Die Handelinge van die Apostels: Die eerste gemeente (Hand 2:42-47) – Francois Malan
2:42 Na die beskrywing van die Pinkstergebeure voeg Lukas belangrike sake in oor die lewe van die eerste gemeente. Bestendigheid is vir die geestelike lewe saam met Christus net so belangrik soos die begin daarvan (vgl. Joh 15:4 ‘Bly in My soos Ek in julle…’ Volhard (proskartereō) om te midde van moeilikhede aan te hou met toegewyde diens aan mekaar. Die lede van die eerste gemeente het bly volhard in vier sake wat die lewe van die eerste gemeente tipeer:
1) ‘in die onderrig/leer (didachê die inhoud van wat geleer word) van die apostels…’ – hulle het gretig geluister na die onderrig wat die apostels gegee het (vgl. Jesus se opdrag in Matt 28: maak dissipels…doop hulle…en leer (didaskō) hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het). Die inhoud van die lering gaan oor die groot dade van God in die optrede van Jesus (Hand 2:11), veral oor die betekenis van sy kruisiging en opstanding uit die dood (Hand 2:32; 4:33) en die verklaring van die Ou Testament in die lig van Christus se opstanding, soos in Petrus se preek.
2) ‘en in die gemeenskap…’ (koinōnia noue wedersydse verhoudings) – dit beteken dat hulle gereeld saamgekom het, met vreugde in die kontak met mekaar en in die teenwoordigheid van hulle opgestane Here, deur die inwoning van die Heilige Gees in hulle. Dit sluit in dat hulle vir mekaar daar is, om mekaar te versorg en te dien.In Markus 10:45 het Jesus gesê dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. In Johannes 13:14-15 het Jesus gesê: ‘As Ek, julle Here en Leermeester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het immers vir julle ’n voorbeeld gegee sodat julle ook kan maak soos Ek gemaak het.’
3) ‘in die breking van die brood…’ wat wys na hulle saam eet, die sogenaamde liefdesmaal (agapê), waar veral behoeftiges gevoed is deur meer gegoede lidmate, met die viering van die nagmaal daarna. So het Jesus as huisvader die brood gebreek aan die begin van die maaltyd saam met die Emmausgangers (Luk 24:30), en het Jesus met die instelling van die nagmaal die brood gebreek tydens die paasmaaltyd (Luk 22:19). Dit is ’n herinnering aan die maaltydgemeenskap van Jesus met sy dissipels en die voortsetting daarvan deur die opgestane Here Jesus saam met sy gelowige volgelinge by hulle liefdesmaaltye (vgl. Judas 12 se liefdesmaaltye; 2 Petrus 2:13 verwys na ‘julle liefdesfeeste’ – agapais; 1 Kor 11:20-22 se saamkom vir die Here se maaltyd, 1 Kor 11:33-34 saamkom om te eet).
4) ‘en in die gebede’ – om in hulle samekomste met God te praat, met die Psalmboek as hulle gebedeboek, die Onse Vader wat Jesus hulle geleer het, saam met lofsange, bv. van Maria en Sagaria (Luk 1:46-55; 68-79) in voortsetting van die Ou Testamentiese lofsange, en die nuwe psalms, lofgesange en geestelike liedere wat hulle gemaak het, waarna in Efesiërs 5:19 en Kolossense 3:16 verwys word. ‘…maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank (Flp 4:6).
2:43-47 Die verse beskryf hoe die gemeentelede geleef het, en is ’n inleiding tot die eersvolgende hoofstukke. Vers 43 lei wonderdade in, wat in 3:1-10 en 5:12-16 beskryf word. Verse 44-45 verwys na die uitdeel van besittings soos in 4:32-37; 5:1-11. Verse 46-47a vertel van die nederige lewe van die gemeentelede en hulle aanvaarding deur die gewone mense teenoor die offisiële teenstand teen hulle (4:1-22; 5:42). Vers 47b beklemtoon die konstante uitbreiding van die gemeente (4:4,31; 5:42).
2:43 Die Here het baie wonders en tekens deur die apostels laat plaasvind. Wonders (terata) verwys in Hand 2:19 na wonders in die hemelruim, maar in die res van Handelinge veral na wondergenesings, bv. 4:30; wondersterftes van Ananias en Saffira 5:12; na die wonders in Egipte en by die Rooi See 7:36; vgl. ook 6:8; 14:3; 15:12. Tekens (sêmeia) word telkens saam met wonders gestel om die betekenis van die gebeure te beklemtoon, veral van wondergenesings 4:22; in 2:19 van tekens onder op die aarde. Die gevolg van die wonders en tekens was dat ‘almal’ (letterlik: elke siel) met ontsag (fobos groot ontsag vir God) vervul is oor die werk van die Here deur die apostels. Die woord fobos beteken ook ‘vrees’ en verwys waarskynlik na die ongelowiges wat gevrees het. Die wonders en tekens was ’n bewys dat die apostels as gestuurdes van Jesus die waarheid oor Hom verkondig.
