Die Handelinge van die Apostels: Petrus se preek (deel 3; Hand 2:29-36) – Francois Malan
Hiervandaan verduidelik Petrus dat die
woorde van Ps 16 na Jesus verwys. Hy wys dat die psalm nie slegs na Dawid
verwys nie, maar verder, want Dawid het gesterf, is begrawe, en sy graf kon nog
steeds aangewys word, 1000 jaar na sy dood. Die finale betekenis van die
psalm se profesie is vervul in Jesus Christus. God het Hom nie in die
doderyk laat bly nie en sy liggaam het nie ontbind nie.
Dié gedeelte van Petrus se preek vorm ’n eenheid wat twee aanhalings insluit: 29b-31 gaan hoofsaaklik oor Dawid; 32-35 hoofsaaklik oor Jesus en vers 36 is ’n slotsom van die redenasie. Elkeen van die twee gedeeltes sluit af met ’n aanhaling uit die
Skrif om Jesus se opstanding uit die dood en sy verhoging tot heerlikheid te
bevestig.
2:29 ‘Manne broers’ is ’n algemene
term vir die eerste gemeente, wat die dames insluit. Hier vereenselwig Petrus
hom met Israel as sy broers. Hy kan met vrymoedigheid met hulle praat want wat
hy oor Dawid sê is by hulle bekend. Hy noem Dawid die aartsvader, die Here se
gesalfde koning wat die Jode se ideaal is van vryheid en mag en die beeld van
hulle verwagting van die Messias wat kom. Die graftombe van Dawid, onder die
koningsgrafte in Jerusalem (2 Kon 16:20), was tot die einde van die Bar-Kogba
opstand teen Rome in 132-135 n.C. nog vir elkeen te sien in Jerusalem, terwyl
die meeste ander grafte buite die stadsmuur geleë was, vgl. Nehemia 3:16. In
135 n.C. het keiser Aelius Hadrianus Jerusalem egter heeltemal platgeslaan en
’n Romeinse stad bo-oor gebou met ’n nuwe naam, Aelia Capitolina.
2:30 Petrus noem Dawid ’n profeet.
Terwyl Dawid nog geleef het, het hy vooruit oor Jesus se opstanding
geprofeteer, want hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat Hy
iemand uit Dawid se nageslag op sy troon sal sit. Die belofte van die Here is
by monde van die profeet Natan aan Dawid oorgedra (2 Sam 7:12-13,16). In Psalm
132:11, ‘n lied wat die pelgrims elke jaar op pad na Jerusalem vir die fees en
tydens die Paasfees gesing het, word gesing van hierdie eed van die Here aan
Dawid 1000 jaar tevore. Hierdie eed van die Here is ook in Ps 89:4-5 deur Dawid
se Levitiese tempelsanger Etan, ’n lied wat in onderrig gebruik is, en is
daarom wyd bekend. Die eed is deel van hulle Messiasverwagting. Messias is die
Hebreeus vir Gesalfde, dieselfde as Christus in Grieks. Daarom sou elke
Israeliet van die belofte aan Dawid geweet het en kan Petrus met vrymoedigheid
na Dawid se profesie oor Jesus as Dawid se afstammeling verwys.
2:31 As profeet het Dawid vooruitsiende
in Ps 16:10 gepraat oor die opstanding van Christus, ‘dat Hy nie aan die
doderyk oorgelaat sou word nie, of dat sy liggaam ontbinding sou beleef nie.’
2:32 Petrus herhaal wat hy in 2:24
gesê het: ‘God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal
getuies.’ Die profesie van Dawid is met Jesus se opstanding uit die dood
vervul. Die getuies van Jesus se opstanding is die twaalf en almal wat die
opgestane Jesus gesien het (vgl. o.a. 1 Kor 15:5-7 wat selfs meer as 500 broers
tegelyk meld). Omdat God Jesus laat opstaan het, is dit seker dat Jesus God
se beloofde Messias, die Gesalfde Koning is.
