Die Handelinge van die Apostels: Paulus se reis na Masedonië en Griekeland (Hand 20:1-6) – Francois Malan

image_pdfimage_print

20:1 Nadat die gevaar vir die gemeente in Efese afgeweer is en Paulus sy werk in Efese as afgehandel beskou het (19:21), het Paulus ’n tyd ná die oproer die gemeentelede (letterlik: dissipels) laat roep, hulle moed ingepraat, hulle gegroet, vertrek en na Masedonië via Troas gereis soos hy hom voorgeneem het. Dit was waarskynlik ná Pinkster van die jaar 55 n.C. (1 Kor 16:8-9). Op pad na Troas sou hy seker van die gemeentes in Asië soos Smirna en Pergamum besoek het. In Troas kry hy ’n oop deur vir die evangelie, maar neem van hulle afskeid om te kyk of hy nie vir Titus in Masedonië sou ontmoet nie (2 Kor 2:12-13). In 2 Kor 2:13 sê hy dat hy geen gemoedsrus kon kry voordat hy nie van Titus gehoor het oor hoe sy sending na Korinthe verloop het nie. 

Met die toer kry Paulus ook die kollektes bymekaar wat die verskillende gemeentes vir die armes in Jerusalem bymekaar gemaak het (vgl. 1 Kor 16:1-4; 2 Kor 8-9; vgl. Rom 15:25-27,31).

20:2 Daardie streke van Masedonië verwys na die gemeentes in Filippi, Berea en moontlik selfs Thessalonika. (Hand 19:21; 1 Kor 16:5-9). Sy tweede plan was om deur Griekeland na Masedonië  en terug na Griekeland te reis maar die plan het toe nie uitgewerk nie, want hy moes toe vinnig en vol droefheid van Efese na Korinthe en terug na Efese toe reis (2 Kor 1:23; 2:1). Nou voer hy sy oorspronklike plan uit om eers Masedonië toe te gaan op pad na Griekeland

(2 Kor 1:15-16). Op die reis deur Masedonië versterk hy die geloof van die lidmate van die gemeentes wat hy op die tweede sendingreis gestig het. Letterlik staan daar hy het hulle met baie woorde bemoedig – veral in hulle stryd te midde van ’n krom en verdraaide geslag Jode en heidene waaronder hulle skyn soos sterre in die heelal, omdat God in hulle werk om op te tree soos Hy dit goedvind (Flp 2:13-16). In hierdie tyd het hy moontlik tot in Illirikum aan die weskus van Masedonië gevorder (Rom 15:19).So het Paulus in Griekeland, moontlik deur Athene of direk van Illirikum na Korinthe gereis.

In Masedonië het Paulus ook vir Titus ontmoet wat die goeie nuus gebring het van die versoening in Korinthe (2 Kor 7:5-9,13). In 2 Kor 7:6 vertel hy hoe God hom bemoedig het met Titus se verslag toe hy reeds in Masedonië op Titus gewag het.

20:3 Paulus oorwinter vir drie maande in Korinthe in Griekeland, van die helfte van November 55 n.C. tot die helfte van Februarie 56 n.C. Hier skryf hy die brief aan die Romeine, moontlik aan huis van Febe in Kenchreë (Rom 16:1-2) ter voorbereiding van sy beplande eerste besoek aan Rome (Rom 1:8-12; 15:22-24). Sy mikpunt was om uit Rome ook Spanje te bereik (Rom 15:24; 16:28).

Met die lente van 56 n.C. het die skepe weer begin vaar en Paulus wou op die vinnigste manier, per skip, na Antiochië in Sirië reis. Hy moes egter weer sy reisplan verander. Die Jode wat laas voor Gallio ’n bloutjie geloop het (Hand 18:14-16), het nou ernstiger planne teen Paulus. Hulle komplot was moontlik om ’n aanslag op sy lewe op die skip uit te voer – na sy bekering en prediking in Damaskus het die Jode van Jerusalem ook ’n komplot teen hom gesmee om hom dood te maak (Hand 9:23-24). Soos die vorige keer, het Paulus gehoor van die komplot.  Hy besluit toe om van Kenchreë deur Masedonië na Jerusalem te gaan. Hy sou weer by Berea, Thessalonika en Filippi kon uitkom. Oorspronklik wou hy met die Paasfees in Jerusalem gewees het (Hand 18:21: volgens die 1953 vertaling van woorde wat in die 6e eeu in die teks ingevoeg is: ‘Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem wees’), maar het toe eers sewe weke later met Pinkster daar aangekom (Hand 20:16) weens die komplot van die Jode teen hom.

