Die Handelinge van die Apostels: Petrus se verslag aan die kerk in Jerusalem (Hand 11:1-18) – Francois Malan
11:1 ‘Die apostels en die gelowiges (letterlik: ‘broers,’ waarby die susters destyds ingesluit is) dwarsdeur Judea het gehoor dat die heidene ook die woord van God met graagte ontvang en geglo het (déchomai).’ Die ongehoorde gebeurtenis word bekend onder die Christen-Jode, dat heidene, en dit nogal hulle aartsvyande die Romeinse soldate, die evangelie aangeneem het, ondenkbaar! Hulle kan nie eers ’n apostel stuur om te gaan kyk wat daar aangaan, soos na Samaria nie (Hand 8:14), want die ‘leierapostel’ Petrus is self daarby betrokke. Dat die gelowiges dwarsdeur Judea daarvan gehoor het, is vir Lukas belangrik. Dit was nie ’n enkele gebeurtenis soos met die Ethiöpier naby Gasa en met ’n hele stad in Samaria nie, maar ’n draaipunt in die geskiedenis van die kerk wat opgebou het tot in die huisgroep van ‘n ampsdraer van die Romeinse ryk in Sesarea.
11:2 Toe Petrus van Sesarea aan die kus opgegaan het na Jerusalem in die bergwêreld, het die Joodse Christene in Jerusalem (letterlik: dié wat besny is) met hom geargumenteer (diakrínomai pròs disputeer teen iemand op grond van verskil in beoordeling). Petrus loop hom vas teen heftige kritiek van die kant van die ander apostels en die Jerusalemgemeente. Later ontwikkel die streng Joodse gevoel al sterker in Jerusalem en het hulle die vryheid van die geloof in Christus teengestaan. Die meer gematigde Helleniste het destyds met die vervolging die stad verlaat. Die Judaïste tree in Handelinge al sterker op (vgl. Hand 15:1-2,5,24; 21:20-21). Petrus swig later in Antiogië self onder hulle (Gal 2:12). Die groep wat die besnydenis vir almal vereis het, het Paulus se vrye genade-alleen boodskap teengestaan (Gal 2:4; 5:2-12; 6:12; 2 Kor 11:5,13).
11:3 Hulle beswaar teen Petrus lui: Jy het ingegaan (in die huis) by onbesnede mense (anêr kan ’n man of ’n mens aandui) en saam met hulle geëet. Hulle kritiek gaan nie oor godsdienstige besware soos die prediking aan of die doop van heidene nie, maar oor die sosiale verkeer met nie-Jode: besoedeling deur in te gaan in die heidenhuis (vgl.bv Joh 18:28) en om saam met hulle te eet (vgl. Joh 4:9). Hulle mag geen verdrag gesluit het met die inwoners van Kanaän nie (Eks 34:15-16); Saam eet beteken moontlik iets eet wat vir die Jood onrein is volgens die reinheidswette van die Ou Testament, vleis wat nie kosher is nie (Lev 7:22-27; 17:10-14); vleis van onrein diere (Lev 11:1-47; Deutr 14:1-21).
11:4 Petrus het begin om aan hulle stap vir stap te verduidelik wat gebeur het, soos die Here hom stap vir stap oortuig het om op te tree. Hy het in die heiden se huis ingegaan en daar ook saam met hulle geëet. Petrus is nie eintlik besig om homself te verdedig nie, maar met vreugde te getuig van wat die Here alles gedoen het, en hom daarvoor gebruik het. Die feite word nou vanuit ’n ander gesigpunt gesien. Kornelius se naam word nie eers genoem nie. Dit gaan om heidene wat die evangelie aangeneem het en die Heilige Gees ontvang het.
