Die Handelinge van die Apostels: Saulus se prediking en vervolging (Hand 9:19b-25) – Francois Malan
9:19b Die getal van die paar dae word
nie gemeld nie (hêmeras tinas ’n onbepaalde aantal dae), waarskynlik was
dit nie baie dae nie. Gedurende die paar dae was hy, Saulus, saam met die
dissipels in Damaskus – die mense wat hy vroeër wou arresteer is nou sy
geloofsbroers. Hy word in die gemeente opgeneem, waarskynlik met die voorspraak
van Ananias wat die hele verhaal aan die gemeente sou vertel het, soos Barnabas
later in Jerusalem (Hand 9:26-27).
9:20 Dadelik, na sy paar dae saam met
die dissipels, het hy Jesus begin verkondig in Damaskus se Joodse sinagoges (kêrússō
aankondig, vertel, preek). Aan die Jode het hy verkondig dat Jesus die
Seun van God is. Toe die hoëpriester Jesus voor die hele Joodse Raad
gekonfronteer het met die vraag: ‘Is jy die Christus, die Seun van die
Lofwaardige?’ het Jesus geantwoord: ‘Ek is!’ en hulle het Hom met veragting
verwerp, en vir godslastering laat kruisig (Mark 14:61-65). Nadat Jesus egter
persoonlik met Saulus uit die hemel gepraat het, was hy oortuig dat Jesus
waarlik die Seun van God is! (vgl. 1 Kor 8:6; Kol 1:15-20; Flp 2:9-11; Rom
8:34; Efes 1:2).
9:21 Almal wat Paulus se boodskap
gehoor het, was uitermate verstom oor die radikale omswaai van die
gevreesde man (eksístamai so
verbaas dat jy amper nie kan verstaan wat jy ondervind nie). Dit was veral die
Jode wat so verbaas was, maar sy getuienis het ook die gelowiges verbaas. Die
vers bestaan verder uit twee retoriese vrae wat in Grieks die antwoord ‘ja, dit
is so!’ veronderstel, en omdat dit twee vrae is, veronderstel dit eintlik die
antwoord ‘ja, dit is verseker so!’ ‘Is
dit nie hy wat in Jerusalem dié wat daardie Naam noem aangeval het om hulle uit
te wis nie? (portheō aanval met die doel om uit te wis; die woord word
in die Nuwe Testament net hier en in Gal 1:13,23 gebruik); en het hy nie
hierheen gekom om hulle gebind na die hoëpriester toe te vat nie?’ Saulus se
reputasie het hom vooruit geloop.
9:22 Saulus het ‘n konsternasie onder
die Jode wat in Damaskus gewoon het veroorsaak, deurdat hy aan hulle
onteenseglik bewys het dat Jesus die Jode se verwagte Messias/Christus is.
Die Here hom gaandeweg al sterker daarvan oortuig. Hy kon skynbaar die Ou
Testamentiese woorde oor die Gesalfde van God al duideliker uitlê as profesieë
wat in Jesus vervul is. Daarop het die Jode nie ‘n antwoord gehad nie. Daarom
het hulle verbasing oor sy bekering in vers 21 ‘n verwarring in hulle gemoed en
geloof geword. Hulle wou nie aanvaar dat Jesus hulle Messias is nie, maar kon niks
daarteen sê nie.
9:23 Lukas gaan hierna oor na die Jode
se vervolging van Saulus in Damaskus na ’n lang tyd (hêmérai hikanaí ‘ná
baie dae’). Maar Saulus voeg hier ’n tydperk in waarin hy in Arabië gaan preek
het, teruggekom het Damaskus toe, en dat hy eers drie jaar na sy bekering na
Jerusalem opgegaan het (Gal 1:11-20). Dit kon alles in die ‘lang tyd’ van
Handelinge ingepas wees.
‘Toe baie dae voltooi is (plêróomai
om tot die einde van ’n tyd te kom, met die implikasie van die voltooiing
van ’n plan) het die Jode saamgespan
(sumbouleuómai om saam te beplan om ’n gemeenskaplike aksie te loods) om
Saulus dood te maak (anairéō om van iemand ontslae te raak deur
eksekusie). Dit het ’n lang tyd van beplanning geneem voor die Jode se plan om
Saulus dood te maak eenstemmige goedkeuring gehad het. In 2 Kor 11:32 voeg
Paulus nog ’n ander aspek daarby: ‘In Damaskus het koning Aretas se goewerneur
die stad Damaskus bewaak om my te arresteer.’ Of die Jode agter die opdrag van
die goewerneur was, word nie gesê nie, maar die Jode kon die goewerneur
goedskiks oortuig het om Saulus te laat vang, soos hulle Pilatus oortuig het om
Jesus te laat kruisig.
[Aretas IV het in Petra oor die Nabateërs regeer van
9 v.C. tot 39/40 n.C. Hy was die skoonvader van Herodus Antipas, wat van Aretas
se dogter geskei het om met sy halfbroer Filippus se vrou Herodias te trou.
Herodias was ook Herodus se halfbroer Aristobulus se dogter. Oor die verstoting
van sy dogter het Aretas in’n veldslag Herodus en sy soldate verslaan. Aretas
het oor Damaskus regeer van 37-39/40 n.C. in die tyd van keiser Caligula wat
hom goedgesind was. Saulus se ontsnapping uit Damaskus kon moontlik gedurende
die drie jaar geskied het.]
Dwarsdeur sy loopbaan was die Jode
Paulus se mees verbete teenstanders. In hulle oë was hy ’n verraaier van sy
volk en van hulle godsdiens. Hy moes uit die weg geruim word (vgl. Hand
21:27-31; 24:5-6). Hier in Damaskus het die Here reeds begin om hom te wys wat
hy vir die Naam van Jesus moet ly. Hierdie eerste vernedering word laaste
genoem in die lys van sy lydings in 2 Kor 11: 23-33 as ’n laaste van sy
swakhede waaroor hy roem. Dit het hom dwarsdeur sy lewe bygebly, maar hy het
daaroor geroem as sy verwerping en lyding vir en saam met Jesus (vgl. Hand
21:10-14).
9:24 Die Here sorg egter dat
Saulus hoor van die Jode se komplot, en dit word bekend dat hulle die stad se
poorte dag en nag dophou om hom dood te maak.
9:25 Saulus se dissipels het hom egter geneem (dieselfde Griekse woord vir ’n dissipel mathêtês kom van twee verskillende werkwoorde: manthánō om te leer, en mathêteō om te volg. Daarom kan die woord verwys na leerders of volgelinge van ’n persoon). Saulus het in die lang tyd alreeds ’n aantal volgelinge wat deur hom onderrig word, waarskynlik onder die Jode vir wie hy in hulle sinagoges verkondig het dat Jesus die Seun van God is (Hand 9:20) en nie-Jode, die heidene onder die Arabiere, aan wie hy Jesus verkondig het (Gal 1:16). Hierdie lojale dissipels van Saulus het hom in die nag geneem, geleidelik laat afsak deur die versterkte stadsmuur, af in ’n groot mandjie (spurís). In 2 Kor 11:33 sê Paulus hy is met ’n groot mandjie van tou gevleg (sargánê) deur ’n venster (thurís) in die stadsmuur geleidelik laat afsak. (So het Ragab Josua se twee verkenners met ’n bloedrooi tou deur die venster van haar huis in die stadsmuur van Jerigo laat afsak om te ontvlug (Jos 2:15,18).
Skrywer: Prof Francois Malan