Here het glad nie die wet vir ’n heidense volk gegee, en hulle aangemoedig om dit te hou nie. Dis vir sy volk gegee, die volk wat klaar in die *verbond met Abraham opgeneem is. Dit is gegee as rigsnoer vir hulle lewe. Die Here sou hulle ryklik seën as hulle die wet hou, maar swaar straf as hulle dit nie hou nie (Deut 28).

Na die *ballingskap was sekere groepe van die volk baie be­kommerd dat so ’n ramp hulle weer in die toekoms kon tref. Die *Fariseërs het uit een van hierdie groepe ontwikkel. Hulle was oortuig dat hulle so ’n moontlikheid sou kon afweer indien hulle die wet in alle besonderhede hou. Hulle het selfs nog meer wette geformuleer.

Die probleem met hierdie houding was dat hulle die oorsaak van Israel se ontrou misgekyk het. Dit was nie dat Israel nie sterk genoeg daarop ingestel was om elke wet te onderhou nie, maar dat hulle hulle verhouding met die Here verbreek het. Dit is wat gelei het tot hulle wetsontrouheid.

Dit is presies teen hierdie wettiese ingesteldheid van die Fariseërs en ander groepe wat Paulus reageer. (*Moralisme) Die Judaïseer­ders eis dat selfs die heidene die wet moet hou om gered te word. Die wet se oorspronklike bedoeling word dan misken: ’n rigsnoer vir die lewe van die volk van God, nie ’n heilsweg nie.

Daarom is dit duidelik dat Paulus die wet ook in ’n baie positiewe lig sien. En juis dit bring ons by die Tien Gebooie.

Die Tien Gebooie

Dit word ook die dekaloog genoem, letterlik die tien woorde.

Daar is interessante vrae oor die besondere aandag wat ons aan die Tien Gebooie gee. Hulle word nie so uitgesonder in die Ou Testament nie. Hulle word ook nie afsonderlik die wet genoem soos ons dit doen nie. Waar kom ons hieraan? Waarom is dit vir eeue lank in elke erediens van die Gereformeerde Kerke voorgelees?

Miskien kry hulle dit juis by Paulus. Dit lyk of hy spesifiek na die Tien Gebooie as die wet verwys. Wanneer hy ’n aantal van die Tien Gebooie aanhaal, praat hy van “die hele wet”, en ook van “die volle uitvoering van die wet” (Rom 13:8-10). Daar is nog iets wat belangrik is. Onthou dat hy deeglik daarvan bewus was dat die Torah, dit is die hele wet, as rigsnoer gegee is vir die lewe van die volk. Tog sonder hy telkens die Tien Gebooie uit as hy die gemeente oor hulle lewe vermaan. Net in een lang vermaning haal hy ses van die gebooie aan (Ef 4:25-5:5), en in ’n ander vermaning vyf (Kol 3:5-9). In die algemeen kan die Tien Gebooie ook in sy sondelyste herken word (Rom 1:29-31; Gal 5:19-21). Dit is dus duidelik dat hy ’n besondere waarde geheg het aan die Tien Gebooie as rigsnoer vir die gelowiges se lewe. Ons kan maar gerus daarmee voortgaan.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...