Die Groot Geloofswoordeboek: Woord as titel vir Jesus

Die Groot Geloofswoordeboek: Woord as titel vir Jesus

Woord as titel vir Jesus

Daar word ses keer na Jesus as “die Woord” verwys, almal in Jo­hannes se geskrifte (Joh 1:1, 34; 1 Joh 1:1; Op 19:13). Veral die ver­wysings in Johannes 1 herinner sterk aan die betekenis van “die woord” of “die woorde” van God, en ook aan die gebruik van die begrip “die wysheid” in die Ou Testament.

God se woorde of bevele doen iets in die Ou Testament (Ps 107:20; Jes 55:11; Jer 23:29). Hy sê of beveel dat daar lig moet wees, en dan is daar lig (Gen 1:3). (*Skepping) Trouens, Johannes 1 is duide­lik ’n verwysing na Genesis 1. Terwyl God in Genesis 1 die lig deur sy woord skep, is alles volgens Johannes deur “die Woord” ge­skep. Jesus word dus direk met die skepping in verband gebring. Ons glo dat Hy voor sy geboorte uit Maria al­reeds bestaan het as die ewige Seun van God en as sodanig by die skeppingswerk van God betrokke was. Trouens, Hebreërs 1:2 praat direk daarvan dat Hy “die Seun” is deur wie God alles geskep het. Ook Paulus meld dat alles deur Hom geskep is (Kol 1:16).

Skeppingsmiddelaar

Daar is ’n wydverspreide gedag­te dat Jesus net die Skep­pings­middelaar is, en nie regtig self die Skepper net soos en saam met die Vader nie. Dit is so ’n sterk oortuiging dat vertalers dit selfs in die Bybel indra waar dit nie staan nie. In Kolossense 1:16 lees die 1983-vertaling: “God het deur Hom (Christus) alles geskep,” maar die Grieks lui: “Alles is deur Hom geskape.” Die Grieks is die pas­siewe vorm van die aktief: “Hy (Christus) het alles geskape,” nie: “God het deur Hom alles geskape” nie. Trouens, daar was geen rede om die Griekse passief in ’n aktief te verander nie, behalwe die vertalers se oortuiging dat Jesus nie regtig Skepper was nie, maar net Skep­pingsmiddelaar.

Die Nuwe Testament het ’n paar duidelike uitsprake oor Je­sus as die Skepper, net soos en op dieselfde vlak as die Vader. Jo­hannes herhaal dit selfs om dit te beklemtoon.

1. Alles het deur Hom tot stand gekom
2. nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand ge­kom nie (Joh 1:3).

En Kolossense 1:16 lees in werklikheid: “Alles is deur Hom geskep,” en ook in hierdie geval herhaal Paulus dit in dieselfde vers: “Alles is deur Hom geskep” (1:16). Net in Hebreërs 1:3 het ons ’n uit­spraak oor Christus as Skeppingsmiddelaar, maar dit bots nie met die nadruk op Christus as self ook Skepper nie. Dit bevestig eer­der die ingewikkelde verhouding tussen Vader en Seun wat ons ook in Johannes 1:1-2 kry.

Terwyl Jesus dus as die ewige Seun van God self Skepper is, is dit des te merkwaardiger dat Hy self ’n skepsel geword het om sy skepsels te verlos. Dit is daarom nie vreemd nie dat die hele skepping ook deur Hom in stand gehou word, op Hom gerig is en onder Hom as Hoof verenig sal word (Kol 1:16-17; Ef 1:10). Dit is die kulminasie van die feit dat God se woord in die Ou Testament ’n bepaalde selfstandigheid ontwikkel. Ons lees nie net dat God deur sy woord bepaalde dinge doen nie, maar dat sy woord dinge doen (Jes 55:11; Jer 23:29). Uiteindelik is sy Woord ’n bepaalde Goddelike Persoon naas die Vader.

Dit beteken verder dat daar ’n unieke verhouding moet wees tussen Jesus as die Woord en God self. Johannes bring Hom in die allernouste verband met God. Maar Johannes doen dit op ’n besondere manier (1:1-2). Hy stel Hom so na moontlik aan God sonder om Hom totaal in God te laat opgaan of God in Hom asof daar in God niks meer as net Hy is nie.

1. Hy was by God

2. Hy was God

3. Hy was by God

Let op die herhaling in 1 en 3. In 2 word Hy totaal met God geïdentifiseer, maar in 1 en 3 is daar weer differensiasie tussen Hom en God. Hy is God, maar daar is meer in God as net Hy. Dit is die agtergrond vir die *Drie-eenheidsleer wat soms hoogs ­omstrede is en moeilik verstaanbaar, maar waarsonder ons tog moeilik sal kan klaarkom, al sou die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Gees sekerlik ook anders omskryf kon word.

Jesus as die Wysheid

Daar is ook interessante oor­eenkomste of minstens raak­punte tus­sen Jesus as die Woord en die wysheidsfiguur in die Ou Tes­tament. Hierdie wysheids­figuur was nie die wysheidsleraars van die Ou Testament nie. Van vroeg af was daar al wysheidsle­raars, mense wat allerlei interessante wyshede kwytgeraak het en ander baie laat dink het. Die skrywer van Spreuke was so ’n wysheidsleraar. Hy het wyse dinge gesê oor die konkrete lewe, oor ’n rein lewe, deugde, geluk, geld, die opvoeding van kin­ders en baie meer. Jesus was self so ’n wysheidsleraar, al was Hy na­tuurlik ook baie meer. Die hele bergrede is ’n versameling spreu­ke oor hoe ons moet leef.

