Die Handelinge van die Apostels: Die vergadering in Jerusalem (Hand 15:4b-12) – Francois Malan
15:4b Paulus en Barnabas lewer verslag (anangéllō om inligting in aansienlike besonderhede te verskaf ) van alles wat God deur hulle gedoen het in die omstandighede wat hulle ervaar het (metá). Lukas verskaf nie weer al die besonderhede van die verslag nie, maar hulle sou beklemtoon het dat dit ’n verslag is oor wat God in die heidenlande gedoen het, hoe Hy die deure na die heidene se harte geopen het vir die evangelie, hoe die apostels oor Jesus en sy opstanding getuig het, van die teenstand van die Jode teen die verkondiging van die evangelie, en die stigting van gemeentes wat in Christus glo onder die heidennasies.
15:5 Sommige van die godsdienstige groep van die Fariseërs wat gelowiges geword het en nou as gelowiges lewe (dit is die betekenis van die perfektum deelwoord pepisteukótes), het daar in die vergadering opgestaan en gesê: ‘Hulle moet besny word en beveel word om die wet van Moses te onderhou.’ Die woord fariseër beteken ‘afgesonderdes.’ Die Fariseërs was toegewy aan die studie van die Skrif). Van hulle het as Christene voortgegaan om hulle aan die studie van die Skrif te wy. Hulle kon nie dink dat die heidene gered kan word sonder die besnydenis as teken van God se verbond met Abraham en die onderhouding van die wet om jou eie geregtigheid voor God te verdien nie. In Hand 26:5 sê Paulus dat hy ook vroeër ‘volgens die strengste party in ons godsdiens, as Fariseër geleef het.’ Dit was ook die gedagte van die Judaïste wat die gemeente in Antiogië kom omkrap het (Hand 15:1-2).
15:6 Die apostels en ouderlinge is toe saamgeroep om aan hierdie uitspraak van die Fariseërlidmate aandag te gee. Volgens 15:12 was die hele gemeente teenwoordig by die gesprek. Lukas bevestig blykbaar net dat die apostels en ouderlinge wat die opsig oor die gemeentes het, die leiding geneem het met die beredenering van die Fariseërs se eis.
15:7 Na baie besprekings waarin verskillende teenstellende opinies uitgespreek is deur die gemeentelede, waaronder seker ook die Fariseërlidmate en moontlik ook die Judaīste wat in Antiogië begin werk het, het die apostel Petrus opgestaan en hulle aangespreek as ‘mense broers en susters.’ Hy herinner hulle aan die gebeure wat in hoofstuk 10:1-43 vertel is oor sy roeping om na die godvresende Romeinse hoofman Kornelius te gaan met die evangelie. Daaroor moes hy homself daarna voor hierdie selfde gemeente verweer het, soos in hoofstuk 11:1-18 vermeld is. Dit was ongeveer 10 jaar tevore, daarom verwys hy daarna as die vroeë dae. ‘Toe het God onder julle gekies dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie hoor en tot geloof in die Here Jesus kom.’ Die woord van die evangelie verwys na Jesus se woorde, sy sterwe, opstanding en hemelvaart en die betekenis daarvan. Dit is die goeie nuus van ons verlossing van ons sonde deur te glo in Jesus en sy liefdesoffer van Homself as die Seun van God aan die kruis vir ons.
15:8 Nadat Petrus oor sy verkiesing deur God en sy sending gepraat het, wys hy na wat God regstreeks buite hom aan die heidene gedoen het. ‘En God die hartekenner (kardiognōstês) het dit bevestig deurdat Hy aan hulle (die heidene wat tot geloof in Christus gekom het) die Heilige Gees gegee het, soos ook aan ons…’ Eintlik het die Here drie gawes aan die heidene gegee: die evangelie van Jesus se woorde en werk, die geloof in Jesus wat deur die Heilige Gees bewerk word (Joh 16:8-15), en die Heilige Gees self as God wat in ons kom woon het (Joh 14:15-17). As hartekenner ken God ook die gedagtes en geloof van dié mense (Jode en nie-Jode) wat Hy uit genade aanneem as sy kinders (Rom 8:14).
15:9 ‘…en Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle (Kornelius en sy mense) gemaak nie. Deur geloof (in Christus, wat ’n genadegawe van God is (Ef 2:8) het Hy (ook) hulle harte gereinig.’ Die Jode het geglo dat alle heidene onrein is. Proseliete se onreinheid moes eers deur die proseliete-doop afgewas word voordat hulle besny kon word. Maar in die Nuwe Testament is die reiniging van die hart dieselfde as vergewing van sonde deur God se genade. Reiniging beteken die wegneem van sonde wat die mens afskei van God af (Joh 1:29 ‘Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem;’ 1 Joh 1:7 die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde; 1 Joh 2:2 Hy is die soenoffer vir die sonde van die hele wêreld). Dit geskied alleen deur geloof in Christus.
God oordeel nie volgens ‘n uiterlike besnydenis of sonder besnydenis nie (1 Kor 7:19), of aan watter volk iemand behoort nie. Hy het geen onderskeid gemaak met sy gawe van die Heilige Gees aan Jode en nie-Jode nie (Gal 3:28). Dit het Petrus met sy oë gesien gebeur by Kornelius. Daarby het die Here vir hom driemaal gesê: ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie’ (Hand 10:15-16). Alleen deur geloof in Jesus en sy offer vir die sonde van die wêreld is die harte van die heidene ook gereinig, soos vir die Jode.
