Die Handelinge van die Apostels: Paulus se derde sendingreis (Hand 18:23) – Francois Malan
18:23 Paulus se derde sendingreis begin ongemerk in die verslag oor die einde van die tweede sendingreis. Daar word net gesê dat Paulus ’n onbepaalde tyd in Antiogië gewerk het in die gemeente wat hom en Silas uitgestuur het op die tweede sendingreis (15:40). Dit is sy vyfde stopplek sedert hy Korinthe verlaat het, waarvan Lukas melding maak. Antiogië was die einddoel volgens 18:18,22. Paulus sou seker ook verslag van sy werk gedoen het in die gemeentes waar hy verbygestap het in Judea, Samaria en Sirië op pad na Antiogië in Sirië, soos hy en Barnabas na die eerste sendingreis gedoen het (Hand 14:27; 15:3).
Op die derde sendingreis besoek Paulus deeglik een plek na die ander in die landstreek van Galasië en Frigië om al die volgelinge van Jesus (mathêtai dissipels, leerlinge, volgelinge) te versterk in hulle geloof in die Here Jesus.
Voorstanders van die Noord-Galasiese teorie meen Paulus het van Silisië af deur Kappadosië gereis na die landstreek waar die egte Galate bly, toe teruggekom het om deur Frigië na Efese te gaan. Hulle neem dan aan dat Hand 16:6, waar Frigië eerste genoem is en die landstreek Galasië daarna, wys op intensiewe sendingwerk in die streke reeds op Paulus se tweede sendingreis en dat hy toe al daar gemeentes gestig het. Hy sou dan die brief aan die Galasiërs geskryf het tydens sy drie jaar lange bediening in Efese tussen 52-55 n.C. tydens sy derde sendingreis.
Die voorstanders van die Suid-Galasiese teorie dink Paulus het die gemeentes in Derbe, Listra en Ikonium in die Romeinse provinsie Galasië kom versterk in hulle geloof aan die begin van sy derde sendingreis en toe deur Antiogië in Pisidië en deur Frigië na Efese gereis het. Dan verwys die landstreek (chōra landstreek/distrik, of: inwoners van ’n gebied) ook na die provinsie Galasië.
Paulus se brief aan die Galasiërs is dan geskryf aan die gemeentes wat hy reeds op sy eerste sendingreis gestig het. Dan het hy die brief aan die Galasiërs geskryf in 50-52 n.C. vanuit Korinthe tydens sy tweede sendingreis (Hand 16:1-5).
Uit die brief aan die Galasiërs blyk dat sekere predikers in die gemeente opgetree het en ’n ‘ander evangelie’ verkondig het (Gal 1:6-7), soos vroeër ook in Antiogië in Sirië (Hand 15:1). Hulle vereis die besnydenis en ander wettiese bepalings om voor God geregverdig te word (Gal 5:2-4; 6:12-13), bv. ook deur die onderhouding van vasgestelde dae en maande en tye en jare (Gal 4:10). Daarmee het die predikers die gemeentes verwar (Gal 1:7; 5:10). Paulus verkondig dat God mense wat in Jesus Christus glo se verhouding met Hom regmaak en hulle uit sy genade vryspreek op grond van Christus se offer alleen, en nie deur hulleself te verlos deur die wet te gehoorsaam nie (Gal 1:4; 2:16).
Apollos preek in Efese en Korinthe (Hand 18:24-28)
18:24 Alexandrië in Egipte was die tweede grootste stad in die Romeinse ryk naas Rome en ’n belangrike sentrum van geleerdheid. Die Jood Apollos was ’n boorling van Alexandrië, ’n geleerde welsprekende man (lógios geleerd en welsprekend), goed onderlê (letterlik: magtig) in die Skrifte van die Ou Testament. (Volgens ‘n sesde eeuse manuskrip is Apollos ’n verkorting van Apollonius. Dan het hy sy naam gekry van ’n groot Alexandrynse redenaar met dieselfde naam, wat eintlik beteken volgeling van die Griekse god Apollo wat die son terugbring na die winter, en die duister en die heidendom van alle nie-Helleniste verdryf). Die man Apollos het in Efese aangekom nadat Paulus daar weg is Antiogië toe (Hand 18:22).
18:25 Apollos was onderrig in die ‘Weg van die Here.’ Die Jode het na die volgelinge van Jesus verwys as ‘aanhangers van die Weg’ (Hand 9:2; 19:9; 22:4; 24:14), na aanleiding van Jesus se woord in Johannes 14:6: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe.’ Hebr 10:12 sê van die weg: ‘deur die bloed van Jesus het ons vrymoedigheid om in te gaan in die heiligdom (9:24: die hemel self), langs ’n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die tempelgordyn heen, dit is deur sy liggaam’- Hebreërs is waarskynlik tussen 70-90 n.C. geskryf.
Waar Apollos oor ‘die Weg’ onderrig is, is onseker. Sou daar volgelinge van Johannes die Doper in Alexandrië gewerk het, of was Apollos vroeër een van die Alexandryne in die Sinagoge van die Libertyne in Jerusalem (Hand 6:9)? Dan was Apollos miskien voor Jesus se optrede reeds deur Johannes die Doper gedoop (Matt 3:5-6; Mark 1:5; Luk 3:3-7,30).
Hy het geesdriftig (‘lewendig in die gees’) gepraat en noukeurig (akribōs ‘akkuraat, volledig en in besonderhede’) onderrig gegee oor die dinge rondom Jesus. Hy het egter slegs ‘die doop van Johannes geken’ wat ’n voorbereiding was vir die koms van die verwagte Messias/Christus/Gesalfde van God (Luk 1:17,76-79).