20:4 In 1 Kor 16:3-4 het Paulus al gesê dat hy die persone wat die gemeente goedkeur, met aanbevelingsbriewe na Jerusalem met die gawes van die Korinthiërs stuur. Indien dit die moeite werd is, sou hy ook gaan, en kan die gemeente se verteenwoordigers saam met hom gaan (vgl. ook Hand 24:17; Rom 15:25-28; 2 Kor 8-9). Hier gee Lukas ’n lys van die sewe persone wat saam met Paulus reis met die gawes aan Jerusalem:

  • uit Berea Sopater seun van Pirrus – dit is onseker of dit dieselfde is as Paulus se volksgenoot Sosipater (Rom           16:21);
  •  uit Thessalonika Aristargus en Sekundus – Sekundus word net hier genoem;
  • Aristargus was een van die twee reisgenote van Paulus wat Efese se massa saamgesleep het teater toe            (Hand 19:29), en was in Hand 27:2 saam met Paulus op die skip Rome toe as Paulus se                                     medegevangene (Kol 4:10) en medewerker (Flm 24);
  • uit Derbe Gaius, wat ook in Efese saamgesleep is teater toe;
  • uit Listra Timotheus, Paulus se permanente metgesel sedert die tweede sendingreis (Hand 16:3). Paulus noem  hom my geliefde geestelike kind (1 Tim 1:2; 2 Tim 1:2);
  • uit Asië (Efese) Tigikus en Trofimus. Trofimus die Efesiër was saam met Paulus in Jerusalem (Hand 21:29) en op ’n latere reis het Paulus vir Trofimus siek in Milete agtergelaat (2 Tim 4:20).
  • Paulus stuur Tigikus uit Rome met die briewe aan die Efesiërs (Ef 6:21-22), aan die Kolossense (Kol 4:7-8) en aan Filemon (Kol 4:9).

20:5 Die ‘ons’ gedeeltes van Handelinge begin weer hier in Filippi, waar Lukas blykbaar agtergebly het op Paulus se tweede sendingreis (Hand 16:17 waar laas ’n ‘ons’ gedeelte in Handelinge was). Paulus en Lukas bly in Filippi om die Paasfees en die sewe dae van die ongesuurde brood saam met die gemeente te vier, en stuur die sewe manne na Troas om daar vir hulle te wag. Hiervandaan bly Lukas by Paulus tot in Rome (Hand 28:16). Lukas, Paulus se geliefde dokter, stuur uit Rome groete aan die Kolossense (Kol 4:14). In Paulus se laaste brief toe hy vir ’n tweede keer in Rome gevangene is, sê Paulus ‘Net Lukas is nog by my (2 Tim 4:11). 

20:6 Paasfees is op Vrydagaand gevier. Die Ongesuurde Broodfees begin ook dié Vrydagaand vir sewe dae tot die volgende Vrydagaand. Teen Woensdag vertrek Paulus en Lukas uit Filippi en weens ongunstige winde neem dit hulle vyf dae tot by Troas waar hulle Sondag land. Hulle bly sewe dae in Troas tot die volgende Sondag, die eerste dag van die week, en vertrek Maandagoggend van Troas af (Hand 20:7). Op hulle tweede sendingreis, nadat Paulus die visioen van die Masedoniese man gesien het, het hulle met gunstige wind slegs twee dae geseil van Troas na Neapolis, Filippi se hawe (Hand 16:11-12). Met hulle spoedige vaart het die Here toe aan hulle die dringendheid van die visioen wat Paulus gesien het, bevestig. Nou neem dit hulle vyf dae.

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...