Die Handelinge van die Apostels: Die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 2:1-4) – Francois Malan

Met Pinksterfees (pentekoste ‘vyftigste’
op die vyftigste dag na paasfees) vier die Jode die oesfees. Die eerste gerwe
wat op die land gesny word aan die begin van die koringoes, word op Paasfees,
met die aanbreek van die sewe dae se ongesuurde brood, as offer aan die Here
gebring (Eks 23:15-16a). Die fees van die weke word sewe weke na die
paasfees gevier, en daarom Pinksterfees genoem. Dit word ook die fees
van die insameling genoem, wanneer die vrug van die arbeid op die lande
ingesamel is (Eks 23:16b; 34:22b; Lev 23:15-21: van die dag ná die Sabbat
af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet
julle sewe volle weke tel. Die dag ná die sewende Sabbat, op die vyftigste dag
(Sondag), moet julle vir die Here ’n graanoffer bring uit die pasgeoeste
graan, brode van drie kilogram meel met suurdeeg gebak, sewe jaaroud lammers
sonder liggaamsgebrek, ’n jong bul en twee ramme, en drankoffers. Niemand mag
op die dag werk nie en julle moet ’n gewyde byeenkoms hou; Deutr 16:9-12: Vier
die fees van die weke tot eer van die Here. In die mate waarin die Here jou God
jou geseën het, moet jy ’n vrywillige offer  vir Hom bring. In die plek wat die Here jou
God sal kies om sy Naam daar te laat woon, moet jy bly wees in die
teenwoordigheid van die Here jou God…met jou hele gesin.

Ná die verwoesting van Jerusalem in 70
n.C. word die Pinksterfees vir die Jode ’n fees oor die wetgewing by Sinai
en sedert die tweede eeu n.C. word Eksodus 19 op dié dag voorgelees. Die
Paasfees is in Eksodus 12 verbind aan die nag van die bevryding van Israel uit
Egipte. Volgens Eks 19:1 kom hulle drie maande daarna in die Sinaiwoestyn aan
(3×28 dae = 84 dae) en word die wet (Eks 20) enkele dae daarna deur die Here
van die berg af aangekondig.

2:1 Na sy opstanding op die derde dag
vanaf sy kruisiging (van Goeie Vrydag tot Sondag met sy opstanding) het Jesus
gedurende die volgende 40 dae voor sy hemelvaart aan sy dissipels verskyn (Hand
1:3). Daarna moes hulle 10 dae wag tot die uitstorting van die Heilige Gees op
Pinksterdag. Die dag van die Joodse Pinksterfees, die 50ste dag na paasfees, is
weer ’n Sondag en ’n fees van volheid en vreugde wanneer die volle oes
ingesamel is. 

‘Toe die dag van die Pinksterfees
aanbreek
…’ Lukas gebruik vir ‘aanbreek’ die woord sumplêrousthai wat
verwys na die einde van ’n periode met die implikasie van die voltooiing van ’n
mikpunt of ’n plan. Daarmee word hierdie eerste Pinksterdag van die kerk
voorgestel as die vervulling van Jesus se doel met sy aardse bediening. Die
doel van Jesus se aardse bediening is sy voortgaande werk deur die Heilige Gees
in en deur sy volgelinge tot by sy wederkoms.

Die saamwees van die eerste groep op
een plek, wys ook na die gemeenskap van die gelowiges (vgl. Joh 17:22-23).
Paulus noem die gemeente ’n tempel van God waarin die Heilige Gees woon
(2 Kor 3:16-17). In 1 Kor 6:19 noem hy elke gelowige se liggaam die tempel van
die Heilige Gees in ons. Hulle (die groep) was almal op ‘een’ (auto dieselfde)
plek ‘bymekaar’ (homou saam). Die ‘hulle’ verwys na die twaalf apostels
(1:26) en waarskynlik ook na die res van die ongeveer 120 mense van Hand 1:15.
Die samekoms op een plek sou seker ook op die tempelterrein gewees het (vgl. by
1:15 se bespreking), waar die menigte ook saamgedrom het (2:6).

2:2 Skielik (agnō met die
implikasie van onverwags) was daar uit die hemel ’n geluid soos van ’n magtige
stormwind wat aankom en die geluid het die hele huis waarin hulle
sit, gevul
(êchos geluid, gedruis; plêroō volmaak. Die ‘huis’
verwys waarskynlik na die tempelterrein waar Jesus voor die Paasfees onderrig
gegee het (Luk 21:37-38) en waar die Raad Hom die Vrydag teen dagbreek
offisieel verhoor het. Daar het Jesus gesê het dat hulle Hom van nou af sal
sien sit aan die regterhand van die mag van God (Luk 22:66,69). Die woord oikos
word gebruik vir ’n woonhuis, ’n heiligdom en vir ’n tempel. Die tempel
word as die huis van God beskryf (vgl. Hand 7:47-48; Luk 6:4;19:46; Matt 12:4;
Eseg 9:6; Jes 6:3-4).

