Die Handelinge van die Apostels: Die apostels word weer vervolg ( deel 1; Hand 5:17-26) – Francois Malan
5:17 Verse 17-18 is een sin in Grieks, met
hoofwerkwoorde ‘arresteer’ en in die tronk ‘gegooi.’ Die hoëpriester (Kajafas of Annas, vgl. die
verwarring in Hand 4:6) en almal saam met hom (sy ondersteuners), naamlik die
godsdienstige party van die Sadduseërs, het uit jaloesie opgestaan. Die
deelwoord ‘opstaan’ verwys waarskynlik na die Hoëpriester se opstand teen die
groeiende populariteit van die apostels, teen die uitbreiding van die Christusgemeente,
en teen hulle ongehoorsaamheid aan die Raad se bevel dat hulle glad nie eers
Jesus se naam mag noem nie (Hand 4:18). Die Sadduseërs het mos nie geglo in die
opstanding van die dooies nie (Hand 23:8), en Jesus se opstanding was reëlreg
teen hulle oortuiging. Daarom gee Lukas die rede vir die hoëpriester se
opstaan: hulle was vervul met jaloesie! (zêlos ’n baie sterk
gevoel van gegriefdheid en afguns teen iemand). Toe die getal gelowiges, wat
gereeld op die tempelterrein vergader het, so vinnig aangegroei het, het die
Raad nog nie opgetree nie, moontlik weens die gewone mense se agting vir die
gelowiges (Hand 5:13). Maar die skare siekes wat langs die strate op die
apostels gewag het en van die buitewyke af aangedra is, het die hoëpriester se
geduld met die skare gelowiges wat daagliks op die tempelterein byeengekom het,
uitgeput.
5:18 Hulle het die apostels
gearresteer (letterlik: hulle hande aan die apostels geslaan) en hulle in
die publieke (staats-) tronk gesit, waar gewone misdadigers opgesluit is. Die
apostels is deur die mense aanvaar as die leiers van die nuwe godsdienstige
beweging.
5:19 ’n Engel van die Here
het egter gedurende die nag die deure van die gevangenis oopgemaak, hulle
uitgelei en gesê:…’ Die engel is die boodskapper wat die Here
(Jesus) gestuur het (vgl. Ps 103:20 ‘Prys die HERE, julle wat sy boodskappers
is, – Hebreeus: male’ak; Grieks: angelos; ‘engel of boodskapper’
– sterk helde wat sy woord uitvoer om sy bevel te gehoorsaam). Op
wonderbaarlike wyse word hulle bevry om hulle opdrag uit te voer, om Jesus se
getuies te wees wat in Jerusalem daarmee moet begin.
5:20 ‘Gaan staan in die tempel
en verkondig aan die volk al die woorde van hierdie lewe’ – die volle
boodskap oor en van Jesus wat uit die dood opgestaan het as die Leidsman tot
die lewe (Hand 3:15; vgl. Hebr 12:2 die Leidsman en Voleinder van die geloof).
Op die plek waar hulle die vorige aand gearresteer is, moet hulle voortgaan met
die verkondiging. In Luk 21:12-13 het Jesus reeds gesê: julle sal in tronke
opgesluit word. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om te getuig. Die tempel
is die plek waar hulle die boodskap aan die volk moet gaan verkondig. Dit is
God se wil en opdrag, want dit is sy huis (Luk 19:46 aangehaal uit Jes 56:7).
Die evangelie van Jesus, die boodskap van verlossing, bevestig en oortref die
lewende woorde wat Moses van ‘die engel’ op Sinaiberg ontvang het (Hand 7:38).
Die engel op Sinaiberg word in Hand 7:30-33 geïdentifiseer as die Here self. Hy
is die God van Abraham, Isak en Jakob. Dit is ’n verwysing na Jesus wat nou as
mens gekom het, ’n profeet soos Moses (Hand 7:37). Die gemeente van
Christusgelowiges is nou die eintlike volk van God, wat aanspraak maak op die
tempel as die huis van die lewende God vir wie hulle dien. Sy nuwe volk vervang
die ongehoorsame Israel as die volk van God (vgl. Paulus wat in die tempel bid,
waar Jesus aan Hom verskyn, Hand 22:17). Vir die woorde van hierdie lewe, vgl.
Petrus se woorde aan Jesus in Joh 6:68: U het woorde van die ewige lewe. Paulus
verwys daarna in Hand 13:26 as die boodskap van verlossing (13:47-48); ook om
aan die woord van die lewe vas te hou (Flp 2:16). Johannes 3:16; en 10:10,28
verwys na die lewe en ewige lewe wat ons reeds het as ons in Jesus glo.
