Die Handelinge van die Apostels: Ananias en Saffira (Hand 5:1-11) – Francois Malan
5:1 Teenoor Barnabas se sprekende voorbeeld van barmhartigheid, vertel Lukas van ’n egpaar in die gemeente wat in hulle harte anders gesind was. ‘’n Man met die naam Ananias het saam met sy vrou Saffira ’n stuk grond verkoop.’ Ananias is moontlik die Griekse vorm van die Hebreeuse Gananjah ‘Jahweh is genadig’ of van Ananejah ‘Jahweh hoor’ (Neh 3:23). Die naam Ananias kom ook voor in Hand 9:10 vir die vroom man in Damaskus wat vir Saulus gaan bid en hom gedoop het (’n ander Ananias kom in Hand 22:12 voor); en in Hand 23:2 het nog ’n Ananias, die hoëpriester, opdrag gegee dat Paulus op sy mond geslaan moet word. Saffira beteken ‘die mooie.’ Soos Barnabas verkoop die twee ’n stuk grond wat aan hulle behoort, maar met ’n hele ander gesindheid en doel as die ‘seun van bemoediging.’
Soos Jesus vir Judas, die werktuig van die Satan (Luk 23:3), in sy apostelkring opgeneem het, is Ananias en Saffira ook werktuie van die Satan (Hand 5:3) vir wie Jesus in die eerste gemeente opgeneem het en verraaiers van sy liefde geword het. So beskryf Lukas die voortsetting van Jesus se bediening as die Here wat ná sy hemelvaart deur sy volgelinge werk, met ooreenkomste uit sy bediening as die Seun van die Mens op aarde. So het Akan uit die stam van Juda met die ingang in die beloofde land tydens Jerigo se inname troueloos gehandel. Uit die goed wat aan die Here gewy is het hy mooi klere, goud en silwer gevat, daaroor gelieg, en in die grond in sy tent gaan begrawe (Josua 7).
5:2 ‘en hy (Ananias) het van die geld (van sy grond) vir homself teruggehou…’ (nosfizomai terughou vir jouself; dit is dieselfde woord as in die Griekse vertaling van Josua 7:1 oor Akan; die woord word ook in Titus 2:10 gebruik). Ananias doen dit met die medewete van sy vrou. Van die begin af was hulle plan om van die geld agter te hou en die skyn voor te hou dat hulle alles vir die Here gegee het. Sy optrede is ’n model van ’n halwe hart wat tot oneerlikheid lei. Hy wou homself as ’n besondere goeie Christen voorstel sonder dat hy dit was. Sy misdaad (5:4 pragma onderneming) was nie dat hy nie die volle verkoopsom afgelewer het nie, maar dat hy voorgegee het dat dit die volle som was en homself valslik in ’n goeie lig probeer voorstel het (soos Judas se soen om Jesus te verraai, en Judas se mooi praatjies oor geld vir die armes in plaas van die salf vir Jesus se voete, Joh 12:4-6; Mark 14:44-45 ). Ananias het die eer van mense gesoek, maar nie die Here se goedkeuring nie (vgl. Joh 5:44: Hoe kan julle glo terwyl julle van mekaar eer wil ontvang, maar nie die eer soek wat van die enigste God kom nie?’). Ananias het van die Here se alsiende oë vergeet. Calvyn sê dat hy die voete van die apostels groter eer betoon as die oë van die Here.
5:3 Onder die leiding van die Heilige Gees sien Petrus egter deur Ananias se valsheiden die duiwelse agtergrond van die bedrog (Luk 22:3; Joh 6:70). So het Jesus geweet wie Hom gaan verraai (Luk 22:21; Joh 6:64; vgl. Hand 13:9). Maar Ananias bly ten volle verantwoordelik vir sy daad. Deur die verleiding van die Satan om die eer van die gemeente vir hulleself te kry asof hulle deur die Heilige Gees gelei is tot barmhartige vrygewigheid, beplan Ananias en sy vrou die leuen voor die apostels, maar lieg daarmee ook vir die Heilige Gees, en tree so teen God self op.
