Die Handelinge van die Apostels: Die vraag oor die besnydenis word verwys na ’n vergadering in Jerusalem (Hand 15:1-4a) – Francois Malan
Die vraag of die besnydenis en die onderhouding van die wet van Moses noodsaaklik is vir verlossing word in Antiogië verwys na ’n vergadering in Jerusalem.
Hoofstuk 15 is die middelpunt en die keerpunt in Handelinge. Die hoofstuk begin reg in die middel van die boek Handelinge. Maar dit is ook ’n keerpunt in die geskiedenis van die kerk: 1. Jerusalem is ná die vergadering nie meer sentraal en rigtinggewend in die lewe van die kerk nie. 2. Petrus word hier vir die laaste maal in die boek genoem. Ook Barnabas word, na sy breuk met Paulus, vir die laaste maal in hoofstuk 15 genoem. Paulus word die sentrale figuur in die res van die boek. 3. Die apostels word nog slegs in 16:4 genoem in verband met hoofstuk 15 se besluit, maar die ouderlinge word deur die Here gebruik as die leiers in die Christusgemeentes (16:4; 20:17; 21:18). 4. Die sending na die heidene word die fokus van die res van die boek.
Die vraag waaroor die vergadering moes besluit, is van sentrale belang vir die Christus-beweging: word heidene toegelaat tot die kerk deur geloof in Christus alleen, of moet hulle besny word en die wet van Moses volg om legitieme Christene te word? Die vraag gaan om die vryheid van die evangelie en die eenheid van die kerk. Daaroor word ’n paar sentrale punte genoem: 1 God ken die mens se hart en het sy goedkeuring gegee aan gelowiges uit die heidendom deur aan hulle die Heilige Gees te gee net soos aan die Joodse Christene. 2 God het geen onderskeid gemaak in die vergifnis van die sonde van die heidene en die Jode nie. 3 Jode en heidene word van sonde gered deur die genade van die Here Jesus. Om verdere eise aan die Christene uit die heidendom te stel, is om God te beproef. 4 God het sy goedkeuring gegee aan die ontvangs van die heidene in die Christelike gemeenskap deur wonders en tekens onder heidene soos onder Jode.
Die finale besluit van die vergadering is gebou op God se uitsprake in die Ou Testament. Die besluit word in ’n brief aan die gemeentes uitgestuur saam met Paulus en Barnabas wat die vraag na die vergadering toe gebring het. [Paulus behandel die saak breedvoerig in sy brief aan die Galasiërs waar die probleem ook in daardie gemeentes opgeduik het, en later in sy brief aan die Romeine]
15:1 Met ’n vae aanduiding verwys Lukas na ‘sommige mense’ wat van Judea af na Antiogië gekom het, waar Paulus en Barnabas toe gewerk het, volgens 14:28. Dié Judaïste het in Antiogië se noue gemeenskap van Christusgelowiges (onder die versamelnaam ‘broers’ wat die susters en kinders insluit) die vrede in die gemeente kom versteur (15:24). Hulle het begin verkondig ‘julle kan nie gered word as julle nie besny is volgens die gebruik wat voorgeskryf is in die wet wat deur Moses gekom het nie.’ Om toegang tot die volk van God te verkry moet heidene eers besny word as teken van die verbond van God – so sê die Fariseër Judaïste-gelowiges in Jerusalem. Hulle is wel Christusgelowiges wat as Fariseërs nog toegewy is aan die studie van die Wet (15:5) en ’n lewe volgens die Wet vereis vir redding uit die oordeel van God.
15:2 Paulus en Barnabas het ’n warm (Lukas sê: nie klein nie) meningsverskil en woordewisseling met die Judaïste gehad teen hulle vereistes vir verlossing. Vir Paulus en Barnabas was dit duidelik dat ’n bekeerde heiden onbesnede bly en vry is van die verpligting om die wet te vervul om jou self voor God te red met goeie werke. Vir die Judaïste is die besnydenis die teken van God se verbond, en kan jy nie deel word van God se volk daarsonder nie. Volgens hulle moet die wet wat die Here deur Moses gegee het vervul word om gered te word.
