Die Handelinge van die Apostels: Heidene ontvang die Heilige Gees (Hand 10:44-48) – Francois Malan

image_pdfimage_print

10:44 Terwyl Petrus nog aan die praat was oor hierdie gebeure (rhêmata), oor die lewensloop van Jesus, het die Heilige Gees skielik neergedaal (epipíptō) op almal wat na die evangelie (lógos), die goeie boodskap oor Jesus, geluister het. God die Heilige Gees, wat al lank besig is om te werk in die harte van hierdie godvresende heidene, neem sigbaar besit van hulle lewens. Hulle word deur die Heilige Gees oortuig van die goeie boodskap oor Jesus wat gekruisig is en op die derde dag uit die dood opgewek is en deur God aangewys is as die goddelike Regter en Verlosser van lewendes en dooies (10:38-42; vgl. Joh 16:8). Toe hulle die Ou Testamentiese profesieë hoor dat elkeen wat in Hom glo, deur sy Naam vergewing van sondes ontvang, het God aan hulle geloof in Jesus en vergewing van hulle sondes geskenk (vgl. Ef 2:8 ‘Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God’). Soos op die Pinksterdag geskied hier die wonder van God, dat Hy in hierdie godvresendes uit die heidendom, harde Romeinse soldate van die Italiaanse garnisoen en hulle gesinne en vriende kom woon (vgl. Joh 14:1-17,23). Op die Pinksterdag was daar reeds vroom Jode en proseliete uit Rome wat die geluid van die koms van die Heilige Gees gehoor het, van wie sommige die boodskap aangeneem het (Hand 2:2,6,10-11,41). Hier vestig die Here sy kerk se sending na die heidene, soos Hy reeds met die man uit Afrika (Hand 8:27) en onder die Samaritane begin het (Hand 8:5). Petrus en sy metgeselle is die getuies van wat hier gebeur. Die eeue-oue afsondering van Israel is deur God beëindig.

10:45 Die Joodse gelowiges (letterlik: die gelowiges uit die besnydenis) wat saam met Petrus van Joppe af gekom het (Hand 10:23) was oorstelp verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgegiet is. Die perfektum passiewe werkwoord veronderstel dat die Gees deur God op hulle uitgegiet is om by en in hulle te bly (vgl. Joh 14:16-17). Die Jode was oortuig dat die verbond wat God by Sinai met Israel gesluit het, eksklusief met hulle alleen gesluit is, vgl. bv. Eksodus 12:43-45. In die tempel was daar ’n aparte voorhof vir die heidene waar o.a. besigheid gedoen is (Luk 19:45-46). Ook Jode wat Christene geword het, het aan die begin nie gedink dat die evangelie ook vir heidene bedoel is nie; dit ten spyte van aanduidings deur Jesus se woorde en optrede. Jesus het bv. verwys na die lang hongersnood in Israel toe slegs die weduwee van Sarfat saam met Elia gevoed is en na die baie melaatses in Israel maar slegs Naäman die Siriër se melaatsheid is genees. Toe wou die mense van Nasaret vir Jesus by die berg afgooi (Luk 4:25-29). Daarby het hy die soldaat van Kapernaum se slaaf genees (Luk 7:9-10). In die gelykenis waarmee Hy die wet verduidelik het, gebruik Jesus ’n Samaritaan wat hom oor die man wat deur rowers oorval is, ontferm het (Luk 10:25-37). Nineve het tot bekering gekom na Jona se prediking en die koningin van Skeba het gekom om Salomo se wysheid aan te hoor (Luk 11:31-32). Die Samaritaanse melaatse is die enigste van die tien wat genees is, wat die Here kom dank het (Luk 17:18). Met hierdie uitstorting van die Heilige Gees op die heidene word die Joodse Christene egter saam met Petrus uit die hemel wakker geskud en word hulle getuies dat God anders besluit het as wat hulle ooit kon dink.  

10:46 Die Joodse gelowiges kon hoor hoe die heidene God loof in verskillende tale (glossa verwys na verstaanbare tale, ekstatiese spreke en tonge). Sommige verklaarders meen dat hier sprake is van die onverstaanbare tale waarvan in 1 Korinthiërs 14:2 sê dat hulle moet stilbly as daar nie ’n verklaarder daarvoor in die samekoms is nie. Hier word, soos op die Pinksterdag (Hand 2:11) in tale gepraat wat verstaanbaar God geloof het. Dit beteken dat die groep wat in Kornelius se huis byeen was, in verskillende verstaanbare tale, soos bv. Latyn en Grieks en Aramees God geloof het. Toe Petrus hom later voor die gemeente in Jerusalem moes verdedig, het hy gesê: ‘die Heilige Gees het op hulle neergedaal net soos aanvanklik ook op ons (Hand 11:15). ‘Hulle het God groot gemaak’ (megalúnō) beteken hulle het God geloof oor die groot verlossing wat Jesus vir hulle bewerk het (vgl. Hand 2:11). Dit kon die Joodse gelowiges duidelik hoor uit die verskillende tale, wat eintlik ’n aanduiding was dat die Here wil hê die evangelie moet na verskillende wêrelddele uitgedra word om sy opdrag in Hand 1:8 uit te voer.

10:47 Petrus se antwoord op die uitstorting van die Heilige Gees op die groep mense in Kornelius se huis is ’n retoriese vraag wat volgens die Griekse taalgebruik (ingelei met mêti) slegs uitdruklik negatief beantwoord kan word: ‘kan enigiemand die water verbied dat hierdie (mense) nie gedoop word nie, hulle wat die Heilige Gees ontvang het net soos ons?’ Die waterdoop kan tog nie weerhou word van mense wat die Geestesdoop uit die hemel ontvang het nie! Die Here van die kerk het hulle reeds aangeneem, daarom kan sy kerk nie weier om hulle met die doop in die Naam van die Here Jesus in sy gemeente op te neem nie.

10:48 In opdrag van Petrus doop die manne, wat saam met hom uit die buurgemeente in Joppe gekom het of miskien selfs van die Joodse gemeentelede van Sesarea, hierdie mense wat reeds die Heilige Gees ontvang het as die uiterlike teken dat hulle deur die Here en sy gemeente in sy kerk opgeneem is. Hulle word gedoop in die Naam van Jesus Christus, dus namens Jesus en in die volle betekenis van sy Naam, wat Hom met al sy woorde en werke insluit (vgl. Rom 6:3-11).

Die nuwe lidmate vra Petrus om nog ’n paar dae aan te bly, soos die Samaritane van Sigar by Jesus aangedring het om by hulle te bly en baie meer van hulle tot geloof in Jesus gekom het (Joh 4:40-42). Deur by hulle te bly het Petrus bewys dat hulle as volle lidmate van die Christelike gemeenskap (as rein) aanvaar is, en dat Jode en nie-Jode met mekaar in gemeenskap kan lewe (vgl. ook Hand 16:15).

10:1-48 Lukas het die bekering van Kornelius uitvoerig behandel. Dit gaan in hoofstuk 11 voort en Petrus verwys weer daarna in hoofstuk 15. Dit was noodsaaklik omdat hier een van die belangrike aspekte van Jesus se sendingwerk deur sy kerk beskryf word. Dit gaan om die evangelie wat na die heidene gebring moet word, wat as die wil van God bevestig is deur die uitstorting van die Heilige Gees op die bekeerlinge uit die heidendom. Die beskrywing van die Here se sending na die heidene gaan veral deur Paulus voortgesit word onder leiding van die Heilige Gees.

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...