5:4 Hierdie vers verduidelik die stellings dat die gemeente alles gemeenskaplik besit het (4:32,34-35). Petrus stel ‘n dubbele retoriese vraag aan Ananias, waarop die antwoord ‘ja’ gesuggereer word. Toe die grond nog onverkoop bly lê het, was dit nie joune nie? en toe dit verkoop is het dit nie onder jou seggenskap gebly nie? Daarmee word die reg tot privaatbesit erken. Die volgende vra na sy motief: Waarom het jy hierdie daad (pragma onderneming wat beplanning en verantwoordelikheid behels) in jou hart gesit/bedink? Sonder om daarop ‘n antwoord te ontvang wys Petrus hom wat hy in werklikheid gedoen het. ‘Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God!’
5:5 Die onthulling en beskuldiging van Petrus was vir Ananias ’n ‘dodelike’ verrassing. Terwyl Ananias die laaste woorde hoor het hy geval en gesterf. God wat deur die mond van die apostel praat, het die oordeel voltrek (vgl. die eersgeborenes van die Egiptenare wat almal gesterf het met die tiende plaag, soos Moses gesê het; Eks 11:4-6; 12:29-30. Dit is soos die skielike dood van Abia, die seun van Jerobeam oor die skreiende sondes van sy pa, net soos die profeet Agija aangekondig het, 1 Kon 14:12-17). Hebreërs 10:31 sê: ‘Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God,’ oor mense wat die Seun van God vertrap en die Gees van genade uitdaag. In 2 Kor 2:11-17 sê Paulus: ‘ons versprei die geur (wierook) van die kennis van Christus; vir dié wat verlore gaan is dit ’n reuk vanuit die dood tot die dood, vir dié wat verlos word, ’n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? Ons is nie soos baie wat smous met die woord van God nie; maar ons praat in opregtheid asof vanuit God, en dit in Christus.’
Ananias se soeke na eer het van hom ’n werktuig van die Satan gemaak deurdat hy voor die gemeente vir die Heilige Gees en vir God gelieg het (5:3,4). Deur Ananias se eersugtigheid het die Satan ingekom in die eerste gemeente wat so mooi saamgeleef het. So het Eva die leuen van die slang geglo en die dood oor die mensdom gebring met haar begeerte om soos God te word wat alles kan ken (Gen 3:4-6).
En ’n groot vrees/ontsag vir God, het oor almal gekom wat daarvan gehoor het (vgl Hand 5:13 vir die reaksie van die res van die volk). 1 Petrus 2:8 sê Jesus is ‘n ‘klip waaroor ’n mens struikel, ja, ’n rots wat ’n mens laat val. Hulle struikel omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem’ (deur Petrus aangehaal uit Jesaja 8:14). Hand 2:47 vertel dat die hele volk die volgelinge van Jesus goedgesind was oor hulle eenheid en milddadigheid. Ná hierdie straf op die sonde van een van die gemeentelede is die volk ook versigtig vir hierdie kinders van God.
5:6 Die jonger manne (neōtreroi) van die gemeente kom en draai hom in linne toe, dra hom uit (waarskynlik ook uit die stad uit) en begrawe hom (waarskynlik in die graf vir misdadigers, vgl. Jes 53:9). In die Ben-Hinnomdal is die Tofet opgerig waar kinderoffers aan Molog gebring is (2 Kon 21:6) en wat ’n kerkhof vir misdadigers geword het (vgl. Jer 7:31-32; 19:11). In Jeremia se tyd, voor die ballingskap, het die Potskerfpoort na die dal gelei (Jer 19:2). In Nehemia se tyd, na die ballingskap, is dit die Aspoort genoem (Neh 2:13). Die vure wat altyd op Jerusalem se ashope gebrand het, het aanleiding gegee dat Ben-Hinnom (die seuns van Hinnom se dal) in die Talmud Ge-Henna geword het, waar die woord ‘hel,’ die plek van die ewige vuur/straf, vandaan kom.