Die tempelterrein was in Jesus
se tyd 15 hektaar groot, rondom met ’n dubbele muur ommuur om die gewyde gebied
van die wêreld af te grens (Eseg 42:20) met poorte aan elk van die vier kante,
en binne die groot tempel, die heiligdom (letterlik ‘huis;’ Luk 11:51, 2 Kron 24:21),
en rondom die tempel die afsonderlike voorhowe, die voorhof van die priesters
met die brandofferaltaar en die waskom, die voorhof van die Israeliete, van die
vroue, en van die heidene waaruit Jesus die verkopers en kopers gejaag het
(Mark 11:15). Om die tempel was die skatkamers, die pilaargang van Salomo (Joh
10:23; Hand 3:11) wat toegang tot vergadersale aan die oostekant gebied het,
sowel as die westelike pilaargang met die koninklike sale. In een saal het die
twaalfjarige Jesus destyds by die leermeesters gesit (Luk 2:46), die Sanhedrin
het ’n raadsaal vir sy 71 lede gehad; ens.   

Dat die geluid uit die hemel gekom
het, beteken dat dit van God af gekom het (vgl. Luk 3:21-22; 11:16: die teken
uit die hemel wat hulle gevra het; Luk 20:4-5). Die geluid wat soos ’n magtige
stormwind aangekom het en die huis gevul het, is ‘n teken van God se magtige
teenwoordigheid
(2 Sam 5:24; 1 Kon 19:12; Ps 104:4). So het die sterk
helder klank van ’n ramshoring saam met die donderweer die volk in die kamp by
Sinai laat bewe (Eks 19:16; 20:18). So het die Here ook vir Job aangespreek uit
’n stormwind (Job 38:1).

2:3 Na die hoorbare teken volg die
sigbare teken: ‘en daar is gesien verdelende tonge soos van vuur, en dit (’n
tong) het op elkeen van hulle gaan sit.’ So word dit sigbaar dat die Gees van
God aan hulle elkeen gegee word. Vuur is ’n teken van God se teenwoordigheid
(vgl. 2 Thess  1:8 se vuurvlam waarin
Jesus sal terugkeer; Eks 3:2 die braambos wat nie uitbrand nie; 13:21 die
vuurkolom wat snags lig verskaf het; Ps 104:4 vlammende vuur as die Here se
dienaars). Dit is hier ’n beeld van die onbegryplike dat elkeen met die vuur
van die Heilige Gees
vervul word, en dat Hy steeds een Gees van God is en
bly (1 Joh 4:13 Hy het ons aan sy Gees laat deel kry; 1 Kor 12:11 Een en
dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik
uitdeel volgens sy wil).

Die teken van die Heilige Gees wat op Jesus neergedaal het om sy bediening te tipeer was ’n vredesduif en die vreugdestem van die Vader oor sy geliefde Seun (Luk 3:12). Die Gees werk egter onhoorbaar en onsigbaar, en die geluid en die tonge was slegs uiterlike tekens van sy koms en van die uitwerking van sy koms op Jesus se volgelinge, dat hulle vurig met luide stem sal begin getuig van Jesus en van sy koninkryk. Nadat God Homself by die brandende braambos geopenbaar het as die ‘Ek is’ wat saam met Moses gaan, moes hy voor die Farao van die HERE gaan getuig. Jesus het juis gekom om vuur op die aarde aan te steek en het gewens dat dit al aan die brand was (Luk 12:49). Nou het die vuur gekom as teken van die werk van die Gees in die gelowiges, soos deur Johannes die Doper voorspel (Luk 3:16). 2:4  ‘En almal is (deur God) vervul met die Heilige Gees…’ Die passief ‘is vervul’ impliseer dat dit God is wat dit gedoen het. Hier word nou genoem dat die geluid en die tonge tekens is van die Heilige Gees se koms. Dit is die Vader se belofte waarvan Jesus gepraat het (Hand 1:4). Vervul met die Gees beteken dat die Heilige Gees hulle totaal oorneem. Hy stel hulle ook in staat om te begin praat in ander (verstaanbare) tale (glōsseis) soos die Gees aan hulle gegee het ‘om uit te spreek’ (apoftheggomai die spesiale woord wat in die Nuwe Testament slegs in Handelinge gebruik word, verwys na die hoë kwaliteit en duidelik geartikuleerde woorde wat die Heilige Gees aan hulle gee). Die verskillende taalgroepe, wat verstaan wat in hulle tale gesê word, veronderstel dat die ongeveer 120 op wie tonge soos van vuur gaan sit het, in verskillende tale die boodskap vertolk het toe die Gees hulle in sy diens opgeneem het.

Skrywer: Prof Francois Malan