Die Handelinge van die Apostels: Paulus se afskeidspreek Deel 3 en slot (Hand 20:32-38) – Francois Malan
20:32 Die derde deel van Paulus se rede, sy vooruitskouing op die toekoms, word ingelei met ‘En nou…’ Omdat hy nie langer by hulle kon bly nie, vertrou hy hulle toe aan die sorg van God. Die oorgawe van die gemeente en sy ouderlinge aan die sorg van God eggo die gemeente in Antiogië se oorgawe van Barnabas en Paulus aan die genade van God vir die eerste sendingreis (Hand 14:26) en die broers in Antiogië wat vir Paulus en Silas aan die genade van die Here opgedra het vir die tweede sendingreis (Hand 15:40). God sal hulle versorg deur die woord van sy groot genadewerk wat Paulus aan hulle verkondig het oor Christus se verlossingswerk (dit is die boodskap van die Here se genade van Hand 14:3; die evangelie van God se genade van Hand 20:24). Die boodskap oor Christus se sterwe, opstanding en hemelvaart om vanuit die regterhand van God oor die heelal te regeer en in ons kom woon het met sy Heilige Gees is altyd opnuut teenwoordig (vgl. Matt 18:20 en 28:20 oor Christus se teenwoordigheid; Joh 14:17,23 oor God se inwoning in ons). Deur dié woord bou God die enkeling en die gemeente op (vgl. Hand 9:31) om al meer op God te vertrou en soos Jesus te word (2 Kor 3:18). Dit verwys na die onmiddellike toekoms van die gemeente (vgl. Moses se seën volgens Deutr 33:3-5). Die volgende sin verwys na die hemelse toekoms wat God aan die Efesiërgelowiges as erfenis sal gee saam met al die geheiligdes wat hulle aan God toegewy het (vgl. Paulus se brief aan die Efesiërs 1:14-19; 5:5; Rom 8:17; Hand 26:18).
20:33-34 As voorbeeld vir die ouderlinge van Efese om in die toekoms na te volg, herinner Paulus hulle aan sy optrede tydens die drie jaar by hulle. Hy het niemand se goud of silwer of klere begeer nie – oud-Oosterse rykes se rykdom het nie slegs uit goud en silwer wat gesteel kon word bestaan nie, maar ook uit mooi klere wat deur motte gevreet kon word (Matt 6:16; vgl. Josua 7:21).
Paulus het van sy reg tot onderhoud nie ten volle gebruik gemaak nie, om soveel mense as moontlik te wen (1 Kor 9:18-19; vgl. ook 2 Kor 11:7-9). Met handewerk het hy in sy eie en sy mede-arbeiders se behoeftes voorsien. Paulus was ’n tentmaker (vgl die verklaring by Hand 18:3).
20:35 Met sy voorbeeld en onderrig aan hulle het Paulus aan hulle gewys dat ’n mens deur hard te werk die swakkes prakties moet help (Ef 4:28).
Die ouderlinge se leer en lewe moet met mekaar ooreenstem (vgl. Rom 15:1-2). As motivering vir die soort optrede verwys Paulus hulle na ’n woord van die Here Jesus wat hulle moet onthou en dit in hulle optrede toepas. Jesus sou gesê het: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.’ Hierdie woorde kom nie in die Evangelies voor nie, maar woorde van Jesus in die Evangelies het dieselfde strekking, bv. Luk 14:12-14; 6:20; 33-36,38; 18:28-30. Volgens Joh 21:25 was dit nie moontlik om alles wat Jesus gedoen het, neer te skryf nie. Daar was egter woorde van Jesus wat slegs mondelings oorgelewer is. Paulus se woorde aan die ouderlinge van Efese word afgesluit met ’n woord van Jesus self om hulle te motiveer om hard te werk om ook die armes te kan help (vgl. 2 Thess 3:7-13).
20:36 Paulus sluit sy ontmoeting met die ouderlinge af met ’n gebed waaraan almal deelgeneem het om op hulle knieë voor die Here te vra om sy leiding en sorg oor die ouderlinge en die gemeente van Efese en oor almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep (soos in 1 Kor 1:2; vgl. Paulus se kommer oor al die gemeentes in 2 Kor 11:28).
20:37-38 Na die afsluiting van Paulus se laaste boodskap aan die ouderlinge met die gesamentlike gebed tot die Here, skilder Lukas ’n roerende en aanskoulike prentjie van hulle afskeid van Paulus. Al die leiermans van die gemeente het hardop gehuil en hom kom omarm om elkeen aan hom ’n drukkie te gee (omarm – letterlik: val hom om die nek – wat ’n sterk emosie uitdruk. Hulle het gehuil – die woord klathmós beklemtoon die harde geluid van hardop huil) en hom op die wang gesoen (soos vandag nog in die Midde-Ooste); alles uitdrukkings van egte toegeneentheid en waardering (vgl. Gen 33:4; 45:14-15. Die woord katafiléō is nie die gebruiklike heilige kus nie, maar kom uit ’n smartlike liefdesdrang; ). So neem hulle bedroef afskeid van hulle groot apostel in die verwagting dat hy gaan sterf en dat hulle hom nie weer sal sien nie, soos hy gesê het (20:25). Hulle vergesel hom tot by die skip vir sy reis na gevangenskap en lyding wat op hom wag (20:22-23).
Paulus word in die kort opsomming van sy boodskap andermaal bekendgestel as die Here se dienende instrument. Soos die Heilige Gees hom lei, volg hy met oorgawe ten spyte van kwaai teenstand, bedreigings, en die verwagting van lyding wat vir hom voorlê. Daarby is daar ook die diepe verbondenheid aan hom deur die gemeente in Efese, wat saam met hom ly. In die brief wat hy later aan die Efesiërs skrywe besing hy die onmeetlike onbegryplike liefde van Christus en dat ons dit mag ken (Ef 3:14-19).
Skrywer: Prof Francois Malan