Die Handelinge van die Apostels: Die elf apostels (Hand 1:13-14) – Francois Malan

1:13-14 Na Jesus se hemelvaart
gaan die apostels na die bovertrek waar hulle na die Paasfees in
Jerusalem gebly het. Die bovertrek was gewoonlik bo-op die platdak van die huis
gebou, met ’n trap aan die buitekant van die huis. Daarom staan hier ‘hulle het
opgegaan na die bovertrek waar hulle gebly het (katamenō – oorbly vir ’n
tyd). Waarskynlik was hulle bedags in die tempel, soos Luk 24:53 sê, en het in
die bovertrek oornag. 

Die lys van die apostels se name
is dieselfde as in Lukas 6:14-16 met die weglating van Jesus se verraaier Judas
Iskariot ‘man van Keriot’ in Judea, die enigste Judeër wat soos Jesus in Judea
gebore is uit die stam van Juda. Judas het tydens Jesus se verhore selfmoord
gepleeg (Hand 1:18; Matt 27:5).

Na die vervolging van die
apostels in Jerusalem het hulle uitgewyk (vgl. Hand 12:1-3,17) en die
plekke waarheen hulle gegaan het en gaan werk het, is volgens die kerklike
tradisie met die lot aangewys.    

Simon of Simeon Petrus
en Andreas was broers, seuns van Johannes. Aan Simon het Jesus die naam Sefas
gegee, die Hebreeuse woord vir ‘rots,’ 
en Petros in Grieks. Hulle was ongeletterde vissers van Betsaida (Joh
1:41-44; Hand 4:13). Bo-oor die ruïnes van Petrus se huis in Kapernaum, langs
die ruïnes van die sinagoge, het die Roomse Kerk ’n moderne kapel gebou (vgl.
Mark 1:29). Na sy verloëning van Jesus, het Jesus volgens
Johannes 21:15-17 hom in sy amp as apostel vir die besnydenis herstel (vgl. Gal
2:9). Hy word ’n reisende sendeling in Lidda (Hand 9:32), Joppe (Hand 9:36-43),
waar die Here hom oortuig om ook na die onbesnede Romein Kornelius in Sesarea
te gaan (Hand 10:1-48). Nadat ’n engel hom uit die tronk in Jerusalem verlos
het met die vervolging van die apostels (Hand 12:1-17, hoor ons van hom in
Antiogië (Gal 2:11). Die grotte in Antiogië, waar die Christene kerk gehou het,
word na hom genoem. Volgens 1 Petrus 1:1 het hy ook in Pontus, Galasië,
Kappadosië, Asië en Bithinië gewerk (die huidige Turkye). In  Korinthe het hy ook volgelinge gehad (1 Kor
1:12; 3:22; 9:15). Die oorlewering is dat Petrus in 64 n.C. in Rome onder
keiser Nero gekruisig is, op sy eie versoek kop onderstebo. Die huidige
Vatikaan is oor sy graf opgerig, en hulle beskou hom as hulle eerste pous met
die sleutels van die koninkryk van die hemele (Matt 16:19). 

Volgens die kerklike tradisie
het Andreas onder die Skithe aan die noordelike oewer van die Swart See
gewerk, en het hy in Griekeland die laaste drie dae van sy lewe blymoedig die
Here bely terwyl hy aan ’n Andreaskruis (X) gehang het. Die Russe vereer hom as
hulle apostel, en hy is die beskermheilige van Skotland.

Johannes en Jakobus
was broers, seuns van Sebedeus en ook ongeletterde vissers (Mark 1:19-20; Hand
4:13). Hulle was neefs van Jesus. Hulle ma, Salome, was Maria se suster (Mark
15:40 sê Salome het by die kruis gestaan, en Joh 15:25 sê: Jesus se moeder se
suster het by die kruis gestaan). Jesus het hulle Boanerges genoem, seuns van
die donder (Mark 3:7; vgl Luk 9:54). Jakobus was die eerste apostelmartelaar
(Hand 12:2). Die kerklike tradisie vertel dat Johannes ná sy verbanning na
Patmos onder Domitianus, weer terug is in Efese, waar hy tydens die regering
van Trajanus (98-117 n.C.) gesterf het. Een tradisie sê dat hy deur die Jode
met klippe doodgegooi is. Hy is in Efese begrawe. Teen die berg agter die ou
stad Efese is die huidige kapel van Maria, die moeder van Jesus, op die plek
waar Johannes haar sou opgepas het tot haar dood (vgl. Joh 19:26-27; 21:23).
Hierdie boanerg het in sy tyd saam met Jesus die nederige apostel van liefde
geword, soos sy Evangelie, drie briewe, en Openbaring, getuig.

