Die Handelinge van die Apostels: Petrus se toespraak in die tempel (deel 1, Luk 3:11-20) – Francois Malan

3:11 Die geneesde man bly aan
Petrus en Johannes vashou toe die hele volk stomgeslaan om hulle saamdrom
in die pilaargang wat die Pilaargang van Salomo genoem word – almal wil
nuuskierig hoor wat met hom gebeur het.Met die wonder van die man se
skielike lewensverandering wat hulle met hulle eie oë aanskou, roep die Here
die volk bymekaar vir Petrus se boodskap. Tydens die fees van die Tempelwyding
het die Jode ook in die Pilaargang van Salomo waar Jesus rondgeloop het, om Hom
saamgedrom (Joh 10:22-24).  

3:12 Toe Petrus dit (die
samedromming van die mense) sien, het hy die volk toegespreek. Vir die
aanspreekvorm ‘Israeliete’ vgl. by 2:22 vir Israel as die volk van die Here. Hy
spreek die volk van die Here se misverstande aan met twee inleidende vrae:
waarom hulle verwonderd is oor die man se wondergenesing wat die Here bewerk
het; en waarom hulle die twee apostels aanstaar asof hulle uit eie krag en
vroomheid, uit hulle verdienstelikheid, die man laat loop het. Op die eerste
vraag antwoord Petrus self in verse 13-15b, en op die tweede in verse 15c-16.

3:13 ‘Die God van Abraham en
Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Dienskneg Jesus verheerlik…’
Dit is die God wat sy Naam Jahweh/HERE aan Moses by die doringbos bekendgemaak
het en ons vaders geroep het om Hom te dien. Hy het met hulle ’n genadeverbond
gesluit om hulle God te wees en dat hulle, Israel, sy gehoorsame volk sal wees.
Dié God het vir Jesus, sy Dienskneg verheerlik. Jesaja 52:13 se lydende
Dienskneg van die Here is sy beloofde Gesalfde, die Christus, die Jode se
verwagte Messias. Dat God Hom verheerlik het, verwys waarskynlik na sy
opstanding, hemelvaart en sy goddelike heerlikheid aan die Regterhand van God.

‘Hom het julle oorgelewer en
verloën voor Pilatus, wat beslis het om Hom vry te laat’ (Luk 23:4,14-16, 20,
22). God se verheerliking van Jesus staan in skrille kontras met die
Jode se verskriklike optrede teen Hom. Petrus spaar die Jode nie, maar hy reken
homself saam met hulle (‘ons vaders’) en onthou sy eie driemaal verloëning van
Jesus. In Hand 2:23 het hy ook reeds verwys na God se plan met sy uitlewering
van Jesus. Pilatus word eerliker in sy beoordeling van Jesus geskilder as die
Jode. As Dienskneg van die Here word Jesus hier voorgestel as God se getroue
Dienskneg, wat God se werk op aarde volbring het met sy kruisdood. As
verheerlikte Here sit Jesus God se werk op aarde voort deur sy gesante.   

3:14 ‘Maar julle het die
Heilige en Regverdige verloën…’ Die ‘Heilige’ verwys na Jesus as God en na sy
toewyding aan sy Vader en die taak wat aan Hom opgedra is. Hy is die enigste
mens wat totaal aan sy Vader toegewyd gelewe het. Die ‘Regverdige’ wys na ’n
lewe wat ooreenstem met God self en met God se geregtigheid, en wat goed en reg
is voor God. Hulle het egter sy Godheid en sy goedheid geloën en gepleit, geëis
(aiteō) dat ’n moordenaar aan hulle geskenk word (charizomai).
Deur hulle versoek om ’n moordenaar het hulle moordenaars van God se
Dienskneg
geword. 

3:15 ‘Julle het die Leidsman
tot die lewe doodgemaak…’ Leidsman (archêgos stigter-leier, iemand wat
die weg van die lewe gemaak het en mense daarop lei). Die pad wat Hy geloop het
na die kruis en sy opstanding uit die dood het die pad van ware lewe saam met
God oopgemaak. Hy het ons uit ons sonde en sondeskuld verlos en van ons God se
geliefde kinders gemaak. Maar hulle het Hom doodgemaak. God het Hom egter
daarna uit die dood opgewek as oorwinnaar oor die dood as God se straf op die
sonde (Gen 2:17). Vir die gelowige is die dood nou die deurgang na die
onverganklike onsterflike ewige lewe (1 Kor 15:52-57). Jesus is nou vir elke
gelowige die Brenger van ‘n lewe saam met God (Joh 1:4 sê van die Woord wat
self God is ‘in Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense’). Die Jode
het Jesus se lewe en sy dood gesien, maar dat God Hom uit die dood  opgewek het, het die apostels gesien en
is deur Hom aangestel as getuies van sy opstanding (1:8).

3:16  ‘Dit was op grond van geloof in die Naam van
Jesus dat sy Naam hierdie man wat julle sien en ken, sterk gemaak het. Die
Griekse woord vir naam (onoma) word ook figuurlik gebruik vir die
persoon self en vir sy reputasie. Dit gaan hier om die twee apostels en die
lamme se geloof in Jesus as persoon, en dat Jesus hierdie man sterk
gemaak het.

