Die Handelinge van die Apostels: Petrus se rede (Hand 10:34-43) – Francois Malan
Petrus se rede volg dieselfde orde as sy toespraak op die Pinksterdag (Hand 2): verse 34-35 skets die spesifieke omstandighede; 36-41 gee die hoofpunte van Jesus se bediening, en van sy dood en opstanding; 43a ’n Skrifbewys; 42-43b ’n oproep tot bekering.
10:34-35 Petrus se toespraak begin met ’n aanhaling uit Deuteronomium 10:17 ‘..die Here is die groot God wat vir niemand partydig is nie;’ vgl. 1 Samuel 16:7 Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike; 2 Kronieke 19:7 By die Here ons God is daar geen bevoordeling nie. Later sou Petrus self skryf ‘ons Vader oordeel onpartydig volgens die optrede van elkeen (1 Petr 1:17; vgl Gal 2:6 God slaan nie ag op die aansien wat ’n mens het nie; Rom 2:11 God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie; Ef 6:9; Kol 3:25; en Jak 2:9 waarsku: ‘as julle mense volgens hulle uiterlike oordeel doen julle sonde…as oortreders van die wet’). Nou begin Petrus eers reg verstaan wat die ou Skrifwoorde wat hy ken, werklik beteken. Vanuit die Skrif begin hy verstaan wat die Here deur sy visioen wou sê. Die Ou Testamentiese gelowiges het die wet slegs op Jode toegepas en gedink die Here maak wel onderskeid tussen rein en onrein diere, en Jode en nie-Jode, wat hulle heidene noem.
Petrus het toe begin praat (letterlik: ‘sy mond oopgemaak en gepraat’ ’n Semitiese idioom): ‘Waarlik, ek is besig om te ontdek dat God niemand voortrek nie, maar in elke nasie is dié een wat vir Hom ontsag het en doen wat volgens God reg is (dikaiosunê in die regte verhouding tot God lewe), vir Hom aanvaarbaar.’ God het nie witbroodjies nie, maar behandel alle mense op dieselfde grondslag (letterlik, God neem niemand se gesig aan nie, prosōpolêmptês, ’n Semitiese idioom). Jesus het juis gekom vir elkeen wat in Hom glo, wat glo dat Jesus God is wat vir sy sonde gesterf het om saam met Hom op te staan uit die sonde tot ’n lewe as kind van God saam met die Seun van God (vgl. Rom 6:11).
10:36-38 Die hoofwerkwoord van verse 36-38 is in die oorspronklike ‘Julle weet’ of: ‘Julle moet weet’ in vers 37. Vers 36 bou op na ‘julle moet weet’ en vers 38 volg op die hoofwerkwoord. Dit gaan in hierdie gedeelte juis oor dinge wat hulle nog nie weet nie.
10:36 (Julle moet weet van) die woord/boodskap wat Hy aan Israel (die kinders van Israel) gestuur het toe Hy die evangelie van vrede deur Jesus Christus verkondig het (Ef 2:17): ‘Hy (Jesus) is die Here van almal (alle volke)/alles’ – wat oor alles en almal regeer in die koninkryk van God (vgl. Matt 11:27; 28:18; 1 Kor 15:27). Die boodskap van vrede wat aan die kom is, wat 500 jaar tevore reeds deur Jesaja aangekondig is (Jes 52:7), waarvan die godvresendes kennis geneem het, is nou deur Jesus Christus vervul. Hy bring vrede tussen God en dié mense in wie God ’n welbehae het, en vrede tussen mense (Luk 2:13-14).
10:37 ‘Julle moet weet wat dwarsdeur Judea gebeur het, wat in Galilea begin het na die doop wat Johannes verkondig het…’ Nadat Johannes vir Jesus gedoop het, het Hy in Galilea begin preek (Luk 4:14-15). Hy sou vertel van die Heilige Gees wat op Jesus neergedaal het en van die stem uit die hemel (Lukas 3:21-22), ook van wat Jesus verkondig het o.a. in die veldrede (Lukas 6:17-49) en hoe Jesus hulle leer bid het (Lukas 11:1-13).
18:38 (Julle moet weet) hoe God Jesus van Nasaret (met sy doop) met die krag van die Heilige Gees gesalf het (Jes 61:1; Luk 4:18), hoe Hy (die land) deurreis het, goed gedoen het (die dienende ‘weldoener’ van Luk 22:25-27 euergétês) en almal wat deur die duiwel verdruk is, genees het (Luk 11:20; 13:16; 1 Joh 3:8; as Verlosser, Luk 1:68-69; 2:11) omdat God met Hom was (Hand 2:22; Joh 3:2; maar dit op ’n unieke manier, want Hy is God met ons, Immanuel, Matt 1:23).
10:39 ‘Ons’ verwys na Petrus en sy metgeselle, maar ook na die apostels en ander volgelinge van Jesus. Hulle wat saam met Jesus was tydens sy bediening, oor wie die Heilige Gees gekom het, is die oog- en oor-getuies van Jesus en alles wat Hy gesê en gedoen het in die Joodse land (Hand 1:8,21-22). Die einddoel van sy bediening was wat in Jerusalem op Hom wag (vgl. Lukas 9:53). ‘Hulle’ verwys na die Jode en veral na hulle hoogste Raad in Jerusalem. Hulle het Hom doodgemaak (anairêō doodmaak om van Hom ontslae te raak) deur Hom aan ’n kruishout op te hang. Deutr 21:22-23 sê: wie aan ’n paal opgehang word, is deur God vervloek. Galasiërs 3:13: Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet toe Hy vir ons vervloek is, want daar staan geskryf: ‘Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang.’ Die verhoging aan ’n kruis sê eintlik jy het nie meer plek op aarde nie en die hemel wil jou ook nie hê nie. Maar dit is juis die plek waar God, wat ons mensheid aangeneem het, moes sterf vir die mensdom se sonde teen God om hemel en aarde te versoen.