Paulus en Barnabas en sommige van die Judaïste en van die lede van die gemeente is toe deur die gemeente aangewys om na die apostels en ouderlinge in Jerusalem te gaan om uitsluitsel oor hierdie dispuut/strydvraag te kry vir vrede en eenheid in die kerk. [Galasiërs 2:1-10 word ook gesien as ’n verwysing na hierdie vergadering, hoewel die besonderhede nie in alles ooreenstem nie. Die leer wat die Judaïste in die gemeentes in Galasië verkondig, het Paulus deeglik in die brief aan die gemeentes in Galasië behandel, en ook in Romeine].
15:3 ‘Daarom het hulle as die gemeente se gestuurdes deeglik deur Fenisië en Samaria gereis en uitvoerig vertel van die bekering van die heidene. So het hulle groot vreugde aan al die broers en susters verskaf. ‘ Dit is die eerste keer dat Lukas die gemeentes in Fenisië noem, die kusstrook noord van Galilea met o.a. die stede Tirus, Sidon en Ptolomaïs. In Hand 11:19 is egter reeds genoem dat die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het in Fenisië die evangelie aan Jode gaan vertel het. Dit is die gebied se mense vir wie Herodes Agrippa I woedend was (Hand. 12:20). Van die gemeentes in Samaria is reeds in Hand 8:1-25 vertel. Lukas gee nie ’n volledige verslag van die uitbreiding van die kerk nie, maar gee enkele steekproewe. Die woord wat Lukas gebruik om Paulus-hulle se deurreis (diérchomai) deur die twee streke op pad na Jerusalem te beskryf het die implikasie dat dit ’n uitgebreide reis met deeglike werk is, wat besoeke by die gemeentes langs die pad insluit. Daarby is dit ’n reeks besoeke wat groot vreugde gebring het in die gemeentes van die Samaritane en Fenisiërs. Die vreugde van die Joodse gemeentes is oor die bekering van die heidene in Galasië en omstreke. Aan die einde van Paulus se derde sendingreis bly hy sewe dae by die gemeente in Tirus en een dag in Ptolemaïs (Hand 21:3-7). As gevangene op pad na Rome het Paulus ook by sy vriende in Sidon oornag (Hand 27:3). Mense uit Tirus en Sidon het al na Jesus kom luister (Mark 3:8) en het Hy in die gebied van Tirus die onrein gees uitgedryf uit die dogter van die Griekse vrou van Siro-Fenisiese afkoms (Mark 7:24-30). Toe die gemeentes hoor hoe God die Heilige Gees ook aan die bekeerlinge uit die heidendom geskenk het, het die Heilige Gees hulle ook met ’n groot vreugde gevul (vgl. Gal 5:22 dat blydskap deel is van die vrug van die werk van die Heilige Gees). Hier gaan dit oor die uitbreiding van God se koningskap in die lewens van soveel mense wat in Jesus en sy verlossing begin glo het.
Lukas vertel graag van vreugde (chará vreugde 8 maal in sy Evangelie teenoor Johannes se 7, Mattheus 6, Markus 1, Handelinge 4 maal; makários gelukkig wees 15 maal in Lukas, 2 in Handelinge; chairō vreugde geniet 11 in Luk, 7 in Hand; sunchaírō saam gelukkig wees 3 in Luk; asménōs vreugdevol ontvang 1 Hand; euphraínō bly maak 5 Luk, 2 Hand; agallíasis met ekstreme blydskap Luk 2, Hand 1; agalliáō om groot vreugde te beleef Luk 2; Hand 2; skirtáõ om te dans/opspring van vreugde Luk 2; totaal 67 maal in Luk-Hand).
15:4 Toe hulle in Jerusalem aankom is hulle vriendelik ontvang (paradéchomai) deur die gemeente, apostels en ouderlinge. Ná die dood van Herodes Agrippa I is die vervolging van die leiers blykbaar gestaak en kon van die apostels weer vryelik na Jerusalem toe kom, die gemeente kon openlik vergader. Onder leiding van die ouderlinge is dit ’n gemeente-byeenkoms wat oor ’n ernstige vraag vir die hele kerk kon besluit. In die loop van die vergadering kom die apostel Petrus aan die woord, maar die besluit van die vergadering word deur die leierouderling Jakobus geformuleer.
Skrywer: Prof Francois Malan