Die Handelinge van die Apostels: Die gemeente se gebed om vrymoedigheid (Hand 4:23-31) – Francois Malan
4:23 As vrygelatenes deur die Raad (4:21) is die eerste gedagte by Petrus en Johannes om na hulle ‘eie mense’ te gaan, die gemeente van Christusgelowiges bymekaar te kry en te vertel wat met hulle gebeur het. Wie en waar die ‘eie mense’ was, word nie gesê nie. Dit is egter nie ’n gesprek oor wat die gelowiges moet doen teen die vervolging wat nou van die Raad se kant af begin het nie. Dit is ’n gebed, die grootste gebed in die Nuwe Testament, wat herinner aan Hiskia se gebed in die tempel (Jes 37:16-20; 2 Kon 19:15-19). Dit is ’n gesprek met God oor wat gebeur het, en hulle loof die Here in reaksie op die groot verlossingsdade van God. Die geloofsekerheid van die Christelike gemeente word gestel teenoor die onsekerheid van die Joodse leiers; en die eensgesindheid tussen die gelowiges teenoor die tweespalt tussen die leiers en die volk. Hulle vertel die Here wat die leierpriesters (die Sadduseër-dagbestuur van die Sanhedrin) en die familiehoofde vir hulle gesê het (4:17,21), soos Hiskia die brief van Sanherib voor die Here gelê het.
4:24 Toe hulle die verslag van die apostels hoor, het die gemeente eensgesind (homothumadon, soos in Hand 1:14, almal met dieselfde gedagte) God geloof (hulle stemme tot God verhef) en gesê: ‘Soewereine Heerser (despotês wat volkome beheer het, soos in Luk 2:29) U wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin (in die hemel en op die aarde en in meer en see) gemaak het – soos in Eksodus 20:1 as deel van die vierde gebod, en in Ps 146:6 as deel van Israel se lofsang/‘Halleluja.’ Die hemel verwys na die hemelruim met al die hemelliggame soos die son maan en sterre; alles op aarde verwys na plante, diere, mense op die vlaktes, berge en in bosse; thalassa verwys na mere en die see (soet en sout water) – oor die ganse heelal heers Hy as Skepper en Onderhouer. Daarom is Hy ook Heer oor die geskiedenis van sy skepping en hou Hy ons lot in sy hande (vgl. Jes 37:16).
4:25 Soewereine Heerser, U ‘wat deur die Heilige Gees, by monde van ons voorvader, u dienskneg Dawid, gesê het:
Die gemeente verwys in hulle gebed na Psalm 2:1-2 as ’n profesie van Dawid, en Lukas haal die Griekse vertaling daarvan aan. Hulle aanvaar dat Dawid dié profetiese Psalm onder die leiding van die Heilige Gees geskryf het, en daarom God se eie woord is, Hy wat die Alleenheerser oor sy skepping is. Dawid word ‘ons voorvader’ en ‘u dienskneg’ genoem. Daarmee onderwerp die gemeente hulle as kinders van hulle voorvader Dawid as diensknegte van God, die Alleenheerser. Die woord pais word vir ’n persoonlike slaaf of vir ’n kind gebruik. Jesus is Dienskneg van die Here volgens Jesaja 52-53, en Kind/Seun van God soos die Nuwe Testament Hom bekend maak. Paulus gebruik nie die woord pais nie, maar tekna vir kinders, bv. ‘Almal wat deur die Heilige Gees gelei word, hulle is kinders van God’ (kinders tekna – van tiktō geboorte gee) omdat hulle aan die Seun van God verbind is in geloof, wat deur die Heilige Gees geskenk word.
4:26 Ps 2 sê: ‘Waarom gaan die nasies te kere’ – die werkwoord frussō verbind woede met sterk teenstand, uitvaar en uitskel,om brutale woede te wys ‘…en bedink die volke nietige dinge?’- meletaō ernstig bedink en beplan aan ’n komplot; kena leë dinge, dwase dinge, wat geen doel dien nie. Die konings van die aarde het hulleself opgestel en die heersers het op een plek bymekaargekom teen die Here en teen sy Gesalfde (sy Christus).’
Die Jode het ook Ps 2 as ’n Messiaanse Psalm beskou wat op hulle konings as God se gesalfde (Messias/Christus) toegepas is, en hier pas die gemeente van Christus dit toe op die teenstand van die leiers en konings wat teen Jesus saamgespan het. Nou is die woorde van Dawid, wat op sy tyd ook die tipe teenstand beleef het, in Jesus vervul.
