Die Handelinge van die Apostels: Die dood van Herodes Agrippa I (Hand 12:20-25) – Francois Malan
12:20 Die bergagtige Fenisië met sy twee groot stede Sidon en Tirus het nie eintlik plek vir landbou nie. Hulle was vir hulle voedsel afhanklik van hulle bure en het graan per skip na hulle hawens vervoer (vgl. 1 Kon 5:9; Esra 3:7; Eseg 27:17). Herodes was in ’n woedende vete (thumomachō – thumós woede; máchomai baklei, veg) met Fenisië gewikkel, waarskynlik oor die landsgrens, want die Fenisiërs wou baie graag die vlakte noord van Karmel bekom en het soms die gebied geannekseer. Herodes het waarskynlik daaroor hulle voedseltoevoer stopgesit. Die twee stede het saam na Herodes toe gekom om oor vrede te onderhandel, om sy verbod op hulle voedselvoorsiening op te hef. Hulle benader Herodes deur sy hoofamptenaar wat oor sy ‘slaapkamer’ (koinōn) aangestel is. Hy sal waarskynlik die hoof oor die koning se harem wees, ’n ontmande, wat die koning se persoonlike sake reël. Die Fenisiese afvaardiging het vir Blastus oorgehaal deur hom te oortuig van hulle egtheid en erns (peithō om iemand te oortuig om iets te glo en op te tree op grond van wat aanbeveel is). Moontlik het hulle aan hom ’n geskenk daarvoor gegee.
12:21 Op die dag waarop ooreengekom is (tussen Herodes en die afvaardiging deur Blastus se voorspraak) het Herodes koninklike klere aangetrek (Josefus Ant 19:8:2 sê die kleed was heeltemal van silwer gemaak wat in die son geglinster het), op die troon gaan sit en hulle formeel toegespreek (dêmêgoreō op ’n formele plek met formele woorde toespreek). Herodes wou duidelik ’n indruk maak op die gehoor.
12:22 By die aanskoue van die skouspel en aanhoor van die formele toespraak het die mense (dêmos) wat daar byeen was, uitgeskreeu (epefōne imperfektum – hulle het dit aanhoudend geskreeu): ‘die stem van ’n god en nie van ’n mens nie!’ (Josefus vertel ook van die vergoddeliking van Herodes deur die mense). Onder die heidene was hulle konings en keisers maklik as gode vereer.
12:23 Onmiddellik het ’n engel van die Here hom neergevel (soos vir Ananias en Saffira, 5:5,10) omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Hy het met ander woorde die eer vir homself toegeëien en hom so skuldig gemaak aan trots en heiligskennis. Die manier waarop die engel hom neergevel het word aangedui as ‘verteer deur wurms het hy gesterf.’ Die dood deur interne wurms is deur skrywers in die antieke tyd toegeken aan uiterste bose mense en vir selfvergoddeliking. Herodes se selfverheffing is deur die Here verander in diepe vernedering.
12:24 Dit is die vyfde opsomming van die lewe van die kerk se uitbreiding wat Lukas gee (vgl. 2:47; 6:7; 9:31 en 11:21; vgl. ook 19:20). Die vers kyk terug na wat die Here reeds gedoen het deur sy volgelinge, en open die volgende groot deel van Handelinge oor die voortsetting van die uitbreiding onder leiding van die Heilige Gees. Ten spyte van Herodes Agrippa se vervolging van die kerk tot sy dood in 44 n.C., het die woord van God grootliks gegroei en die getal gelowiges het al meer toegeneem. Herodes het nie sy doel bereik nie. Met ‘die woord van God’ word verwys na die sendingprediking van die kerk onder Jode en heidene. Eers in Jerusalem en Judea, toe is die Samaritane bereik, daarna die man van Afrika, en toe die Romeinse wêreld. Van hoofstuk 13 tot 28 versprei die evangelie deur die Romeinse ryk, telkens deur die ingrype van die Here om sy kerk se oë oop te maak vir die pad waarop Hy hulle lei (vgl. Jesus se opdrag in Hand 1:8).
12:25 Die naam van Saulus duik weer op, soos in hoofstukke 7:58; 8:1; 9:1-30; 11:30. In 11:20 was Barnabas en Saulus die draers van die bydraes van die gemeente in Antiogië vir die broers in Judea. Judea was in ’n greep van droogte en hongersnood, in die tyd van keiser Claudius (regeer van 41-54 n.C.). Nadat hulle dié diens in Jerusalem verrig het, het Barnabas en Saulus na hulle basis in Antiogië teruggekeer. Hulle het Johannes, bekend met sy Latynse naam Markus, Barnabas se nefie, met hulle saamgeneem as hulpkrag om te help in hulle diens (vgl. ’n bespreking van Markus hierbo in die kommentaar oor Hand 12:12).
Skrywer: Prof Francois Malan