5:21 Gehoorsaam het hulle teen
dagbreek – toe die tempeldeure oopgemaak word – die tempel binnegegaan en onderrig
gegee – waarskynlik in die voorhof van die heidene, aan die mense wat
vroegdag die Here kom aanbid het en na die apostels kom luister het, soos hulle
na Jesus kom luister het gedurende die vyf dae voor sy kruisiging (Lukas
21:37-38).
Toe die Hoëpriester en dié
saam met hom by die tempel opdaag, het hulle die Sanhedrin saamgeroep met al
die oues van die kinders van Israel – die volksleiers. Hulle het dienaars van
die tempel na die gevangenis gestuur om die apostels te laat haal. Dit word ’n offisiële
vergadering van die Joodse Raad, die hoëpriester met sy dagbestuur en die
volksleiers vir wie hulle oproep vir die vergadering. Hulle kom om af te reken
met die apostels van Jesus wat aan hulle ongehoorsaam is, en daarom die nag
reeds in die gevangenis moes deurbring, maar juis daar in die gevangenis, God
se opdrag gehoor het en nou gehoorsaam.
5:22-23 Maar toe die dienaars
van die tempel by die gevangenis opdaag, het hulle hulle nie daar in die tronk
gekry nie, omgedraai en verslag kom gee. Verslae het hulle gerapporteer: Ons
het die gevangenis met alle sekerheid gesluit gekry – die voltooide verlede tyd
van ‘gesluit’ beteken dat die deure sedert die aand net so gesluit gebly het.
En die wagte nog steeds staande (voltooide deelwoord) voor die deure. Maar toe
ons hulle oopmaak vind ons niemand binne nie – by die gevangnis is alles buite
in orde, maar binne nie. Die engel het die tronkdeure oopgemaak en blykbaar
weer gesluit sonder dat die wagte dit agtergekom het (5:19; soos in Hand
12:7,10). Die Joodse Raad moes hieruit erken dat God self ingegryp het, met
’n teken uit die hemel, soos hulle destyds van Jesus gevra het (Matt
16:1).
5:24 Toe die bevelvoerder van
die tempel – wat sy wagte se verslag aanhoor (hy was ook die ondervoorsitter
van die Raad, 4:1) – en die leierpriesters hierdie verslag hoor was hulle
totaal verward oor wat dit kon beteken/waartoe dit kon lei. Die beste van
die Joodse denkers was hier bymekaar en hulle kon niks verstaan wat nou gebeur
het nie en staan radeloos en magteloos. Maar dat God ingegryp het en téén hulle
besluit het, moes eintlik vir hulle duidelik geword het.
5:25 Die Here stuur toe
‘iemand’ om vir hulle te vertel: ‘Kyk! (luister mooi, op hierdie oomblik) die
manne wat julle in die tronk gesit het, is in die tempel staande besig om die
volk te onderrig – soos die vorige keer (4:2) en soos die engel hulle beveel
het (5:21,25). Die ‘iemand’ beklemtoon vir hulle die skreiende teenstelling:
die manne wat júlle in die tronk gesít het (om hulle vryheid te beperk),
is nou (terwyl julle wag om hulle te oordeel) stáánde in die tempel om
die volk vryelik te onderrig. Die raaisel word vir die Raad net groter en
gevaarliker. Die Godswonder van hulle verlosssing uit die tronk het die
apostels tot ’n nuwe oortreding van die Raad se bevel gelei. Die opdrag wat die
Raad aan hulle gegee het, is deur God se opdrag gekanselleer. Dié Jesus wat
hulle laat kruisig het, is duidelik besig om deur sy apostels die wêreld vir
hulle om te krap met sy goeie boodskap (vgl. Luk 22:69 ‘van nou af sal die Seun
van die Mens aan die regterhand van God die Magtige sit’). Om die volk te
onderrig is eintlike die werk van die Raad. Ongeletterde vissers het die
onderrig van die volk by die Raad oorgeneem.
5:26 Die bevelvoerder van die tempel gaan toe saam met sy wagte om die apostels tussen die skare, wat na hulle luister in die voorhof van die heidene, daar uit te haal om voor die Raad te verskyn. Die wonder het hulle nie oortuig nie. Hulle gaan voort met hulle stryd om hulle invloed onder die volk te behou. Sonder geweld word die apostels gevra om terug te kom na die Raad toe, omdat die lede van die Raad bang was dat die volk hulle sal stenig – geen vrees vir God of vir Jesus nie, maar vir die volk. Steniging word vir godslastering voorgeskryf (Lev 24:15-16; vgl. Mark. 14:64; Hand 7:58). Die Raad beskou die apostels as godslasteraars. Die volk kan egter teen die Raad begin optree omdat húlle eintlik die godslasteraars is wat God se Seun as ’n godslasteraar verwerp het (Mark 14:64). En nou wil hulle Jesus se volgelinge die swye oplê.
Skrywer: Prof Francois Malan