2:44 ‘Al die gelowiges (mense wat in Jesus geglo het) was saam (letterlik: was op een plek)…’ Hulle het voortgegaan om in noue verbondenheid met mekaar te lewe. Dit beteken nie dat almal saam gebly het nie, maar dat hulle gereeld bymekaar gekom het.
‘…en het alles met mekaar gedeel’ (eichon hapanta koina letterlik: ‘alles gemeenskaplik te hê,’ is ’n idioom vir om alles met mekaar te deel). Dit beteken nie dat hulle al hulle besittings prysgegee het nie, maar dat hulle besittings beskikbaar was om ander in nood te help, soos uit die volgende verse blyk.
2:45 Die vers verduidelik wat in vers 44 gesê is oor die uitdeel van hulle eiendom (ktêmata eiendom verwys gewoonlik na grond, en besittings (huparkseis dingewat aan iemand behoort). Die twee woorde saam beklemtoon dat alle soorte besittings beskikbaar was. Van hulle het van hulle besittings verkoop en uitgedeel aan almal (gelowiges), volgens die mate wat iemand behoefte het. Die besluit om van tyd tot tyd van jou besittings te verkoop om dit vrywillig te kan uitdeel (vgl. 5:4) wys hoe die Heilige Gees hulle barmhartig teenoor behoeftiges gemaak het, en spreek van hulle liefdesband, hulle koinōnia met mekaar.
2:46 Die vers gee ’n aanduiding van die godsdienstige lewe in die gemeente. ‘Met wedersydse ooreenkoms (homothumadon) het hulle daagliks met toewyding volhard in die tempel (en tōi hierōi)’ – hulle het die tempel besoek vir lering en aanbidding, soos Jesus (Luk 4:16), ‘en het van huis tot huis (te kat’ oikon) brood gebreek’ – ’n gemeenskaplike maal geniet. Kenmerke van hierdie ‘saam gebruik van voedsel’ in mekaar se huise word genoem: dit het geskied met intense vreugde-en-vrolikheid van hart, met nederigheid teenoor mekaar, en eenvoudigheid van hart, harte wat heeltemal op God gerig was. In die hele Nuwe Testament word gepraat van die vreugde wat die evangelie en die Heilige Gees in die gelowiges werk: Hand 8:8 vreugde in Samaria; 8:39 die eunuch wat sy reis met blydskap voortgesit het; 13:48 die heidene van Antiogië; 13:52 Ikonium se nuwe gelowiges; 15:3 groot vreugde oor die bekering van die heidene; 16:34 die tronkbewaarder en sy hele huishouding was jubelend; Gal 5:22 blydskap as vrug van die Gees; Flp 4:4 Verbly julle altyd in die Here; 1 Thess 1:6 met blydskap die Heilige Gees ontvang; Jak 1:2 groot vreugde as beproewings julle oorval.
2:47 Hulle het God deurentyd geprys – sy goedheid besing. Hulle lewe was ’n lewe van dankbaarheid teenoor God vir sy genadige verlossing deur Jesus se offer vir ons sonde, en sy inwoning deur die Heilige Gees.
Die hele volk was hulle goedgesind – dit teenoor die gesindheid van die godsdienstige leiers in hoofstuk 4:1-22; 5:17-41. Die eerste tekens van teenstand van die volk se kant af begin in hoofstuk 6:8, wat toeneem totdat die apostels vir hulle lewe moes vlug uit Jerusalem in 12:1-17. Dit volg die patroon van Jesus se lewe in die Lukas Evangelie, wat aanvanklik toegeneem het in guns onder die mense (Luk 2:52), almal wat met lof oor sy onderrig gepraat het (Luk 4:15) en sy verwerping wat in Nasaret begin het (Luk 4:29).
Die gedeelte word afgesluit met ’n opsomming oor die lewe van die eerste gemeente: ‘En die Here (Jesus) het daagliks (dag vir dag) verlostes by hulle getal gevoeg.’ Die passiewe deelwoord ‘verlostes’ wys dat dit Jesus is wat die mense van hulle sonde verlos het en hulle verhouding met God reggemaak het (vgl Joh 16:8-11)). Deur die Heilige Gees is hulle van hulle sonde oortuig en deur die prediking het Hy hulle tot geloof in Jesus gelei. Die getal wat daagliks gegroei het tot ongeveer 3000 mense is die vervulling van die Here se belofte in Joël 2:32 oor die gevolg van die uitgieting van die Heilige Gees: ‘Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word…Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is.’
Skrywer: Prof Francois Malan