Die Handelinge van die Apostels: Petrus se toespraak in die tempel (deel 2 – Luk 3:21-26) – Francois Malan
3:21 ‘Die hemel moes Hom
(Jesus) ontvang…’ ‘moes’ volgens die raadsplan van God; moes Hom
‘ontvang’ (deksasthai aoristus infinitief, wat reeds gebeur het).
‘Hemel’ (ouranos) verwys na die bonatuurlike woning van God, waar Jesus
in sy heerlikheid moes ingaan (Luk 24:26; vgl. Openb 12:5b.) om aan die
regterhand van God oor die hele skepping te regeer (Luk 22:69). Paulus sê:
‘Want Christus moet as koning regeer totdat “Hy al die vyande onder sy voete
gestel het.” Die laaste vyand wat vernietig moet word is die dood. Want Hy
(God) het alles onder sy (Jesus se) voete gestel’ (1 Kor 15:25-27a).
‘…tot die tye van herstel van
alle dinge (die vernuwing van alle
dinge)…’ In Mattheus 13:39-43 praat Jesus van die voleinding van die wêreld
as die oes, wanneer die Seun van die Mens sy engele sal uitstuur om al die
struikelblokke en dié wat wetteloosheid bedryf uit sy koninkryk bymekaar te
maak en in ’n vuuroond te gooi. Dan sal die regverdiges soos die son skyn in
die koninkryk van hulle Vader. Oor die tyd voor die voleinding sê Jesus ‘Kyk,
Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld’ (Matt 28:20,
’n toespeling op Haggai 1:13 ‘Ek is by julle’).
‘waarvan God van ouds af
gepraat het by monde van sy heilige profete.’ Maleagi 4:5-6 praat van
Elia as die groot hersteller voor die groot en verskriklike dag van die Here
(vgl. Jes 13:6; Joël 2:13 oor die dag van die Here). ‘Heilige profete’ wys na
hulle toegewydheid aan God, om sy woord getrou te verkondig.
3:22 Petrus verwys sy Joodse
broers in verse 22-23 na Deuteronomium 18:18-19 en Levitikus 23:29b wat hy vry
vertaal: Toe die volk by Sinai gesê het ‘Ek kan nie weer ’n keer die stem van
die Here my God aanhoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek,’
het die Here vir Moses gesê ‘Wat hulle gesê het is reg, Ek sal ’n profeet vir
hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal
my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volk alles sê wat Ek hom beveel…’
Petrus pas die woorde van die
Here aan Moses toe op Jesus se eerste koms na die aarde as vervulling van die
belofte van ’n profeet soos Moses wat die Here in die eindtyd sal laat
opstaan. Daarmee word ‘’n Profeet soos Moses’ bygevoeg by die eretitels van
Jesus in 3:13 ‘Dienskneg van die Here,’ 2:14 ‘die Heilige en Regverdige,’ 2:15
‘Leidsman tot die lewe.’ As die groot Profeet soos Moses, wat die Jode verwag
het, geld Jesus se optrede as boodskapper van God. Hy het die wil van God aan
die mensdom kom bekendmaak (Joh 14:7-11). En nou spreek Hy deur sy apostels.
Hebreërs 3:1-6 sê Jesus is uitnemender as Moses omdat Hy die Seun van God
is.
3:23 In Deuteronomium 18:19 sê
die Here: ‘Ek sal self rekenskap eis van elkeen (elke siel) wat nie gehoorsaam
is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie.’ Petrus verkort dit en voeg
Levitikus 23:29b uit verband hierby ‘…moet van sy volksgenote afgesny word.’
Die vroeë kerk vind die basis van hulle boodskap reeds in ’n woord wat Moses
uitgespreek het: Die verlossing en nuwe lewe is aan die gehoorsaamheid van
geloof in Christus verbind (soos Jesus in Joh. 5:39,46 sê). Jode wat hulle nie
tot Christus bekeer nie, word afgesny van die volk van God (eksholethreusetai
vernietig en verwyder). Vir sy hoorders sê Petrus duidelik wat vir hulle op
die spel is. Christene is nou die ware volk van God (vgl. Gal 3:28). Romeine
9:6 ‘…nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie.’ Romeine
10:13 Elkeen wat die Naam van die Here Jesus aanroep, sal verlos word
(vgl. Joël 2:32). Galasiërs 6:15-16 sê ‘die Israel van God’ bestaan uit Jode en
nie-Jode wat aan ons gekruisigde Here, Jesus Christus, verbind is en lewe asof
die wêreld vir hulle gekruisig is en hulle vir die wêreld – ons ou mens is saam
met Jesus gekruisig, sodat ons sondige bestaan beëindig kan word en ons nie
meer slawe van die sonde sal wees nie, en nou saam met Hom vir God sal lewe
(Rom 6:6-11).