5:7 Saffira kom in, onbewus van wat met haar man gebeur het, ongeveer 3 uur na sy dood, daar waar die apostels en gemeente byeen was. Daar word nie verder verduidelik waarom sy gekom het, en waarom sy onbewus was van alles nie.
5:8 Petrus vra haar ook direk na die koopsom wat haar man aan die voete van die dissipels kom neersit het, of dit die bedrag is wat hulle vir die grond ontvang het (5:2). Toe sy bevestig dat dit die koopsom is wat hulle ontvang het, was dit duidelik dat hulle twee saamgespan het om van die geld terug te hou.
5:9 Petrus se retoriese vraag aan haar gaan oor haar en haar man se samespraak oor die bedrag. Waarom het hulle gedink hulle kan die gemeentelede se hoë agting met hulle valsheid koop? Het hulle dan nie geweet dat dit eintlik die Gees van die Here is vir wie hulle getoets het om te kyk of Hy dit miskien nie sal agterkom nie? Dit is die Gees wat op die gemeente uitgestort is en juis mense tot bekering van hulle sonde lei. Toets (peirazō) het hier die implikasie dat dit nie sal werk nie. Weet hulle nie dat die Here alles weet nie, en dat dit onmoontlik is om vir Hom te lieg sonder dat Hy jou diepste gedagtes en begeertes ken?
Daarop spreek Petrus die oordeelswoord van God. ‘Let op! Dié wat jou man begrawe het, is voor die deur en sal jou uitdra.’ Onder leiding van die Heilige Gees weet Petrus dat hulle voor die deur is, en weet hy dat hulle haar ook dood gaan uitdra. Dit bevestig dat dit God se oordeel oor haar is wat Hy met die skielike dood voltrek. Petrus het dit slegs aangekondig.
5:10 Op Petrus se woord, dat dié wat haar man begrawe het, haar ook sal uitdra, val sy onmiddellik (paragrêma ) dood neer voor Petrus se voete, waar haar man die geld neergesit het. En dan kom die jongmanne (neaniskoi) in, soos hy gesê het, vind haar klaar dood, en hulle dra haar uit om haar langs haar man, met wie sy saamgespan het, in die graf vir misdadigers te gaan begrawe. Saam het hulle gesondig, saam word hulle begrawe.
5:11 Oor die hele gemeente en ook oor almal wat van die dood van Ananias en Saffira gehoor het, het daar ’n groot fobos vrees/diepe eerbied en ontsag vir God gekom – vrees by dié wat nie in Jesus geglo het nie, en diepe eerbied en ontsag by die gemeente van die Here.
Die woord ekklêsia word hier vir die eerste keer in Handelinge gebruik. Dit kan verwys na ’n vergadering van gelowiges wat aan Christus verbind is, en na ’n gemeente waarvan die lidmate op die Here vertrou, en na die kerk van God in die wêreld. Hulle is nou die volk van God (Hand 15:14). Met die twee voorbeelde, Ananias en Saffira die bedrieërs teenoor Barnabas die barmhartige,stel Lukas die lewe in die eerste gemeente van die Here se vreugde en hartseer voor, van die voortgang van Jesus se werk deur die Heilige Gees in mense. Soos Judas in Jesus se dissipelkring en Akan by die wonderlike inname van Jerigo met die intog in Kanaän, word die gemeente se daaglikse afhanklikheid van die Here se leiding beklemtoon en van die teenwoordigheid van God wat sy wil deurvoer. Die straf op sonde teen die Heilige Gees word duidelik beskryf in Jesus se uitspraak oor laster teen die Heilige Gees in Luk 12:10; en oor iets wat teen die Heilige Gees gesê word in Matt 12:32).
Skrywer: Prof Francois Malan