11:5 Hy begin met sy gebed in Joppe wat oorgegaan het in ekstase waarin hy ’n visioen gesien het van iets soos ’n groot laken wat stadig aan vier hoeke uit die hemel neergedaal het en tot by hom gekom het. Hy vertel nie van die uur waarop hy met die trap na die dak geklim het en dat hy honger geword het en die mense die ete begin berei het nie, of dat die hemel geopen het en dat die voorwerp tot op die aarde gekom het nie. Maar hy voeg by dat die groot voorwerp uit die hemel tot by hom gekom het. Met hierdie herhaling van wat gebeur het deur Petrus self, konfronteer Lukas sy lesers ’n tweede keer met die gesig wat Petrus gesien het. Die nadruk word gelê op die feit dat dit God is wat alles laat gebeur het.
11:6 Petrus voeg by dat hy stip daarna gekyk het en by die diere wat in hoofstuk 10 opgenoem is noem hy ook wilde diere wat dan van mak diere onderskei moet word.
11:7-8 Hy vertel dat hy die stem gehoor het wat hom beveel het om te slag en te eet, en sy reaksie daarop: ‘Onder geen omstandighede nie, Here! want iets wat besoedel is of onrein is het nog nooit by my mond ingegaan nie.’ Maar by sy mond het die weiering om die Here te gehoorsaam gekom uit ’n ‘onrein’ hart wat van sy selfgeregverdiging voor God oortuig is (vgl. Mark 7:18-23).
11:9 Die vers herhaal 10:15 maar voeg by dat die stem uit die hemel gekom het. Petrus vertel dat hy hom baie sterk teen die opdrag om van die onrein diere ook te slag verset het, maar dat die Here baie duidelik uitgespel het dat dit sy wil is.
11:10 herhaal 10:16 behalwe dat ‘onmiddellik’ en ‘die voorwerp’ vervang word met ‘weer alles.’
11:11 som 10:17-18 op sonder Petrus se verwardheid oor die betekenis van die gesig, en daar word bygevoeg dat die koms van die drie manne op daardie selfde oomblik was toe die stem vir die tweede maal gesê het ‘wat God gereinig het mag jy nie onrein ag nie,’ en alles weer in die hemel opgeneem is. Die betekenis van die gesig word so duidelik vir Petrus uitgespel deur die merkwaardige samehang van omstandighede wat net van die Here kon gekom het.
11:12 het ook die opdrag in 10:19- 20 van die Heilige Gees dat Petrus sonder aarseling met hulle moet saamgaan. Dat Petrus die drie mans binnegenooi het en hulle almal se vertrek na Sesarea die volgende dag van 10:21-24 word uitgelaat, en spring na die ingang in Kornelius se huis waaroor hy ondervra word. Hy vertel hier dat daar ses mans van Joppe was wat met hom saamgegaan het. Daar was dus genoeg getuies van wat gebeur het, wat nou vir die gemeente in Jerusalem kan getuig oor wat in Sesarea gebeur het (‘hierdie ses broers’).
11:13 Die gesig van ’n engel van God wat Kornelius gesien het en dat hy beveel is om Petrus te laat haal, word die vierde maal in Handelinge vertel (10:3-5,22,30-32). Die opdrag kom duidelik uit die hemel van God af, maar die engel se woorde oor Kornelius se gebede en liefdadigheid wat soos ’n gedenkteken voor die aangesig van God verrys het (10:4) kom nie weer voor nie. Alles wat Petrus egter gedoen het was op God se bevel.
11:14 Die boodskap wat Kornelius van die engel ontvang het word hier uitgebrei met Petrus se boodskap ‘waardeur jy verlos sal word – jy en jou hele huis’ (vgl. 10:24,44). Die woord oikos word ook gebruik vir die hele huishouding wat die gesin, aangetroudes, slawe en diensknegte insluit.
