Die Handelinge van die Apostels: Petrus en Johannes se eerste verskyning voor die Joodse Raad (deel 1; Hand 4:1-12) – Francois Malan

image_pdfimage_print

4:1 Die verhaal het begin met Petrus en Johannes wat 3nm, die uur van gebed, by die tempel ingegaan het (3:1). Hulle arrestasie was teen ongeveer 6nm toe die aandwag al aangebreek het (4:3). Lukas gee ’n kort weergawe van Petrus se preek wat moontlik veel langer geduur het. Vers 1 verwys na ‘hulle’ wat met die mense praat (laleō praat of toespreek). Waarskynlik was Petrus en Johannes ná Petrus se preek nog besig om met die mense te praat.

Die Sadduseërs was die priester-aristokrasie, met die hoëpriester as leier. Die bevelvoerder van die tempelwag was tweede in bevel van die Sanhedrin en hoof van die tempelwag wat van die Romeinse owerheid die reg tot arrestasie ontvang het. Baie priesters was Sadduseërs, maar nie almal nie. Die Sadduseërs het slegs die eerste vyf boeke van die Bybel as die woord van God aanvaar en daarin nie van die opstanding van die dooies gelees nie (vgl. Hand 23:8), hoewel Jesus hulle uitleg van die eerste vyf boeke van die Bybel verkeerd bewys het (Luk 20:27-40). Die groep het die twee apostels met geweld aangeval (efistêmi).   

4:2 Die groep Sadduseërs was hewig ontsteld deur die apostels se onderrig van die volk en openlike verkondiging van Jesus se opstanding uit die dood. ‘In Jesus’ staan voorop in die Griekse sinsnede om te beklemtoon dat ’n mens se opstanding uit die dood geskied deur Jesus, in geloofsverbondenheid aan Hom. Dit terwyl die Sadduseërs juis nie glo in die opstanding van die dooies nie (Hand 23:8; Luk 20:27) en ook nie in Jesus nie. En as Jesus uit die dood opgestaan het, beteken dit dat die opstanding uit die dood moontlik is, en dat ’n hele nuwe visie oor die huidige lewe en die lewe ná die dood geopen is deur sy opstanding, wat so ver verskil van die Sadduseërs se leer en lewe.   

4:3 Hulle het toe die twee apostels gearresteer (letterlik: hulle hande aan hulle geslaan, ’n idioom vir arresteer) en hulle in gevangenis gesit tot die môre, omdat dit reeds vroegaand was (espera vroeg-aand, teenoor opsia laat-aand ná sononder). So is Jesus se voorspelling in Luk 21:12-13 vervul, dat hulle aan die sinagoges oorgelewer sal word, in gevangenis gesit sal word en voor konings gesleep sal word ter wille van sy Naam, en dat dit vir hulle ’n geleentheid sal wees om te getuig. Die Sanhedrin kon nie bymekaar gemaak word voordat die deure van die tempelkompleks teen sononder sluit nie.

4:4 Teenoor die negatiewe optrede van die Sadduseërs staan die reaksie van die skare. Baie van dié wat die boodskap gehoor het, het die goeie nuus oor Jesus Christus geglo en volgelinge van Jesus geword. Die getal manne het aangegroei tot ongeveer vyfduisend. Dit verwys na mans en vroue gelowiges soos in 2:41 waar na drieduisend ‘siele’ verwys is (en nie soos Matt 14:21 se vyfduisend mans, afgesien van die vroue en kinders, wat gevoed is nie). Hierdie tweede preek van Petrus het die Here ook gebruik om ’n ryke oes van gelowiges te lewer; vgl. Jesus se woord met die roeping van Petrus in Luk 5:10 ‘Van nou af sal jy mense vang.’