Filippus
kom van Petrus en Andreas se tuisdorp Betsaida. Hy lei Natanael na Jesus (Joh
1:44-46), en hy en Andreas lei ook die Grieke wat Jesus wou sien na Hom toe
(Joh 12:20-22). In Joh 14:8 vra hy vir Jesus: ‘Here, wys ons die Vader, en dit
is vir ons genoeg.’ Waarop Jesus vir ons ’n kykie in die Drie-eenheid gee: ‘Wie
My gesien het, het die Vader gesien….Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in
My is…’’ (Joh 14:9,11). Volgens ’n latere oorlewering het Filippus later in
Klein-Asië gewerk en in Hiërapolis gesterf.  

Thomas
– die Hebreeuse woord  te’ōma’
beteken ‘tweeling,’ daarom word hy ook genoem Didimus, ‘tweeling’ in Grieks
(Joh 11:16) Hy het onder die Parte (in die huidige Iran) gaan werk. Die
Mar-Thoma kerk in Indië beskou hom as die stigter van die Siriese kerk waarvan
hulle later afgeskei het. 

Bartholomeus
(bar-‘seun’ van Talmai), is waarskynlik Natanael (‘Geskenk van God’) van Joh
1:49. Hy kom van Kana in Galilea. In Johannes word hy sesde genoem net na
Thomas. In Matt 10:3; Mark 3:18 en Luk 6:14 word Bartholomeus sesde genoem, ook
net na Thomas. Daar is ’n onbetroubare oorlewering dat Bartholomeus die
marteldood in Indië gesterf het. Dan kon hy moontlik saam met Thomas daar
gewerk het, soos hulle in die apostellyste saam genoem word. Van Natanael het
Jesus gesê dat hy waarlik ’n Israeliet is in wie daar geen bedrog is nie (Joh
1:47). En hy het Jesus herken as die Koning van Israel (Joh 1:49). Miga 4:4
sien uit na die koms van die Messias wanneer elke man ongesteurd onder sy eie
vyeboom sal sit; so ook in Sagaria 3:10. So het Jesus ook vir Natanael onder sy
vyeboom gesien sit en wag op die koms van die Messias (Joh 1:48,50).     

Mattheus
(sy Griekse naam; Matt 9:9) word ook genoem Levi (sy Hebreeuse naam; Luk 5:27).
Hy was die seun van Alfeus (Mark 2:14). Jesus kies hierdie tollenaar, wat in
diens was van die Romeine en deur die Jode gehaat was, as een van sy 12
apostels. Hy was as tollenaar waarskynlik ’n geleerde man. Papias het ongeveer
150 n.C. geskryf dat Mattheus die woorde van Jesus in Aramees neergeskryf het.
Hy kon dit dan later in sy Griekse Evangelie gebruik het. Die Evangelie volgens
Mattheus het 5 groot gedeeltes met woorde van Jesus bymekaar gegroepeer
(hoofstukke 5-7 bergrede oor die lewe in die koninkryk van die hemele; 10 die
sending van die kerk; 13 sewe gelykenisse oor die koninkryk; 18 oor die kerk;
23-26 teen die Fariseërs en Sadduseërs en die profetiese rede). Waarskynlik het
hy uit Antiogië geskryf. Hy verwys telkens na die vervulling van die Ou
Testamentiese beloftes met Jesus se koms.   

Jakobus die kleine,
is die seun van Alfeus en Maria, een van die vroue van Galilea wat Jesus gevolg
en bedien het (Luk 6:15; Mark 15:40-41).

Simon die Seloot
of Yweraar (Luk 6:15 en Hand 1:13) word in Mattheus 19:4 Kananeus genoem, soos
in Markus 3:20. Kananaios is die Aramese woord vir die Griekse zêlōtes
wat ‘yweraar’ beteken. Dit kan verwys na ’n lid van ’n Joodse nasionalistiese
groep wat hulle beywer het vir Kanaän se politieke onafhanklikheid van Rome. In
Handelinge 21:38 word verwys na die Sikariërs (dolkdraers) wat selfs Jode wat
met Rome gesimpatiseer het, doodgemaak het. Dan het Jesus ’n tollenaar wat met
Rome saamgewerk het en ’n seloot wat teen Rome gewerk het, in sy dissipelgroep
opgeneem en hulle met mekaar laat versoen. Simon kon egter die bynaam Yweraar
gekry het bloot omdat hy ’n ywerige persoon was.   