Die apostels en die lamme se
geloof in Jesus is ook ’n geskenk van Jesus aan hulle, wat Hy in hulle
bewerk het. Deur hulle vertroue op Jesus het Hy aan die lamme hierdie volkome
gesondheid (holoklêria) gegee, en dit in almal wat daar saamgedrom het
se teenwoordigheid. Die Jesus wat die Jode doodgemaak het, is hier, en Hy het
aan die apostels en aan die man geloof in Hom geskenk, sodat die man, wat van
sy geboorte af reeds 40 jaar lank lam is, met ’n enkele woord, peripatei!
‘stap rond!’ volkome gesond is.

Twee sake wat vir die hele
kerk deur die eeue waar is, word hier onderstreep: die man is deur God
genees
, en die man is genees deur die geloof wat God aan die mens skenk.
Dit is die getuienis van die apostels en is aan die hele skare bewys dat Jesus,
wat hulle laat kruisig het, deur God opgewek is uit die dood. Hy is nou die
Leidsman na die lewe vir elkeen wat in Hom glo. Hebreërs 1:3 sê: ‘Hy hou alles
in stand deur sy magtige woord…’ Efesiërs 2:8: ‘Want uit genade is julle
verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julleself nie; dit is die gawe van
God.’  1 Petrus 1:21 ‘Deur Hom (Christus)
glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek het en heerlikheid aan Hom gegee
het…’ 

3:17 ‘En nou broers…’ Petrus
maak nou die gevolgtrekking van wat Jesus se genesing van die lam man vir die
skare wat Jesus hier bymekaar gebring het, beteken, en wat hulle te doen staan.
Hy weet dat hulle uit onkunde opgetree het – hulle het geweet dat hulle Jesus
verwerp het en sy kruisiging van Pilatus geëis het, maar het nie die betekenis
daarvan verstaan nie. So ook hulle leiers, die leierpriesters en die
volksleiers (vgl. Jesus se gebed vir hulle, Luk 23:34). Hulle het nie besef dat
Jesus waarlik God is, wat die sonde van die wêreld op Hom kom neem het en die skuld
en mag van sonde van ons kom wegneem het nie (Joh 1:29: Jesus is die Lam van
God wat die sonde van die wêreld wegneem), en dat Hy die Leidsman na die lewe
vir ons is nie. Petrus se gevolgtrekking het ook twee punte: hulle het nie
besef dat Jesus hulle verwagte Messias/Gesalfde is, wat deur God beloof is as
sy verlossingsplan nie; en dat God juis deur hulle verwerping van Jesus, sy
verlossingsplan deurgevoer het
nie. Dit maak hulle nie onskuldig aan die
bloed van Jesus nie (Matt 27:25 ‘Laat sy bloed op ons en ons kinders kom’),
maar deur geloof in Jesus as die Leidsman na die lewe, kan hulle ook vergewe
word en die lewe van Hom ontvang (Luk 24:47). 

3:18 Die moord op Jesus, die
Christus/Gesalfde van God, deur die Jode se onkunde, was die vervulling van God
se verlossingsplan vir die wêreld. Jesus se weg van lyding as God se Gesalfde
(Messias) het God deur die mond van al die profete vooruit laat verkondig
(prokatangellō). So het Jesus ook aan die Emmausgangers gesê (Luk
24:25-27, vgl. Luk 24:46). Van die profete wat sy lyding voorspel het, staan
Jesaja 53 voor in die ry; vgl. ook Sagaria 12:10; Psalms 22; 31; 34; 69).

3:19-20 ‘Bekeer julle…’
(metanoêsate imperatief) die opdrag wys na die verandering van hulle
lewenswyse deur die verandering van hulle denke oor sonde teen God en hoe om
met God versoen te word, hoe hulle verwerping van God se Gesalfde vergewe kan
word deur geloof in die einste Jesus wat hulle gekruisig het. 

‘…en draai terug (epistrepsate)
sodat julle sondes uitgewis kan word, …’ 
Kolossense 2:14 sê: ‘Christus het die skuldbewys met sy aanklagte teen
ons uitgewis en dit vir altyd weggeneem toe Hy dit aan die kruis
vasgespyker het’ daarom roep Petrus die Jode om terug te draai na dié Christus,
wat hulle gekruisig het.  

‘…sodat tye van verkwikking
deur die teenwoordigheid van die Here
vir seker mag kom…’ ‘verkwikking (anapsuksis)
verwys na verlossing uit ellende en die herstel van geluk. Dit geskied
vir seker in die teenwoordigheid van die Here, in ’n lewe voor sy aangesig,
wanneer ons sondes uitgewis is deur geloof in Jesus se offer vir ons sonde. 1
Petrus 1:8-11 praat van die heerlikheid wat op Christus se lyding volg, ’n
onuitspreeklike en heerlike blydskap omdat ons deel het aan die doel van
ons geloof, naamlik die verlossing van ons siele.

‘…en Hy vir julle die Messias/Christus mag stuur
wat reeds vir julle toegewys is, naamlik Jesus.’ Hulle verwag nog God se
beloofde Messias om hulle van die Romeinse juk te verlos, maar God het reeds
Jesus as sy Gesalfde vir hulle uitgekies en aangestel. Na Hom moet hulle
terugkeer, dan stuur Hy vir Jesus om by hulle te wees sodat hulle in Jesus
se teenwoordigheid tye van verkwikking beleef,
verlos uit ellende en
herstel van geluk.