10:40 Voorop in die Griekse sin staan ‘vir Hom’ om die kontras te beklemtoon wat God met Jesus gedoen het teenoor wat die mense met Hom gemaak het. Hulle het gedink Hy is deur God vervloek omdat hulle Hom gekruisig het, waar Hy tussen hemel en aarde gehang het, maar God het sy liefdesoffer aangeneem deur Hom op die derde dag uit die dood op te wek en gegee het dat Hy sigbaar word. Sy verskynings aan die apostels en gelowiges na sy opstanding (vgl. Hand 1:3; 1 Kor 15:5-8) is die sigbare bewyse dat sy offer vir ons sonde deur God aangeneem is (Hebr 10:10).
10:41 Jesus se verskynings was nie aan die hele Joodse volk nie, maar aan getuies wat reeds vooraf deur God aangewys is (procheirontonéō – pro vooraf, cheir hand, teínō uitsteek; vgl Hand 1:2 eklégomai uitsoek). Dit is dié mense wat saam met die opgestane Jesus geëet en gedrink het as die ware oog-en oor-getuies van sy opstanding. Die saam eet en drink met Jesus verwys na die feesmale wat die opgestane Jesus met sy gemeente gehad het, saam met die Emmausgangers nadat Hy vir hulle die Skrif uitgelê het oor sy dood en opstanding (Luk 24:30-31) en nog dieselfde Sondagaand met die elf apostels en die mense saam met hulle (Luk 24:33,41-43). Johannes 21:12 vertel van die ete op die strand van die see van Galilea na die groot visvangs van 153 visse.
Die oorvloed visse wys ook na ’n toekomstige oorvloedige lewe van vreugde. By die instelling van die nagmaal tydens die Paasmaal die aand voor sy sterwe, het Jesus in Lukas 22:16 verwys na die toekomstige messiaanse maaltyd saam met sy volgelinge: ‘Ek sal die Pasga beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die koninkryk van God nie’ (vgl ook Lukas 13:29: aanlê aan die tafel in die koninkryk van God; 14:15 deelneem aan die maaltyd in die koninkryk van God). Openbaring 19:6-9 verwys na die ewige lewe saam met Jesus as die bruilofsfees van die Lam.
10:42 Jesus het aan sy dissipels die opdrag gegee om aan die volk in die openbaar aan te kondig (kêrússō om as herout aan te kondig, te preek) en kragtig te getuig (diamartúromai op grond van persoonlike kennis kragtig te getuig) dat dit Hy, Jesus, is wat deur God aangewys is as Regter oor lewendes en dooies. Die woord volk (laós) verwys hier na die gewone mense teenoor die leiers. Sedert Jesus se hemelvaart is Hy aan die regterhand van God as Regter, soos Stefanus Hom gesien het (Hand 7:56) en Jesus die Joodse Raad gewaarsku het (Luk 22:69), deur Daniël 7:14 en Mattheus 25:31-46 voorspel is en deur Openbaring 5:5 bevestig is (vgl. 2 Tim 4:8 die regverdige Regter). Lewendes en dooies verwys na die hele mensdom, na dié wat nog sal lewe by die wederkoms en almal wat reeds gesterf het (vgl. 1 Thes 4:15-17).
10:37-42 is ’n kort lewenskets van Jesus om daarmee die praktiese betekenis van Jesus se lewe, sterwe, opstanding en hemelvaart vir elke gelowige te beklemtoon. Dit is ook ’n opsomming van die tipiese prediking aan die heidene om Jesus aan hulle bekend te stel, soos vers 42 uitgespel het.
10:43 Al die profete wie se woorde in die Bybel opgeteken is, getuig eintlik oor Jesus en dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes ontvang. Op die woord oor die Regter in vers 42, volg die woord oor vergewing van sondes deur sy Naam in vers 43. Dit is reeds vervat in Jesus se opdrag in Lukas 24:47. Die vergifnis van sonde word aan geloof in Jesus en sy Naam verbind. Sy Naam sluit sy hele bediening en lewenswyse in, vandaar die kort geskiedenis van sy lewe in die vorige verse. Dit is bedoel vir elke mens wat glo (vs 43) uit elke volk (vs 35), ’n universele uitnodiging. Die Regter oor almal is ook die Redder vir almal wat in Hom glo. Vir hierdie slot van Petrus se preek word, naas die apostels, al die profete as getuies gestel. Soos Petrus se rede met ’n aanhaling uit die Skrif begin het (vers 34 met ’n Skrifverwysing uit Deuteronomium), sluit dit af met ’n verwysing na die Skrifprofete. Vir die profete se verwysing na vergewing van sonde, vgl. bv. Jes 33:24 ‘die sonde van die volk wat in Sion woon, is vergewe;’ Jer 31:34 ‘Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie;’ Dan 9:24 ‘In dié tyd sal daar aan die goddeloosheid en sondes ’n einde gemaak word en sal daar versoening gedoen word vir die oortredings;’ en dan in die besonder Jesaja 53, Ps 103, ens. Dat dit universeel vir almal is, vgl. bv. Jes 53:6 ‘die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.’ Jes 53:11 ‘My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra.’ Joël 2:32 ‘Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.’
Skrywer: Prof Francois Malan