11:15 ‘Die neerdaling van die Heilige Gees op hulle net soos aanvanklik ook op ons’ is eintlik Petrus se hoofargument voor Jerusalem se gemeente en word in die volgende verse uitgebrei. Hy herhaal nie die inhoud van sy prediking in 10:34- 43 nie, maar sê net: ‘toe ek begin praat,’ het die Heilige Gees op hulle neergedaal. ‘Aanvanklik’ verwys na die Pinksterdag van Handelinge 2, toe die kerk van Jesus se nuwe bedeling vir die eerste keer duidelik in die openbaar getree het.
11:16 Petrus herhaal die woord van die opgestane Jesus net voor sy hemelvaart in Hand 1:5, oor Johannes se doop met water, ‘maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.’ Jesus se Pinksterbelofte is vir die heidene in Sesarea net so vervul soos op die Joodse Pinksterdag in Jerusalem. Die Christene uit die heidendom is deel van die ‘julle’ van Jesus se belofte in Hand 1:5 en daarom volwaardige lede van die kerk van Christus.
11:17 As God dan aan die nuwe Christene dieselfde gawe van die Gees gee as aan die Jode wat in die Here Jesus as hulle Messias glo, wie was Petrus dan dat hy God kon verhinder of belet – om die evangelie aan die heidene te laat verkondig en hulle in die Naam van die Here Jesus Christus deur die doop by die kerk van die Here Jesus in te lyf? (vgl. Matt 28:19 ‘maak dissipels van al die nasies, doop hulle in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees). Petrus se retoriese vraag aan die gemeente in Jerusalem is eintlik ’n ironiese terugslag teen sy teenstanders – sal júlle God kan verhinder of belet? (vgl. Gamaliël se waarskuwing aan die Joodse Raad in Hand 5:39).
11:18 Hulle negatiewe reaksie teen Petrus se optrede verander en hulle het stilgebly. Hulle kritiek oor Petrus het gestop. Hulle was stomgeslaan oor die weë van die Here wat so lynreg teen hulle gedagtes oor die heidene was. Maar positief het hulle God begin verheerlik en in verwondering oor God se verlossingsplan vir die wêreld, gesê: ‘So het God dan ook aan die heidene (tois éthnesin kan verwys na die nasies of na die heidene) bekering (metanoia om jou lewenswyse te verander as gevolg van ’n totale ommekeer in jou denke en gesindheid teenoor sonde en die regte verhouding tot God) tot die lewe geskenk!’ Hulle is nou ook mense wie se lewenswyse deur God se genadegawe omgedraai is na Christus toe, na Hom wat die weg na God toe is, en die waarheid oor jouself en oor God, en na die ware lewe soos God dit bedoel het (vgl. Joh 14:6). God skenk die omkeer, soos in Hand 3:16 die geloof wat deur Jesus kom).
Lukas herhaal die gebeurtenis om die groot betekenis daarvan te onderstreep. Dit is die eerste maal dat ’n Christelike gemeente uit die heidendom ten volle erken word deur Jerusalem, wat die eerste gemeente van Jesus Christus is. Later swig Petrus in Antiogië omdat hy bang geword het vir die besoekers uit Jerusalem se gemeente (Gal 2:11-13). Maar na Paulus se teregwysing (Gal 2:14) het daar weer klaarheid in sy gemoed gekom en is Petrus in Jerusalem die verdediger van die verlossing deur die genade van die Here Jesus sonder die juk van wetsonderhouding vir verlossing (Hand 15:6-11). In hoofstuk 15 word vir die vyfde maal verwys na die Kornelius-gebeure as maatstaf vir die lewe en uitbreiding van die kerk (vgl. Hand 15:7-9). Die groot visioen van iets wat op die aarde neerdaal soos ’n groot linnedoek met rein en onrein diere in en weer in die hemel opgneem word, is duidelik ’n teken wat God gee dat Hy Jode en nie-Jode uit die hemel saamvoeg in sy kerk op aarde, om saam in die hemel opgeneem te word om ewig by Hom te bly. Wat God deur die liefdesoffer van sy Seun aan die kruis rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie! (Hand 10:11-16).
Skrywer: Prof Francois Malan