2:33 ‘Nadat Hy tot die regterhand van
God verhef is, en die belofte van die Heilige Gees van sy Vader ontvang het,
het Hy (Jesus) die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor.’ Aan God
se regterhand ontvang Jesus die volmag en die opdrag van sy Vader om die Vader
se belofte te vervul dat Hy die Heilige Gees sal stuur (1:4). Die uitstorting
van die Heilige Gees op almal wat in Jesus glo, is Jesus se werk in opdrag van
sy Vader. Dit is die bewys dat Jesus die Jode se verwagte Messias is. Die skare
wat na Petrus luister het die tekens van die koms van die Heilige Gees gehoor
in die geluid soos van ’n geweldige stormwind en gesien in die tonge soos van
vuur op die Jesusvolgelinge. En nou is Petrus se hoorders almal getuies van die
uitstorting van die Heilige Gees. Dit is die Gees van die Here wat kragtig in
Dawid gewerk het vandat hy deur Samuel gesalf is (1 Sam 16:13), maar nou in
elke volgeling van Jesus werk, nie net in konings en priesters nie. Die
‘uitstorting’ (2:17,33) wys na die oorvloed van die seën, dat God self by
mense kom bly om hulle te lei en van hulle sy getuies te maak en toe te
rus. Uitstorting ekcheō beteken:in oorvloed gee; ten volle te
laat beleef, vgl. Rom 5:5. God se liefde is in ons harte uitgestort deur die
Heilige Gees wat aan ons gegee is; Ef 3:16-19.
2:34-35 Soos verse 29-30 met ’n
Skrifbewys in vers 31 ondersteun word, word verse 32-34 ook ondersteun met ’n
Skrifbewys in verse 34-35. Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie,
maar sê self in Ps 110:1: Die HERE het aan my Here gesê: ‘Sit aan my regterhand
totdat Ek u vyande ’n voetbank vir u voete gemaak het.’ Daarmee wys Dawid dat
God die Vader die vyande van Dawid se Here, naamlik Jesus, sal onderwerp, en
vir Jesus op die ereplek aan sy regterhand laat sit om oor die hemel en die
aarde te regeer (Jesus het die teks aangehaal in Luk 20:42-44). Dit is die
vervulling van Daniël 7:14 ‘Aan dié menslike wese (Seun van die Mens) is die
heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe
hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie ophou
nie.’
2:36 Petrus eindig sy preek met ’n
opsomming van sy hele boodskap in drie kort sinne. Die teks begin met die woord
asfalōs ‘Vir seker waar…’ om die volle betroubaarheid van die stellings
te beklemtoon. ‘Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet…’ Die woord oikos,
huis, word hier gebruik vir die hele nageslag van Israel (Jakob) wat al die
Jode insluit. Paulus het die term Israel in Romeine 11:25-26 uitgebrei tot
die hele gesin van God, naamlik al die Christusgelowiges uit die heidendom
en uit Israel: ‘Die hele Israel sal gered word as hulle hulle tot die Here
Jesus bekeer,’ met aanhalings uit Jesaja 59:20 en Jeremia 31:33 om dit te
ondersteun.
‘…dat God Hom (Jesus) sowel Here as Christus gemaak het…’ Hy is die Here aan wie God seggenskap gegee het oor die ganse skepping, en oor elke mens se lewe (vgl. Mattheus 28:18 ‘Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde’). As die Here is Hy die Regter van die eindtyd wat oor die hele lewe van elke mens sal oordeel. En Hy is die Christus, die verwagte Messias van Israel, die Gesalfde Koning wat oor ons lewe regeer, Priester wat Homself vir ons geoffer het en vir ons intree by God, en Profeet wat die waarheid oor God aan ons geopenbaar het in sy woorde en dade. Daarvoor het God Hom met die Heilige Gees gesalf met sy doop (Luk 3:21-23), en Hom met sy hemelvaart laat sit aan sy regterhand (Luk 22:69; Ps110:1). ‘…hierdie Jesus wat julle gekruisig het.’ Wat God met Hom gemaak het, staan in skrille kontras met wat die verharde arrogante Israel met hulle Messias en hulle God gemaak het. Hulle het Hom gekruisig! (vgl. Matt 27:25 ‘Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!’). God het Hom deur sy optrede in Israel en deur sy dood, opstanding, hemelvaart, en die uitstorting van die Heilige Gees, aan Israel voorgestel as hulle Here en hulle Messias, hulle Verlosser en Regter.
Skrywer: Prof Francois Malan