Judas seun van Jakobus
(Luk 6:16; Hand 1:13) word in Mattheus 10:3 Taddeus genoem (waarskynlik ’n vorm
van Theodotus, ‘Geskenk van God.’ In Johannes 14:22 vra hy vir Jesus ‘Here hoe
is dit dat U Uself aan ons gaan bekend maak en nie aan die wêreld nie?’ En hy
ontvang die wonderlike antwoord van God se grootste geskenk aan ’n gelowige in
vers 23: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader
sal hom liefhê en ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Vir die wêreldlinge,
wat nie vir Jesus liefhet nie deurdat hulle nie sy woord ter harte neem nie,
waarsku Jesus: ‘Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van my
Vader wat My gestuur het.’ Wie Jesus se woorde nie aanvaar nie, verwerp
daardeur vir God. Verder weet ons niks van hierdie Judas nie.  

Hierdie uiteenlopende groep
het almal eensgesind volhard in gebed
– saam met die vroue, waarskynlik
Maria Magdalena, en Johanna en Maria die moeder van Jakobus die kleine en ’n
paar ander vroue saam met hulle, wat van die leë graf af deur die twee engele
ontmoet is (Lukas 24:10). 

Ook saam met hulle was Maria,
die moeder van Jesus, en sy broers. Sy broers, wat eers nie in Hom geglo
het nie (Joh 7:5), is nou saam met sy getroue volgelinge eensgesind in gebed.
In Mark 6:3 en Mattheus 13:55 word sy broers genoem: Jakobus, Joses, Judas en
Simon.

Jakobus,
die broer van Jesus, word die leier van die gemeente in Jerusalem nadat die
apostels uit die stad moes padgee weens die vervolging teen hulle. Paulus noem
hom eerste as een van die pilare van die kerk saam met Sefas en Johannes (Gal
2:9) en dat Jesus na sy opstanding aan Jakobus verskyn het (1 Kor 15:7). By die
Jerusalemvergadering van apostels en ouderlinge het Jakobus die laaste woord
gehad en die besluit van die vergadering geformuleer (Hand 15:13-21). Met
Paulus se terugkoms in Jerusalem na sy derde sendingreis kom doen hy verslag
aan Jakobus en die ouderlinge (Hand 21:18). Jakobus skryf ook die brief aan die
twaalf stamme in die verstrooiing, die gelowige Jode wat buite Palestina woon.
Hy noem homself ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus (Jak 1:1).
Eusebius skryf dat Hegisippus vertel het dat die priesters hom van die toring
van die tempel afgegooi het, dat hy vir hulle gebid het en dat hulle hom met
klippe gegooi het en een hom met ’n knuppel oor die kop doodgeslaan het omdat
hy van die toring af verkondig het dat Jesus aan die regterhand van God sit en
weer met die wolke sal kom (vgl. Luk 22:69; 21:27). Hy is toe op die
tempelterrein begrawe.

In sy brief noem Judas
homself ‘dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus’ (Judas 1:1). Judas
en Jakobus is albei broers van Jesus (Mark 6:3). Hy waarsku baie ernstig teen
die valse leer wat in die gemeentes inkruip en roep die gemeentes op om in die
liefde van God te bly; met die verwagting van die ewige lewe deur die
ontferming van ons Here Jesus Christus; en om hulle te ontferm oor dié wat
twyfel; ook om ander te red deur hulle uit die vuur te ruk. Die Here het die
mag om ons van struikeling te bewaar
(Judas 1:24).

Van die ander twee broers van Jesus, Joses en Simon, is niks verder bekend nie.  Hulle het ‘eensgesind’ (homothumadon dieseldeoor iets dink en daaroor saamstem), ‘hulle toegewy’ (proskartereō jouself toewy,  daarmee aanhou – volhard) ‘in gebed’ – hulleself in die hande van God oorgegee, in afwagting op die vervulling van die Vader se belofte (Hand 1:5).

Skrywer: Prof Francois Malan