Die Handelinge van die Apostels: Paulus in Efese (Hand 19:1-10) – Francois Malan
19:1 Die hoofstuk sluit by 18:23 aan om verder te vertel van Paulus se derde sendingreis. Terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus deur die hoërliggende binneland van die uitgestrekte Romeinse provinsie Asië gegaan – waarskynlik gestap. Daarna het hy afgegaan na Efese aan die Egeïese see.
Augustus, wat in 27 v.C. keiser van Rome geword het, het Efese as die hoofstad van die Romeinse provinsie Asië verklaar in die plek van Pergamum. Toe het Efese die belangrikste stad in die provinsie en die vyfde grootste stad in die Romeinse ryk geword, en Asië was die grootste provinsie in die Senaat van Rome. Toe Paulus daar aangekom het, was daar verskeie godsdienste in die stad: ou Anatoliese gode met trekke van die ou Hetiete en Lidiërs se natuurgodin Cybele, die moeder van die gode en haar gade Attis die songod. Daar was ook Grieks-Romeinse gode met Zeus/Jupiter as die hoofgod, Egiptiese gode met die songod Ra as die skeppergod, en Jode. Efese was beroemd vir die tempel vir Artemis (Diana in Latyn), een van die sewe wonders van die antieke wêreld, vyf maal groter as die Parthenon van Athene. Die Griekse Artemis was ’n jongvrou as die godin van die jag en kuisheid. Die Efesiese Artemis het egter meer Oosterse elemente gehad wat van haar die natuurgodin gemaak het wat met orgies vereer is om vrugbaarheid te kry. Die teater teen die berg Pion (Panayir Dag) kon 25 000 mense huisves. Soos Korinthe was Efese ook ’n stad met ’n gemengde bevolking van oorspronklike Grieke en verskeie Oosterse mense en Jode. Dit was ook ’n handelstad en ‘n deurgang per skip na die Weste.
Op pad na Efese (katérchomai kan afgaan beteken of aankoms in) kom Paulus af op ’n aantal dissipels, volgelinge van dié Jesus, wat Johannes die Doper verkondig het, soos Apollos ook was. Hulle het geweet van Jesus wat gekom het as die verwagte Messias, en dat Johannes Hom gedoop het, en waarskynlik ook van Jesus se sterwe en opstanding. As hulle van Efese was, het hulle nie die sinagogedienste bygewoon, waar hulle deur Priscilla en Aquila reggehelp kon word nie (Hand 18:26).
19:2-3 Hulle het egter nog nie eers gehoor van die koms van die Heilige Gees op Pinksterdag nie. Dat hulle as dissipels gedoop is maar nie die Heilige Gees ontvang het nie, was vir Paulus onverstaanbaar. Daarom vra Paulus vir hulle: ‘tot wat (waartoe) is julle dan gedoop?’ Hy vra hulle uit oor wat hulle doop dan vir hulle beteken as hulle nie eers weet van die Heilige Gees se koms om in ons te bly nie. Hulle antwoord: ‘in die doop van Johannes.’ Die doop het vir hulle beteken wat Johannes die Doper daarvan gesê het, naamlik dat hulle moet wegdraai van sonde en vergewing ontvang. Hulle is gedoop met Johannes die Doper se doop van bekering om hulle gereed te maak vir die koms van Jesus, die Seun van God wat hulle sonde sal vergewe en met die Heilige Gees sal doop (Joh 1:33-34). Apollos het ook net van Johannes se doop geweet en is deur Priscilla en Aquila reggehelp (Hand 18:26).
19:4 Paulus verduidelik die verskil tussen die doop van Johannes en die doop wat hy nou verkondig. Johannes het met die doop van bekering gedoop – dat hulle hulle moet bekeer voor hulle gedoop kan word. Vir die Jode, wat die doop van proseliete geken het om hulle heidendom af te was voordat hulle besny kon word, was die doop van Jode vreemd. Johannes het aan die volk (laós, volk van die Here, die Jode) gesê dat hulle bekering moet lei tot geloof in die Een wat ná hom sou kom, dit is Jesus. Vir Paulus hoort die Christusdoop en die gawe van die Heilige Gees bymekaar (vgl. Hand 2:38). Hy doop hulle in Christus. Die Heilige Gees is die Gees van Christus en die Gees van God wat die mens ontvang deur in Christus te glo (Gal 3:27; Rom 6:3-11; 8:2,9-11). Vir die verskil tussen Johannes die Doper en Jesus se twee bedelings, vgl. Lukas 7:28: Nie jou prestasie nie, maar om klein te word voor God wat jou sonde uit sy genade vergewe. Uit sy groot liefde het God jou as sy kind aangeneem deur jou geloof in sy Seun Jesus Christus as jou Here.
19:5 Toe die groepie dissipels dit hoor, het hulle hulle laat doop in die Naam van die Here Jesus. Daarmee trek Lukas die ontvangs van die Heilige Gees en die geloof (19:2) in die persoon van Jesus as die verwagte Christus (19:4) saam.
