Die Handelinge van die Apostels: Die Jode sleep Paulus uit die tempel (Hand 21:27-36) – Francois Malan

image_pdfimage_print

21:27 Toe die sewe dae (van hulle reiniging) beëindig is met die tweede besprinkeling met reinigingswater op die sewende dag, het Paulus se swaarkry, wat in 20:23 voorspel is, begin. Jode uit Efese (v29) waar Paulus vir drie jaar gewerk het, in hulle oë die verraaier van sy volk en die wet en die tempel, het hom in die tempel gesien. Dit was waarskynlik toe hy in die voorhof van die Israeliete besig was om te betaal vir die offer van die vier manne se beëindiging van hulle toewyding aan die Here. Die Jode uit die diaspora, Paulus se doodsvyande (Hand 9:23; 14:19), het vir die Pinksterfees na Jerusalem toe gekom (Hand 20:16). Hulle het die hele menigte feesgangers tot ’n oproer opgesweep en die hande aan Paulus geslaan.

21:28 Die buitelandse Jode het hard geskreeu: ‘Manne, Israeliete, help!’ so asof hulle en alles wat vir hulle heilig is in die grootste gevaar verkeer. ‘Israeliete’ is die verbondsnaam wat teruggaan na Jakob se stryd teen God en teen mense, by die Jabbokrivier (Gen 32:28). ‘Kom help ons teen hierdie man wat almal orals (pántas pantachei gelykluidende woordspeling) leer teen die volk (laós die volk van God) en teen die wet (nómos, wet van Moses) en teen hierdie plek (tópos plek, die tempel).’ Dit is ’n herhaling van dieselfde toneel en van dieselfde aanklagte wat die lede van die sinagoge van die Libertyne teen Stefanus ingebring het, ten aanhore van Saulus (Hand 6:11-14). 

Om sake te vererger skreeu hulle: ‘Boonop het hy Grieke (nie-Jode) ingebring in die heiligdom’ (hierón hier waarskynlik vir die binneste voorhof wat 3 meter hoër as die buitenste voorhof van die heidene geleë was en met ystertraliewerk geskei was. Daar was ook ‘n kennisgewing in Grieks en Latyn by die 12 trappe na die binneste voorhof wat gelui het: ‘Geen nie-Jood mag die ruimte binne die grens (sorêg in Hebreeus/drúfaktos in Grieks) en die terras om die tempel betree nie. Wie daar betrap word sal self die gevolg dra, naamlik die doodstraf’). ‘So het hy (Paulus) hierdie plek ontheilig!’ skreeu hulle (vgl. Eseg 44:9 vir die verbod teen ontwyding van die eerste tempel deur onbesnede uitlanders; Jes 56:6-7 vir die verwelkoming van gelowige nie-Jode in die Here se huis van gebed vir al die volke, in die tweede tempel. Jesaja se woorde word volgens Markus 11:17 deur Jesus aangehaal met sy reiniging van die tempel se voorhof van die heidene). Dit is ironies dat hulle Paulus beskuldig van ontheiliging van die tempel toe hy pas gereinig was om in die tempelterrein in te gaan met die vier Joodse christene. 

21:29 Lukas verduidelik waar die misverstand van die Jode uit Efese vandaan gekom het. Hulle het vir Trofimus, die Efesiër, wat Asië se kollekte vir Jerusalem se arm Joodse christene gebring het (Hand 20:4), vroeër saam met Paulus in die stad gesien (vir Trofimus vgl. 2 Tim 4:20). Hulle het gedink dat Paulus hom in die tempel ingebring het. Hulle het geglo dat Paulus die tempel as ontmoetingsplek met die Here afgeskryf het. 1 Korinthiërs 3:16-17, wat Paulus uit Efese geskryf het, lui soos volg: Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen, want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle (die gemeente, vgl. ook 1 Kor 6:19-20 dat elke gelowige se liggaam ook ‘n tempel van God is).’ Jesus is al aangekla omdat Hy sou gesê het dat Hy die tempel wat met hande gebou is, sal afbreek en binne drie dae weer opbou (Mark 14:58; Matt 26:60-61; vgl. Joh 2:19-21 dat Jesus gesê het die Jode moet die tempel afbreek). 