4:5 Die volgende dag het hulle leiers (archontes) en ouderlinge (presbuteroi familiehoofde) en Skrifkenners in Jerusalem bymekaargekom. Die Sanhedrin (die Hebreeuse vorm van die Griekse sunedrion ’raad’), 71 in getal, was  die hoogste raad van die Joodse gemeenskap. Dorpe het kleiner Sanhedrins gehad vir die bestuur van die dorp (Mark 13:9). Die hoogste raad het bestaan uit die leierpriesters (die hoëpriester en sy helpers, wat die dagbestuur van die Sanhedrin was, almal priesters en Sadduseërs), stamhoofde (die hoëpriester se adviseurs uit die 12 stamme van Israel) en die onderwysers van die wet van die Here, wat veral Fariseërs was. Moses het op bevel van die Here 70 leiers uit die twaalf stamme gekies om saam met hom die verantwoordelikheid vir die volk te aanvaar  (Num 11:11-17). Na aanleiding daarvan het die Jode ná die Babiloniese ballingskap weer ’n raad saamgestel (Esra 10:16; Neh 2:16; 3:1). Die Romeine het aan die Sanhedrin gedeeltelike jurisdiksie oor die Joodse volkslewe gegee. Dit is waarskynlik dieselfde lede van die Raad wat vir Jesus veroordeel het, wat weer hier bymekaar gekom het. Dat Lukas dit noem dat hulle in Jerusalem bymekaargekom het, wys op die vervulling van Jesus se opdrag in Hand 1:8 dat hulle in Jerusalem moet begin as sy getuies. Hier getuig hulle oor Jesus voor die hoogste raad van die Jode (vgl. Jesus se woord oor Jerusalem waar die profete doodgemaak word, in Luk 13:33-34).

4:6 Die leierpriesters word aangewys: Annas (Hebreeus: Chanas) word die hoëpriester genoem, hoewel hy in 15 n.C. reeds deur goewerneur Pilatus se voorganger as hoëpriester afgesit is, maar die titel onder die Jode behou het en nog groot seggenskap gehad het (vgl. Jesus se verhoor voor Annas in Joh 18:12-14). Annas se skoonseun Kajafas was die hoëpriester (18-36 n.C.; vgl. Joh 18:13) met Jesus se verhoor en nou nog met die verhoor van sy apostels Petrus en Johannes. Die leierpriester Johannes is moontlik Annas se seun Jonatan wat later hoëpriester geword het (36-37 n.C.); verder was daar ook Alexander en almal van die hoëpriesterlike geslag. Dit wys hoe sterk Annas se invloed in die Sanhedrin was. Die Joodse Talmud sê dat die byeenkomste van die Sanhedrin 40 jaar voordat Jerusalem in 70 n.C.  verwoes is, verskuif het uit die groot saal na die winkelsaal, genoem na Annas. Hier het Jesus die verkopers uitgejaag, Luk 19:45-48. Dit kan een van die redes wees vir Annas se haat teen Jesus en sy volgelinge.

4:7 Nadat hulle die twee apostels en die geneesde man (v14) in die middel voor die halwe sirkel van die raadslede laat staan het (soos die Misjna die sittings verduidelik) vra hulle (waarskynlik die hoëpriester namens die vergadering):‘Met watter soort krag en in watter naam het julle die ding (die genesing van die lam man) gedoen?’ Dit gaan oor die herkoms van hulle krag en met wie se volmag hulle die verlamde genees het. Dit kon ’n demoniese mag wees. Dieselfde vraag is aan Jesus gestel (Luk 20:2; Joh 2:18). In Luk 11:15 is Jesus selfs beskuldig dat Hy demone uitdryf deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone. Vir Lukas was dit twee ideale vrae aan die apostels om met volmag oor die Naam van Jesus te getuig.

4:8 Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, die Sanhedrin met respek toegespreek as ‘Leiers van die volk en ouderlinge (familiehoofde).’ Die passiewe deelwoord ‘vervul’ (plêstheis) beteken dat God die Heilige Gees beheer oor Petrus se antwoord oorgeneem het, soos Jesus beloof het in Lukas 12:12 ’…die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat julle moet sê;’ Luk 21:14-15 ‘Neem julle dan voor om nie vooraf na te dink oor julle verdediging nie, want Ek sal julle die woorde en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan nie;’ vgl  Markus 13:12 ‘…maar wat ook al op daardie oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.’

4:9-10  Petrus bevraagteken die Raad se motiewe: ‘As ons vandag verhoor word oor ’n goeie daad aan ’n gebreklike man waardeur hy genees en gesond is (sesōtai perfektum passief wat die voortduur van die genesing wat hy ontvang het aandui)…’ Dit is tog verbasend dat hulle gearresteer is, in die tronk aangehou is en nou verhoor word, en dit omdat ’n lam man genees is. Terwyl ’n mens bly sou wees oor so ’n genesing, is die Raad kwaad daaroor! So het Jesus ook gevra: ‘Baie goeie dade van die Vader het Ek aan julle gewys. Oor watter een van daardie dade wil julle my stenig’ (Joh 10:32).

Petrus antwoord hulle vraag oor die mag en Naam waardeur die man genees is: ’…moet julle almal en die hele volk Israel weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is (deur Jesus self), wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het, dat dit deur Hom is wat hierdie man genees en gesond voor julle staan.’