15:10 Die slotsom van Petrus se argument word hier gegee. As God dan die Heilige Gees gee aan gelowiges uit die heidendom sonder dat hulle besny word, is dit duidelik dat God hulle sonde vergewe slegs deur in Jesus te glo. Wie hom daarteen verset, verset hom teen God. ’n Mens toets die Here deur teen sy geopenbaarde wil op te tree om te kyk of Hy jou verdiende straf aan jou sal gee, terwyl jy sy loon verwag
Om God te toets is ’n Ou Testamentiese uitdrukking wat die Jode van Antiogië al dikwels in die sinagoge gehoor het. Toe daar in Refidim geen water was nie, het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: ‘Gee jy vir ons water om te drink.’ Toe antwoord Moses: ‘Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?’ (Eksodus 17:2). Nadat Moses die rots by Horeb in opdrag van die Here geslaan het, het daar water uitgeloop vir die volk om te drink. Daarom het Moses die plek Massa (op die proef stel) en Meriba (rusie) genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: ‘Is die Here by ons of nie?’ (Eks 17:5-7). Voordat die volk in Kanaän ingetrek het, het Moses hulle herinner aan die wet wat die Here by Sinai gegee het, en hulle gewaarsku: ‘Julle mag nie die geduld van die Here julle God op die proef stel soos julle by Massa gedoen het nie (Deut 6:16; vgl. ook Ps 95:8-9).
Die tweede rede wat Petrus aanvoer teen die Judaïste en Fariseërs (Hand 15:1;5) is dat die voorvaders en die huidige geslag Jode self nie die wet van Moses kon onderhou nie (vgl. Ps 78:17-22; 40-41; 56-57). Daardeur het hulle die reg verloor om dit soos ’n juk op die dissipels se nekke te plaas (vgl. Jesus se uitspraak daaroor in Matt 23:2-4). Daarteenoor is Jesus se juk met sy liefdesgebod draaglik en sy las is lig, want Hy is sagmoedig en nederig van hart en by Hom vind jy rus in jou gemoed (Matt 11:28-30). Die woord dissipel verwys hier na volgelinge van Jesus. Hoewel Petrus verwys na heidene wat volgelinge van Jesus geword het, beteken dit eintlik dat Joodse volgelinge van Jesus nie langer op hulle besnydenis mag roem nie (vgl. Hand 21:20-21; Gal 2:14-16 ). In Christus is ons besny deurdat Christus ons sondige aard weggesny het en al ons oortredings vergewe het. Met sy opstanding het God ons saam met Christus lewend gemaak. Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit vir altyd weggeneem toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het (Kolossense 2:11-14).
15:11 Petrus beëindig sy argument met ’n positiewe stelling teenoor die juk wat die Judaïste op die gelowiges wil lê. ‘Maar ons glo dat ons deur die genade van ons Here Jesus gered word op dieselfde wyse as daardie mense,’ naamlik die heidene wat slegs deur geloof in Jesus gered is. Die infinitief van sozō ‘om te red’ kan verwys na die verlede: is gered, hede: word gered en toekoms: sal gered word). God het die mense bevry van die juk van die wet, en ’n nuwe verbond gemaak waar alle heil op die genade van Jesus Christus alleen gebou word (vgl. Rom 3:24-26; 5:2,15,17,21; 11:6; Titus 3:4-7; Joh 1:16-17). Die woord genade cháris, wat 128 keer in die Nuwe Testament voorkom, verwys na die goedgesindheid van God (Engelse ‘kindness’ van God), sy goedheid wat uit sy genade oorvloedig gee, en word ook gebruik vir ons dank teenoor God se goedheid. Die Griekse sin in vers11 kan ook vertaal word as ‘deur die genade van Jesus Christus glo ons om gered te word op dieselfde wyse as daardie mense.’ Dit beteken dat geloof ook deur die genade van Jesus kom (vgl. ook Ef 2:8 in die Griekse bronteks is geloof ’n gawe van God), en dat Jode ook net soos die heidene deur geloof gered word. In elke geval is die heil uitsluitlik God se genade, vir Jode en nie-Jode, soos God se gawe van die Heilige Gees aan Joodse gelowiges en heiden gelowiges bewys het. Voor God is alle mense, Jode en heidene, sondaars. Paulus haal in Romeine 3:10-12 aan uit Ps 14:1-3; 53:2-4 dat daar niemand regverdig is nie, selfs nie een nie. Maar God spreek almal vry wat in Jesus Christus glo, want daar is by Hom geen onderskeid nie (Rom 3:22).
15:12 Na Petrus se rede (15:7-11) het die hele groep stil geword. Oor die warm debat (15:7) het ’n stilte gedaal omdat hulle deur die betekenis van Petrus se woorde aangegryp is. Die Griekse woord sigáō ‘stil word’ het die implikasie dat ’n geheim denkend bewaar word. Daarna het hulle geluister na Barnabas en Paulus se uitvoerige vertelling van wat God deur hulle onder die heidene verrig het, soos hulle by hulle aankoms reeds voor die gemeente gedoen het (15:4). Hier gaan dit meer spesifiek oor die tekens en wonders wat God deur hulle gedoen het. Die hele sending het gestaan onder God se ingryping in die lewens van die heidene. God se tekens en wonders wat bv. in hoofstukke 13 en 14 genoem is het die boodskap van die apostels oor die verlossing wat God deur sy Seun bewerk het, bevestig. God het die wonders en tekens voor heidene laat doen en dié wat tot geloof gekom het is nie deur die besnydenis in God se koninkryk opgeneem nie, maar deur geloof in die Here Jesus.
Skrywer: Prof Francois Malan