Maar die figuur wat self “Wysheid” en “Insig” genoem word, was iemand anders as net ’n wysheidsleraar. Sy word as ’n vrou voorgestel (Spr 8:1), en veral in Spreuke 8:22-36 word haar ver­hou­ding met God bespreek.

Wat nou merkwaardig is, is die ooreenkoms tussen haar ver­houding met God en Jesus s’n. Na elk van die volgende stellings oor haar verhouding met God volg direk ’n stelling oor Jesus s’n.

1.   Sy het in ’n unieke verhouding met God gestaan, Jesus ook.

2.   Sy was die eerste skepsel, Jesus nie

3.  Sy was al by God voor die aarde geskape is, Jesus ook

4.  Sy was van die begin af die vreugde van God, wat seker ook van Jesus geld

5.  Wie haar vind, vind die lewe. Jesus word self die lewe ge­noem.

Die vroeë Christene het meer boeke in hul Ou Testament ge­had as ons. (*Bybel, *Septuagint) In twee van daardie boeke het nog meer oor die vroulike figuur “wysheid” gestaan (Die Wysheid van Salomo 7:26; 8:3-4; 9:1-18; en Jesus Sirag 24:3, 6, 23).

6. Sy is vereenselwig met die skeppingswoorde van God. Jesus ook.

7. Sy is die wet van God, iets wat nie van Jesus gesê word nie.

8. Sy regeer net soos God oor alle dinge, wat ook van Jesus geld.

9. Sy is die beeld van God se goedheid; Jesus is die beeld van God.

10. Sy maak alles nuut, wat nie direk van Jesus gesê word nie, maar netsowel waar kan wees.

11. Sy besluit vir God wat Hy moet doen, wat nie van Jesus gesê word nie.

12. Sy beskerm en onderhou die mense, wat ook van Jesus geld.

13. Sy sit langs God op sy troon, wat ook van Jesus geld.

14. Sy deel God se lewe met Hom, wat ook van Jesus geld.

In meer as die helfte van die gevalle word van Wysheid en van Jesus dieselfde gesê. Maar dit is nie al nie. In die Nuwe Tes­tament word Jesus ’n hele paar keer direk met haar verbind. Paulus noem Jesus twee keer “die wysheid van God” (1 Kor 1:24, 30). Matteus lê ’n uitspraak in Jesus se mond wat volgens Lukas deur “die wysheid van God” gesê is (Matt 23:34; Luk 11:49). En dan is daar die besonder interessante uitspraak (Matt 11:19; Luk 7:35) waarin Jesus Hom direk vereenselwig met die vroulike wys­heid van Spreuke. Ongelukkig het die 1983-vertaling dit heeltemal verknoei. Dit behoort te lees: “Maar die wysheid is ge­regverdig deur haar werke,” en die verband wys dat dit op Jesus self betrekking het.

’n Vroulike Jesus?

Hierdie kwessie sluit direk aan by die vraag of Jesus noodwen­dig manlik moes gewees het om God te open­baar en om ons te verlos. (*Feminisme) Daar is groe­pe wat oortuig is daarvan. Die *Katolieke Kerk voel so sterk daar­oor dat ’n vrou nie eens ’n priester mag word nie. Hulle is oor­tuig dat priesters God op aarde moet ver­teen­woordig, en omdat God dan manlik sou wees, kan ’n vrou Hom nie verteenwoordig nie en dus nie ’n priester word nie. Ander groepe is oortuig dat dit nie maar net deel van die kultuur van daardie tyd was dat God in die Bybel manlik voor­gestel word nie, maar deel van die openbaring. Net so is dit deel van die openbaring dat Jesus juis ’n man moes wees om God te openbaar.

Die feit dat Jesus in die allernouste verband gestel word met die vroulike wysheidsfiguur laat ’n mens egter hieroor wonder. Wat God betref, is dit inderdaad korrek dat Hy meestal manlik voorge­stel word in die Bybel. (*Manlikheid van God) Maar daar word ook sulke sterk vroulike beelde van Hom gebruik dat sy man­likheid nie regtig ernstig bedoel kan word nie. God word dikwels vergelyk met ’n ma in haar verhouding met haar kind, en ook met die sorg van ’n vrou vir haar gesin (Num 11:12; Deut 32:18; Jes 49:15; 66:13; Hos 11:3).

Dit kan dus beswaarlik waar wees dat die Bybelskrywers ern­stig bedoel het dat God van die manlike geslag is. Hulle skryf ook niks aan Hom toe wat met geslagtelikheid te doen het nie. Terwyl die volke rondom Israel manlike en vroulike gode ge­had het en hierdie gode allerlei geoorloofde én ongeoorloofde verhoudings met mekaar aangegaan het, kom niks daarvan in die Bybel na vore nie. Terwyl manlike gode kinders verwek en vroulike gode aan hulle geboorte gegee het, is dit vreemd aan die Bybel. Selfs vir die skepping van die mens word geen beelde van geboorte uit God gebruik nie, iets wat rondom Israel algemeen was. Dit beteken eenvoudig dat die manlikheid van God ’n kultuurverskynsel is wat ook ruimte laat vir die moontlikheid om God vroulik voor te stel.

In hierdie lig is dit nie aanvaarbaar om te meen dat Jesus juis ’n man moes gewees het om God te openbaar nie. Dit wat God God maak, soos sy liefde, genade, geregtigheid, heiligheid, oordeel, kan netsowel deur ’n vrou openbaar word.

En wat Jesus as ons Verlosser betref, daar is nooit enige verband in die Bybel tussen sy manlikheid en sy verlossingswerk nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König