In die statige en blye vrymoedige wyse waarop Petrus die Naam Jesus Christus van Nasaret voor die Raad en die hele volk bekend maak, skyn die krag van die Naam van Jesus reeds deur. Dit is onomstootlik bewys deur die lamme wat almal gereeld gesien bedel het, en nou gesond voor hulle staan.Met Jesus se verlossing van die lamme voor hulle oë, staan die aanklaers van die apostels as aangeklaagdes voor die einste Jesus vir wie hulle verwerp het. Met ’n skreiende teenstelling stel Petrus God se optrede met Jesus teenoor die optrede van Israel teen Jesus, om hulle vyandskap teen God self duidelik te skilder. As klinkklare bewys van sy skerp teenstelling wys Petrus na die gesonde man, wat hulle voor hulle laat staan het vir ondervraging. Die geneesde man is die beliggaming van God se ‘Ja’ oor Jesus, en God se ‘Ja’ aan die apostels se boodskap oor die Man van Nasaret. Die woord sōzō verwys na genees van siekte, maar ook na gered uit die sonde.

4:11 Petrus haal aan uit Ps 118, wat by al die Jode goed bekend was en altyd aan die einde van die Paasmaaltyd as die laaste Hallel/lofprysing gesing is. Ps 118:22 lui: ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, het geword die kop van die hoek’ – dit kan verwys na die hoeksteen of na die sluitsteen. Die krom steen wat die bouers as hoeksteen verwerp het, het die sluitsteen van die boog oor die ingangspoort geword. In verse 19-20 is sprake van die poort na geregtigheid, en die poort na die HERE – regverdiges mag daardeur ingaan. Vers 21 loof die Here wat tot sy redding gekom het. Vers 23 sê van die besondere klip -Van die Here het dit gekom; dit is ’n wonder in ons oë. Vers 24: Dit is die dag wat die HERE tot stand gebring het; laat ons juig en ons in Hom verheug. So verduidelik Petrus met ’n beeld in die Skrif wat die betekenis is van Israel se verwerping van Jesus, en van God se aanvaarding van Jesus se offer vir die sonde van die wêreld.

Petrus voeg twee sinsnedes tot die Skrifwoord by om die toepassing te maak: ‘Hierdie een is’ die klip wat deur ‘julle’ die bouers verwerp is, wat die kop van die hoek geword het: ‘Hierdie man’ (houtos manlike vorm van ‘hierdie een’) verwys na Jesus in Hand 4:10, en ‘julle’ na die Jode wat Jesus verwerp het. Die ongeletterde (4:13) onderrig die Skrifkenners (4:5) met hulle verklaring van die Skrif (vgl. Luk 10:21). Jesus het reeds hierdie Psalm aangehaal (Luk 20:17) met die byvoeging in Lukas 20:18 ‘Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word, en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis,’ uit Jes 8:14-15. Jesus as die hoeksteen waarop sy kerk gebou word, word verder in die Nuwe Testament gebruik in 1 Kor 3:11; Ef 2:20; 1 Petr 2:6-7; Matt 21:42; Mark 12:10.

4:12‘Daar is ook deur niemand anders verlossing nie…’ In Grieks is dit ’n sterk ontkenning met ’n dubbele negatief: ‘En daar is nie in niemand anders verlossing nie. Die tweede deel van vers 12 brei slegs uit op die eerste deel: ‘…want daar is geen ander Naam (as die persoon Jesus Christus) onder die hemel (in die hele wêreld) aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.’ Jesus alleen is die rots van heil waarvan die Ou Testament gepraat het (in Jakob se seën Gen 49:24; in Moses se lied Deutr 32:15,18,30,31; in Dawid se lofliedere: 2 Sam 23:3; Ps 18:3,32,47; Ps 31:3-4; in Jesaja 17:10; ens.). Verlossing (sōteria) en verlos word (sōthenai) verwys beide na genesing van die ligaam en gees, en na verlossing van sonde. Soos die genesing van die lam man net deur Jesus geskied het, so is verlossing uit sonde deur niemand anders as deur Jesus nie. Daarmee brei Petrus se boodskap uit tot die verlossing van sonde. Die genesing van die lam man is ’n roepstem tot Israel om hulle verlossing van sonde by Jesus te vind. Paulus het die bevryding deur geloof in Christus Jesus alleen in Rom 3:21-31verder uitgewerk teenoor die Jode en almal wat nog deur onderhouding van die wet gered wil word

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...