3:24 Ná Moses (1230 v.C), ‘het
al die profete, wat sedert Samuel (1020 v.C. vgl. 2 Sam 7:12 met Hand 13:23) en
sy opvolgers geprofeteer het, ook hierdie laaste dae aangekondig (vgl. Hand
2:17).’ Die laaste dae het begin met Jesus se koms deur die uitstorting van
die Heilige Gees en hou aan tot by sy wederkoms. Al die profete verwys na
’n Messiaanse tyd wat sal kom, en verwys daarom na Jesus, God se
Christus/Gesalfde. So sien die vroeë kerk die hele Ou Testament as profesie en
beeld vir die geskiedenis van Jesus en sy gemeente (bv. Hand 1:20 se verwysing
na die Psalms; Hand 2:16-21 na Joël se profesie; en die aanhalings uit die
Psalms van Dawid as profeet in Hand 2:25-36; vgl. Hebr 11:32).
3:25 Hier spreek Petrus die
Jode voor hom direk aan en noem hulle ‘Kinders van die profete en van die
verbond wat God met julle vaders gesluit het.’ ‘Kinders van’ is ’n tipiese
Semitiese idiomatiese uitdrukking wat verwys na die Jode wat nou na Petrus
luister as die mense wat die beloftes van die profete sal ontvang en dat hulle
ingesluit is in die genadeverbond wat God met hulle voorvaders gesluit het.
God het sy verbond met hulle
eerste voorvader Abraham gesluit (vgl. Gen. 12:1-3). Toe was hy 75 jaar oud,
sonder kinders en het met sy vrou en besittings 800 km ver getrek van Haran na
Kanaän in opdrag van die Here (Gen 12:1,5). Later het die Here sy verbond met
Abraham plegtig bevestig met die belofte van ’n groot nageslag (Gen 15:1-18).
Toe hy 99 jaar oud was, het die Here aan hom verskyn met die belofte dat hy die
vader sal word van baie nasies wat uit hom sal voortkom, en dat sy verbond ’n
blywende verbond is, naamlik dat Hy Abraham se God sal wees en ook die God van
sy nageslag (Gen 17:7). Toe Abraham 100 jaar oud geword het, is sy seun Isak
gebore (Gen 21:5). Abraham moes in opdrag van die Here sy opgeskote seun Isak
gaan offer in die landstreek Moria. Die Engel van die Here hom op die laaste
oomblik gekeer, omdat hy die Here se toets van sy gehoorsaamheid geslaag het.
Toe het die Here met ’n eed aan Abraham belowe: ‘In jou nageslag (letterlik:
in jou saad) sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam’
(Gen 22:18). Later het die Here sy belofte aan Isak bevestig (Gen 26:4). ‘In
jou saad’ is ’n Joodse manier om na die nageslag te verwys. In Galasiërs 3:16
verwys Paulus na die enkelvoud ‘in jou saad/sperma’wat na Jesus
verwys as die Nakomeling van Abraham in wie al die nasies van die aarde die
seën van God sal ontvang deur geloof in Jesus.
Die wonderlike belofte, dat al die nasies van die aarde in Abraham se nageslag (letterlik: in jou saad) deur die Here geseën sal word, sê Petrus, is vir sy Joodse hoorders van krag, want: ‘Julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met julle vaders gesluit het.’ ‘Julle’ staan met klem voorop in die sin. Vir hulle is die verlossing en tye van verkwikking bedoel, wat die profete aangekondig het (vers 20). Dié seën van die Here moet egter na die nasies toe uitgedra word, deur die kinders van Abraham, want die verbond sluit almal in wat in Jesus glo, Jode en nie-Jode. 3:26 ‘Aan julle eerste van almal het God, nadat Hy sy Dienskneg opgewek het, (Hom) na julle gestuur om julle te seën deur elkeen steeds te laat wegdraai van julle booshede.’ In vers 13 is gepraat van God se Dienskneg Jesus, die Kneg van die Here van Jesaja 52-53. Die verlossing uit die mag van die bose is deur Jesus, soos ook die mens se bekering tot God (Hand 2:47; 11:18). Maar bekering is ook die mens se daad as antwoord op God se roeping en optrede (Hand 3:19; 14:15; 26:17-18). Vir dié mense wat Jesus as hulle Christus verwerp het en doodgemaak het, kan hulle boosheid vergewe word, vir elkeen wat na Christus toe te kom. Hy is deur God eerste na hulle gestuur (vgl. Hand 1:8), sodat hulle na Hom toe kan terugkom vir hulle vergifnis deur sy offerdood (Jes 53:8b) en vir hulle bevryding uit die bose deur sy opstanding 6-27). Die teenwoordige deelwoord eilogounta ‘seënende’ beteken dat God vir Jesus gestuur het om voort te gaan om God se guns oor ons uit te spreek, om ons steeds te laat wegdraai van ons booshede, om die Leidsman na die lewe (3:15) met vreugde te volg en op sy pad te lewe (Luk 9:23).
Skrywer: Prof Francois Malan