Die Handelinge van die Apostels: Petrus se boodskap (Hand 2:14-42) – Francois Malan
Die boodskap begin met ’n inleiding in 2:14-16 wat aansluit by 2:12-13 se reaksies van die mense; gevolg deur 2:17-21 met ’n reeks aanhalings uit Joël; die Israeliete word aangespreek in 2:22-24,’n Ou Testamentiese aanhaling volg in 2:25-28, ’n direkte beroep word gedoen op die ‘broers’ in 2:29-31a, ’n aanhaling in 2:31b, ’n direkte boodskap aan die menigte in 2:32-34a, ’n aanhaling in 2:34b-35, en die hele huis van Israel word aangespreek in 2:36. Al vier die laaste oproepe tot die gehoor handel oor Jesus se dood en opstanding.
Inleiding (Hand 2:14-16)
2:14 Petrus as woordvoerder van die twaalf (apostels), het sy stem verhef (met ’n luide stem gepraat) en hulle (die skare) toegespreek (apoftheggomai dieselfde besondere woord wat in vers 4 gebruik is vir die hoë kwaliteit en duidelik geartikuleerde woorde wat die Heilige Gees aan hulle gegee het; vgl. ook Hand 26:25). Petrus en die elf ander apostels tree hier na vore. Petrus staan op om te praat om die belangrikheid van sy boodskap te beklemtoon. Gewoonlik het ’n rabbi gesit en sy studente geleer.
‘Manne Jode (Mede-Jode) en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister sorgvuldig na my woorde (rêmata veral die inhoud van die woorde). Die herhaling ‘weet’ en ‘luister’ beklemtoon die belangrikheid van wat hy gaan sê.
Handelinge het twee sendingpreke van Petrus voor Jode (hier en Hand 3:12-26) en een voor nie-Jode (10:34-43). Van Paulus is daar een voor Jode (13:16-41) en twee voor nie-Jode (14:15-18 en 17:22-31).
2:15 Hierdie mense (wat in die verskillende tale van die verskillende hoorders begin praat het) is nie dronk soos julle dink nie (hupolambanō soos julle veronderstel, sonder bewyse of sekerheid). Deur te spot het hulle die ongewone getuienis van die gelowiges oor ‘die groot dade van God’ betwyfel en as belaglik afgemaak.
Petrus se argument is dat dit nog nie nege uur in die môre is nie (letterlik ‘ nog nie die derde uur’ na sonop nie). Tussen nege en tien soggens was die tyd van die môre-offer in Israel, en die oggendete het daarna gekom.
2:16 Nee, dit is nie die werk van wyn nie! Dit is die werk van die Gees God. Dit is nie ’n teken van menslike swakheid en bejammerenswaardigheid nie, maar van God se mag en barmhartigheid. Want God het dit reeds 500 jaar tevore (ná die Babiloniese ballingskap en die heropbou van die tempel) deur sy profeet Joël aangekondig. Joël 2:28-32 word volgens die Griekse vertaling hier aangehaal. Die hele preek van Petrus word ’n uitleg van die Skrif, veral ook ’n lang aanhaling uit die Psalms van vers 25 af. Joël verwys na die uitstorting van die Heilige Gees veral in die eindtyd (die derde fase van Jesus se werk). Die beloofde eindtyd het met die uitstorting van die Heilige Gees aangebreek. Daar word na drie dinge verwys: God se uitstorting van sy Gees op alle mense; wondertekens in die lug en op aarde; die koms van die groot stralende dag van die Here.
Joëlprofesieë wat heenwys na Jesus (Hand 2:17-21)
2:17-18 ‘En dit sal in die laaste dae gebeur sê God “Ek stort van (apo dui die bron aan) my Gees op alle mense (sodat) julle seuns en julle dogters sal profeteer (profêteuō om onder die invloed van die inspirasie van God te praat). Julle jongmense sal visioene sien (bedags), en julle ou mense sal drome droom (snags – as openbarings van God). En ook oor die diensknegte en oor die diensmaagde sal Ek in daardie dae my Gees uitstort’ (die 1983-vertaling maak van diensknegte en diensmaagde ‘selfs dié wat nie in aansien is nie”). Nie net op die besondere profete van Israel in die Ou Testament nie, maarop alle mense word die Gees uitgestort en almal word profete wat God se woord verkondig.
‘In die laaste dae (en tais eschatês hêmeras)’ – dit is waar die woord eskatologie vandaan kom, die leer van die laaste dinge. Dit is die aanbreek van die derde tyd, van Jesus se voortsetting van sy werk op aarde deur die werking van sy Gees in sy gemeente (Joël 2:1 begin reeds met die dag van die Here wat kom wanneer dié dinge sal gebeur; (die eerste tyd verwys na die Ou Testament as heenwysing na Jesus se koms; die tweede na Jesus se tyd op aarde; die derde na Jesus se voortsetting van sy werk op aarde).