Die Naam van Jesus beteken sy persoon en sy reputasie. Geloof in Hom beteken ‘n oorgawe aan Jesus as die Here van jou lewe (19:5). Die doop is die seël wat God gee as bewys dat die dopeling aan die Here Jesus verbind is (19:5). Die doop is God se teken van iemand se opname as sy kind in sy huisgesin saam met sy Kind Jesus. Die terme wat vir kind van God in die Nuwe Testament gebruik word is: tékna kinders uit God gebore (Joh 1:12; Rom 8:16); huioi God se mense Luk 20:36; Rom 8:14-15); huioi/thugatêra 2 Kor 6:18 seuns en dogters van God. Oor die huisgesin van God vgl. 1 Tim 3:15 as die kerk van die lewende God; vgl. ook Hebr 10:21; 1 Petr 4:17.
Die doop is waarskynlik deur Paulus se helpers behartig (vgl. 1 Kor 1:17).
19:6 Soos by die Samaritane (Hand 8:15-17) het hulle die Heilige Gees eers ontvang toe Paulus hulle die hande opgelê het. Soos by Kornelius (Hand 10:44-46) het hulle ook in tale gespreek en geprofeteer. In tale spreek (glōssa ekstatiese taal) is om in verborgenheid met God te praat wat Hy verstaan, maar nie die mense nie (1 Kor 14:2); profeteer is om onder invloed van goddelike inspirasie sy woord te verkondig sodat mense dit kan verstaan om hulle op te bou, te bemoedig en hulle te vertroos (1 Kor 14:3). Die talespreek was ’n uiterlike bewys aan hulle en aan die gemeente in Efese dat die Heilige Gees ook in hulle kom woon het.
19:7 Lukas, wat nie by die geleentheid teenwoordig was nie, sê hulle was ongeveer 12 mans. Hy gebruik die woord ‘ongeveer’ (hōs of hōseí) dikwels as hy nie seker is van die getal nie, vgl. 2:4; 4:4; 5:7,36; 10:3; 13:18-20; 19:7,34.
19:8 Volgens sy gewoonte begin Paulus eers elke Sabbat by die Jode in hulle sinagoge. Hulle bly ’n besondere lang tyd, drie maande, na hom luister. Hier preek hy met vrymoedigheid oor Jesus as die verwagte Messias van die Jode, wat moes sterf en opstaan uit die dood om mense te verlos. Hy redeneer met die Jode wat die Ou Testament nog steeds anders verklaar as hy na sy bekering. En hy het probeer om hulle te oortuig dat die koninkryk van God met Jesus gekom het. Jesus is die Koning van God se koninkryk. Sy koms is in die Ou Testament voorspel (Jes 9:5-6; Dan 7:14; Miga 4:7 vgl. Luk 1:32-33; Ps 118:26 vgl. Luk 19:38).
19:9 Die opposisie teen Paulus groei egter veral onder sommiges wat hardkoppig was deur te weier om te glo. Hulle het hulle toegesluit vir die evangelie. In Romeine 9:18 sê Paulus dat God Hom ontferm oor wie Hy wil en koppig maak wie Hy wil. Hulle het Jesus, die enigste Weg na die Vader (vgl Joh 14:6) beswadder (vgl Ps 59:8; Hebr 3:8), sleg gepraat oor Hom voor die menigte, nl. voor die hele Joodse gemeente. Dit het Paulus laat besluit dat die Here die sinagoge vir hom toesluit. Paulus het hom toe begin losmaak van die Jode. Hy het die volgelinge van Jesus in die sinagoge saam met hom geneem en begin met daaglikse besprekings in die lesingsaal (scholê eerder lesingsaal as skool) van Tirannus. Om dit vir die meeste mense beskikbaar te maak, het Paulus se lesings waarskynlik na 11vm begin, wanneer die Grieke se middagsiësta begin, tot die daaglikse werk van die Grieke weer na 4nm, na die ergste hitte, voortgesit word. Wie Tirannus was, is verder onbekend. Tirannus kon sy werk in die saal teen 11vm afgesluit het en laatmiddae weer begin het.
19:10 Paulus se besprekings in die Tirannussaal het twee jaar aangehou – in Paulus se afskeidsrede aan Efese se ouderlinge wat na hom toe gekom het in Milete, praat hy van drie jaar se dag en nag waarskuwing onder trane aan die Efesiërs (Hand 20:31). In Hand 19:22 word gepraat van ’n tyd wat hy nog langer as twee jaar in Asië gewerk het om die drie jaar vol te maak. Lukas sê: Al die inwoners van Asië, Jode en Grieke het die woord van die Here gehoor deur die twee jaar se intensiewe arbeid in Tirannus se lesingsaal. Mense uit die provinsie het blykbaar na die besprekings toe gekom. So het Epafras waarskynlik in hierdie tyd van Kolosse af gekom en teruggegaan om die gemeente in Kolosse te gaan stig (Kol 1:7; 2:1; 4:12). So ook die gemeente in Laodisea (Kol 4:16) en moontlik ook Hiërapolis wat naby die twee stede geleë is in die vallei van die Likusrivier. Die sewe gemeentes van Openbaring val ook in die provinsie Asië. In dié tyd het Paulus ook drie briewe aan die Korinthiërs geskryf (die vorige brief waarvan 1 Kor 5:9 praat), 1 Korinthiërs en die tranebrief, (vgl. 2 Kor 2:3-5; 7:8-13) en selfs ’n vinnige besoek in Korinthe gebring voor hy die tranebrief aan hulle geskryf het (volgens 2 Kor 2:1).
Skrywer: Prof Francois Malan