21:30  ‘Die hele stad is tot ’n oproer aangepor, daar was ’n samedromming van die volk (laós) wat vir Paulus gegryp het, en hom uit die tempelterrein gesleep het..’ (imperfektum werkwoord wat voortgang van sleep aandui tussen al die punktuele verlede tye). Hulle doel was om hom buite die heiligdom dood te maak (v31) om nie die heiligdom met sy bloed te besoedel nie (2 Kon 11:15). Onmiddellik is die hekke gesluit’ – om die heiligheid van die tempel te bewaar teen oproer en moord.

21:31 Die burg Antonia – deur Herodus so genoem na sy vriend Marcus Antonius – was die soldate se kaserne teenaan die noord-westelike hoek van die tempel in Jerusalem met twee stelle trappe af tot by die tempelterrein. Met die Jode se feestye het die goewerneur meer soldate van Sesarea af na Jerusalem gestuur om die orde te handhaaf. Die kontingent kon tussen 600 en 1 000 soldate uitmaak. Op die dakke van die pilaargange van die tempelterrein was daar wagposte van die soldate. Die hoof van ‘n afdeling soldate (owerste oor 1 000, chiliarg) het van die oproer in die stad verneem. Die soldate was juis daar om korte mette met oproere te maak.

21:32 Die kommandant het dadelik uit die burg Antonia met sy soldate en hulle afdelingshoofde oor 100 Romeinse soldate (hekatontarg) op die oproeriges afgestorm, net toe die volk besig was om van Paulus die offerande van hulle woede probeer maak het. Toe die Jode die kommandant en die soldate sien, het hulle met hulle aanhoudende slae op Paulus opgehou. Paulus vertel in 2 Korinthiërs 11:24 dat die Jode hom drie maal met stokke geslaan het. Hierdie was waarskynlik een van die drie keer. Aan die einde van sy lewe skryf Paulus in 2 Timotheur 3:11 ‘Watter vervolgings ek ook al verduur het – die Here het my van alles gered!’ Hier het die Here weer op die kritieke oomblik ingegryp om sy getuie deur die Romeinse soldate uit die hande van die Jode te red.

21:33 Toe die kommandant by Paulus kom, het hy hom gearresteer en beveel dat Paulus met twee kettings gebind moet word. Waarskynlik was Paulus aan twee soldate weerskante van hom vasgeketting omdat die kommandant gemeen het dat Paulus ’n gevaarlike opstandeling is wat die rede vir die oproer is (vers 38). Ágabus se profesie het gesê die Jode sal hom bind en aan die heidene oorgee (Hand 21:11). Dit word amper net so vervul. Die kommandant doen navraag by die skare wie die man is en wat hy gedoen het dat hulle hom so slaan, maar kry verskillende antwoorde, soos uit vers 34 blyk. 

21:34 Met die deurmekaar antwoorde wat hy uit die luidrugtige skare kry – party het seker nie eers geweet waaroor die oproer gaan nie – kon hy nie mooi agterkom wat aangaan nie, en besluit om vir Paulus na die burg Antonio te neem vir ondervraging onder geselhoue (22:24) om by die waarheid uit te kom. Die kommandant is duidelik versigtig regverdig om nie oorhaastig ’n besluit oor optrede te neem nie. Volgens Handelinge was die christene baie beter en regverdiger behandel deur die Romeine as deur die Jode.

21:35 Toe hulle by die trappe kom moes die soldate Paulus dra om hom uit die wilde wrede hande van die Jode te hou,  wat daar met geweld om hulle saamgedrom het.

21:36 Lukas skilder die gebeure van die dag. Die volksmassa was so opgewerk dat hulle die soldate gevolg het na die burg en by die trappe Paulus en die twee soldate omsingel het, sodat die soldate Paulus moes optel om oor die Jode se koppe die trappe te bestyg. Die skare skreeu aanmekaar ‘Weg met hom!’ Dit is nie soseer ’n opdrag aan die soldate nie, maar die uiting van hulle gevoelens oor Paulus. Hy moet vernietig word. Maak hom dood. Hulle wil hom ten alle koste dood hê (Hand 22:22; 23:12; 25:3). So het die Jode voor Pilatus ook oor Jesus geskreeu ‘Weg met Hom!” (haire autón, Luk. 23:18). Jesus en sy leer moes as godslasteraar vernietig word (Mark 14:64; Matt 26:65-66; vgl. Deutr 13:1-10), so ook Paulus, Jesus se getuie.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...