In plaas van Joël se Hebreeuse teks ‘ook oor die diensknegte en diensmaagde’ het die Griekse vertaling ‘my’ ingevoeg, wat Petrus hier aanhaal: ‘Ja, inderdaad (ge) oor my diensknegte en my diensmaagde sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en hulle sal profeteer.’ Daarmee word ‘julle seuns, dogters, jongmense en ou mense’ saamgevat as ‘my diensknegte en my diensmaagde,’ sê God. Hy neem ons ook aan as sy kinders (vgl. Rom 8:14-17). Deur God se Gees ontstaan die skepping van die nuwe mensheid, soos die Here met die skepping sy lewensasem in die mens geblaas het (Gen 2:7). ‘Uitstort’ wys op die oorvloed daarvan (Jes 32:15; 44:3).
Met sy invoeging van ‘my’ word die betekenis van die sin verander. Dit is nie meer slawe teenoor die vrye seuns en dogters nie, maar almal, jonk en oud, is God se diensknegte en sy diensmaagde, die nuwe volk van God wat die draers is van die gawes van die Gees in die eindtyd. (Die rabbi’s verwag dat met die eindtyd alle Israeliete profete sal word). Maar hier het God sy ou volk Israel reeds met sy nuwe volk vervang. Húlle is nou die volk van die Here met al die voorregte en regte daarvan (vgl. Gal 3:26-29). Dat hulle nou profeteer bewys hulle verbondenheid aan die Here om die woord van die Here te verkondig. Dit is wat die mense gesien het met die wonder van die verskillende tale waarin die groot dade van God se verlossing bekend gemaak is, en waarmee sommige Jode spot.
2:19-20 In twee paralelle sinne word in Joël 2:30-31 verwys na die wondertekens in die lug en op die grond wat die dag van die Here voorafgaan. Die tekens op die aarde: bloed, vuur, rookwolke hang saam met oorlog se bloedvergieting en brandstigting met rookwolke wat uit dorpe en stede opstyg. Die tekens in die lug: die son wat verduister en die maan wat ’n bloedrooi kleur kry soos die bloed van die oorlog op aarde. Die voorspelling oor die dag van die Here kom ook voor in Maleagi 4:3; Amos 8:9: dat die son verduister en daar op dié dag duisternis op aarde is; Jesaja 13:10 verwys na die son, maan en sterre wat op die dag verduister; Jes 34:4 sê: hemelliggame smelt weg. Petrus haal die voorspelde tekens op die Pinksterdag aan, as bevestiging van die betekenis van die geweldige rukwind en tonge soos van vuur.
Joël 2:31 praat van ’n groot en vreeslike (nōra’) dag. Die Griekse vertaling het groot en wonderlik (epifanê wonderlik, glorieryk (vir die Hebreeuse ra’a ‘vreeslike’), sodat dit opvallend en vanselfsprekend is. Niemand sal twyfel oor wat gebeur nie (vgl. Luk 17:24). Vir mense wat deur hulle geloof en lewe aan Christus verbind is, is dit ’n dag van vreugde; vir mense sonder Christus ’n vreeslike dag van oordeel. Die Pinkstergebeure is ’n voorafskouing van die finale dag van oordeel.
2:21 Hier gaan dit nou oor die werk van God in die laaste dae waarvan die uitstorting van die Heilige Gees deel is. Dán sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep gered word. In die Hebreeuse teks word Jahweh (‘Die Ek is’ van Eks 3:15) gebruik, wat deurgaans in die Griekse vertaling as Here (kurios) vertaal is, en so aangehaal word deur Lukas wat Petrus se Aramese preek in Grieks weergee. Daarmee word aangedui dat Jesus God is, soos Joh 1:1-5 sê. Die Naam van iemand dui sy hele persoonlikheid en sy reputasie aan. Hier gaan dit juis om Jesus se sterwe vir ons sonde en sy opstanding tot ’n nuwe soort lewe vir ons om in sy liefde te leef. Hier gaan dit ook nie net oor Israel, soos in Joël 2:32 nie, maar oor ‘elkeen,’ (pas hos an ‘wie ookal,’ soos in die Septuaginta), elke mens wat in Jesus glo sal gered word,’ soos in Romeine 10:12-13 en Galasiërs 3:28-29; vgl. Jesaja 28:16-17a; 1 Korinthiërs 1:2 (sōzō word gebruik vir red uit gevaar en herstel tot veiligheid en welwese; ook vir goddelike verlossing uit sonde en uit die oordeel; en vir genees van siekte. Hier gaan dit veral oor die redding uit die oordeel, maar ook oor die redding van ’n mens se lewe in hierdie bedeling.Hiermee word die aanhaling uit Joël afgesluit.
Skrywer: Prof Francois Malan