4:27 Die gebed van die gemeente gaan voort om aan God te vertel hoe koning Herodus en goewerneur Pontius Pilatus (vgl. bv. Luk 23:12), saam met die heidene (die soldate wat Jesus bespot en gekruisig het) en die volke van Israel (Israeliete uit verskillende stamme) in hierdie stad (in Jerusalem het dit toe werklik gebeur) saamgespan het teen God se heilige Dienskneg/Seun Jesus, wat U gesalf het (echrisas, verlede tyd van chriō, salf as teken van aanstelling en bonatuurlike toerusting vir ’n taak). ‘Heilig’ beteken toegewy aan die diens van God, en met goddelike eienskappe toegerus. Dat God vir Jesus gesalf het (met verwysing na die Heilige Gees wat op Hom gekom het na sy doop, vgl. Luk 3:21-22), bevestig dat Hy die beloofde en verwagte Messias van God is. Vers 27 verwys na waarneembare feite. Vers 28 praat in die geloof dat Jesus se teenstanders niks anders kon doen as om God se plan uit te voer nie.
4:28 In hulle gebed tot God sê die gemeente eintlik met die tong in die kies, dat die leiers en groepe wat in vers 27 genoem is, met hulle brutale woede om Jesus uit te wis, iets saam bedink het wat toe net mooi anders as wat hulle beplan het, uitgewerk het. ‘Hulle het (saamgespan) om alles te doen wat U deur u hand (figuurlik vir u krag of mag) en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur.’ Hulle het teen Jesus saamgespan sonder om te weet dat hulle besig was om God se krag aan die werk te stel om Jesus te laat opstaan uit die dood en so die krag van die dood te breek, die dood wat God as straf oor die mens se sonde gegee het (Gen 2:17). Met hulle lawaai teen Jesus het hulle God se verlossingsplan deurgevoer. Uit liefde het Jesus God se straf op die mensdom se sonde op Hom geneem en die mens se verhouding met God reggestel. In sy wysheid het God hulle dwase geskreeu, ‘Kruisig, kruisig Hom!’ (Luk 23:21) gebruik om sy verlossingsplan vir die wêreld uit te voer. Ps 2:4 sê: ‘Hy wat in die hemel sit, sal lag; my Heer dryf die spot met hulle.’ Die gemeente dank nie die Here dat die apostels vrygelaat is nie, maar prys God omdat sy raadsplan vervul is. Die Here het sy plan uitgevoer selfs deur die optrede van goddelose mense; en nou ook met die Sanhedrin se optrede teen die apostels.
4:29 ‘En nou oor dié dinge…’ met verwysing na wat nou met die apostels by die raadsvergadering gebeur het, ‘…Here (kurios kan verwys na God die Vader en/of na Jesus), slaan ag op (eforaō om spesiale aandag te gee aan iets, met die implikasie om jou daarmee te bemoei, soos in Jer 37:17) hulle dreigemente…’ die gemeente brei nie hierop uit nie. Dit gaan nie soseer oor die Raad se dreiging van die apostels nie, maar oor hulle eintlike dreiging teen Jesus, dat sy Naam nie eers uit hulle mond gehoor mag word nie. Sy lyding word voortgesit deur wat aan sy diensknegte gedoen word.
‘…en gee aan u diensknegte (douloi slawe) om u woord met alle vrymoedigheid te spreek…’ ‘Om u woord te spreek’ het in die vroeë kerk ’n tegniese term geword vir hulle prediking van die goeie nuus oor en van Jesus. Hulle sien hulle prediking as die Here wat deur hulle spreek. Dit is ‘u woord,’ en daarom is die dreiging eintlik teen Hom. Hulle is slegs hulle Here se persoonlike slawe wat sy wil uitvoer. ‘Met alle vrymoedigheid’ beteken sonder enige vrees en met volle vertroue op Hom, om sy woord te verkondig, terwyl hulle juis verbied is om dit te doen.
4:30 ‘deur u (magsvolle) hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige pais, Dienskneg/Seun, Jesus geskied.’ So het Jesus ook sy hand uitgesteek en die melaatse genees (Luk 5:13). Deur genesings en wondertekens sal die Naam van Jesus as Redder bevestig word. So sien die apostels dat Jesus se genesende hand in en deur hulle swak hande werk, soos toe Petrus die lamme aan die hand gegryp het en hy op die woord ‘stap’ genees opgestaan en geloop het (3:7). Daarmee word die gebed van die gemeente afgesluit. 4:31 Nadat hulle by die Here gepleit het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud (saleuō nie so hewig soos ’n seismos, aardbewing, nie). Die skudding is ‘n teken van die werking van die hand van die Here, vgl. Eks 19:18 toe Sinaiberg geskud het; en Jesaja 6:4 dat die deure gerammel het van die serafs se geroep. ‘En almal van hulle (die hele gemeente) is met die Heilige Gees vervul en het die woord van God (oor Jesus se woorde en werke) met vrymoedigheid verkondig’ – soos hulle van die Here gevra het. Soos die Heilige Gees die 120 gelowiges op die Pinksterdag vervul het om oor die groot dade van God te getuig (2:4), word die hele groeiende gemeente deur die Heilige Gees toegerus om die woord van die Here te verkondig. Op dieselfde dag waarop die apostels verbied is om van Jesus te getuig, rus die Here die hele gemeente toe om vrymoedig oor Hom te getuig.
Skrywer: Prof Francois Malan