18:26 Die geesdriftige en noukeurige Apollos het begin om vrymoedig in Efese se sinagoge oor die dinge rondom Jesus te praat. Maar toe Priscilla en Aquila hom hoor het hulle hom eenkant toe geneem, waarskynlik na hulle huis uitgenooi, en hom die weg van God noukeuriger verduidelik. Die noukeuriger verduideliking sou wees om hom te vertel dat die Messias waaroor Johannes die Doper gepreek het, reeds gekom het, deur die Jode laat doodmaak en deur God uit die dood opgewek is; dat die doop van Johannes met die oog op vergifnis van sonde, deur Jesus sy ware betekenis gekry het, deurdat Hy die sonde van die wêreld op Hom geneem het. Dié wat in Hom glo, ontvang vergifnis van al hulle sonde uit God se genadehand. Priscilla word eerste genoem, soos ook in Romeine 16:3. In Christus het die vrou ’n nuwe status gelyk met die man gekry (vgl. Gal 3:28).
18:27 Die Here lê dit in Apollos se hart om oor te vaar na Agaje, die Romeinse provinsie waarin Athene, die stad van geleerdheid en kuns, en die bedrywige hoofstad Korinthe geleë is. Die gemeente (letterlik: broers) in Efese het hom aangemoedig en aan die dissipels van Jesus geskryf om hom vriendelik te ontvang. Priscilla en Aquila wat al daar gewerk het, kon hom op hoogte bring van die omstandighede in Korinthe. Hulle was ook bekend by die gemeente daar aan wie hulle hom voorstel. Toe hy daar aangekom het, het Apollos dié wat deur die genade (van God) ‘tot geloof gekom het en daarin volhard’ (volgens die betekenis van die perfektum werkwoord pepisteukósin) baie ‘gehelp met dit waaraan hulle juis behoefte gehad het’ (dit is die betekenis van die woord sumbállomai). Lukas onderstreep die werking van die Heilige Gees wat mense oortuig om in Jesus en sy groot offer vir ons te glo. Ook die volharding in die geloof kom deur die inwoning van die Heilige Gees. En nou kom help die Heilige Gees ook die gelowiges deur die hulp wat Apollos kom aanbied – Jesus het belowe die Vader sal vir sy volgelinge ’n ander Parakleet (voorspraak, trooster, helper) stuur om in hulle te bly (Joh 14:16-17). Die Here het die begeerte in Apollos gewek om na Agaje te gaan om die gemeente te gaan help as mondstuk van die Heilige Gees. .
18:28 Wat die gelowiges nodig gehad het, word hier uitgespel: want kragtig en deurtastend (die bywoord eutónōs met die dubbele betekenis, staan met klem voor in die sin) het hy die Jode in openbare debat (sodat almal dit kon hoor) verslaan deur hulle argumente te weerlê. Uit die Skrifte (van die Ou Testament) het hy bewys dat Jesus waarlik die Christus is, die Messias Koning en Verlosser wat die Jode verwag. In vers 24 is reeds gesê dat Apollos kragtig was in die Skrifte. Die Here wou juis vir hom gehad het om die Jode in Korinthe kragtig te kom weerlê, en so die gemeente te help in dit wat hulle nodig gehad het om staande te bly teen die aanslae van die Jode teen hulle geloof in Jesus as die Seun van God.
Om te glo en te sê dat Jesus God is, is vir die Jode godslastering volgens Deuteronomium 6:4 ‘die Here is ons God, Hy is die enigste God;’ 10:17: ‘Die Here jou God, Hy alleen is God;’ Deuteronomium 13 sê iemand wat jou na ander gode lei moet met klippe doodgegooi word (vers 10); In Deutr 18:15-22 sê die Here: ’n Profeet wat hom aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf’ (Deutr 18: 20). Maar hulle moet luister na die woorde van die Profeet wat die Here sal stuur. Van elkeen wat nie gehoorsaam is aan die Here se woorde deur die Profeet nie, sal die Here rekenskap eis (Deutr 18:19).
Na ’n rukkie wat Apollos in Korinthe opgetree het, is hy terug Efese toe, waar hy en Paulus saam gewerk het. Volgens
1 Korinthiërs 16:12 het die gemeente in Korinthe gevra dat Apollos saam met hulle drie afgevaardigdes moet terugkom Korinthe toe, maar hy wou beslis nie op daardie oomblik nie. Hy sal gaan wanneer dit vir hom geleë is. Paulus beskryf hulle twee se arbeid as ‘soos die Here dit gegee het, het Paulus geplant. Apollos het natgegooi, maar God het laat groei op sy saailand, die gemeente. Nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi is iets, maar slegs God wat laat groei. Elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang. Ons is medewerkers van God’ (1 Kor 3:6-9). In 1 Kor 4:6 sê Paulus: Hierdie dinge het ek om julle onthalwe op myself en Apollos van toepassing gemaak, sodat julle deur ons kan leer om julle nie te verhef bo wat geskryf is nie, sodat niemand homself belangrik sal ag omdat hy vír die een is, en téén ’n ander nie. Paulus skryf dit omdat hy gehoor het daar twiste onder hulle is; elkeen sê: Ék is van Paulus;’ of: ’Ék van Apollos;’ óf: Ék van Sefas,’ of: Ék van Christus.’ Nee! Dié wat roem, moet in die Here roem’ (1 Kor 1:31). Volgens Titus 3:13 het Apollos later ook vir ’n tydjie in Kreta gewerk.
Skrywer: Prof Francois Malan