Die Handelinge van die Apostels: Stefanus se toepassing van sy toespraak op Jesus (Hand 7:35-41) – Francois Malan
7:35 Na die aanhaling van die
Here se verskyning en opdrag aan Moses in Eksodus 3:7,10, kom Stefanus self aan
die woord in verse 35-39 waarin hy vertel van Moses se optrede en die volk se verwerping
van Moses in verse 35 en 39. Die valse getuies is aangesê om te verklaar dat
hulle gehoor het Stefanus sê lasterlike dinge oor Moses en God (Hand 6:11). In
Stefanus se belydenislied oor Moses is dit duidelik dat hy ’n hoë agting vir
Moses het. Hy noem ook ses dinge oor Moses wat ook op Jesus van toepassing
is:
Stefanus verwys eerstens
na die twee Israeliete wat baklei het en vir Moses verwerp het met: ‘Wie
het jou as leier en regter aangestel’ (Hand 7:27; Eks 2:14). En dit is juis vir
hom wat God gestuur het as leier om saam met die hand van die engel wat aan hom
in die doringbos verskyn het, Israel te gaan verlos. ‘Saam met die hand van’ (sun
cheiri) is ’n Semitiese idioom vir ‘met die hulp van.’ Die Hebreeuse woord mal’ak
en Griekse woord aggelos vir ‘boodskapper’ word gebruik vir ’n engel as
die bonatuurlike boodskapper van die bonatuurlike goddelike wese. In Eksodus
3:2 verskyn die Engel van die Here aan Moses in ’n vlam binne-in die doringbos.
In Eksodus 3:4 sien die Here vir Moses naderkom om te kyk en is dit God wat na
hom roep uit die doringbos. So identifiseer Eksodus die Engel van die Here met
die Here God self. In Handelinge 3:13-15 het Petrus die Raad reeds beskuldig
dat hulle vir Jesus, die Heilige en Regverdige Dienaar van die God van hulle
voorvaders, verloën het en die Leidsman tot die lewe doodgemaak het.
7:36 Stefanus verwys ten tweede
na Moses wat die Israeliete uitgelei het, wonders en tekens gedoen het
in Egipte, by die Rooisee, en veertig jaar lank in die woestyn. So weet die
Raad self dat God deur Jesus kragtige dade, wonders en tekens in hulle midde
verrig het (Hand 2: 22). Die Raad het self oor Jesus gesê: Hierdie man doen
baie tekens (Joh 11:47). Moses is vir
Stefanus die prototipe van Jesus.
7:37 Stefanus verwys derdens
na Deutr 18:15, dat Moses vir die volk gesê het dat die Here vir hulle ’n
profeet soos hy sal verwek. Met die koms van Jesus is die belofte van die
Here vervul. Dit het Petrus reeds vir hulle gesê, met die waarskuwing van
Deuteronomium 18:19 daarby: ‘Na Hom moet julle luister, na alles wat Hy vir
julle sê. Elkeen wat nie na daardie profeet luister nie, sal onder die volk
uitgedelg word’ (Hand 3:22-23). Die werk van ‘n profeet is om vir die volk die
woord van die Here te bring. Johannes 1:1-3 sê Jesus is die Woord van God, self
God wat mens geword het (Joh 1:14). Jesus het gesê: ‘Wie My verwerp , verwerp
Hom wat My gestuur het’ (Luk 10:16).
7:38 Met die vierde en vyfde
ooreenkoms tussen Moses en Jesus gaan dit oor die wetgewing by Sinai. ‘Dit is
hy, Moses wat in die volksvergadering in die woestyn was, saam met die engel
wat met hom op die berg Sinai gepraat het en saam met ons vaders.’ Die
engel wat met Moses in die woestyn van die Sinaigebergte in die vlam van ’n
brandende doringbos verskyn het (7:30), het weer met Moses op die berg Sinai
gepraat en ook met ons vaders in die volksvergadering (ekklēsia die
Griekse woord vir die Hebreeuse kahal, gemeente in Deutr 18:16). Maar
Jesus het as die Woord van God self mens geword en onder ons kom woon (Joh
1:14).
Moses het lewende woorde
ontvang om aan ons te gee. Die wet word hier beskryf as logia gesegdes/boodskappe/godsprake
wat lewe, wat bly lewe en lewe gee. Stefanus spreek daarmee sy eerbied vir die
wet uit, teenoor hulle wat hom beskuldig dat hy teen die wet praat (Hand 6:13).
Hy noem dit nie die wet nie, maar lewende woorde, wat van die wet ’n prototipe
van die evangelie maak. So sê Johannes 1:4: ‘In die Woord van God was lewe,’ in
Jesus, wat die Woord van God is, is lewe. Joh 6:63: Die woorde wat Ek tot julle
gespreek het, is Gees en is lewe. Joh 10:10: Ek het gekom dat hulle lewe kan
hê, en dit in oorvloed. Joh 11:25: Ek is die opstanding en die lewe.
In Galasiërs 3:19 sê Paulus
die wet is beskik deur engele deur die tussenkoms van Moses as middelaar;
maar dat Christus, die Nakomeling van Abraham (Gal 3:16) God se beloftewoord
aan Abraham kom vervul het. Jesus Christus het gekom om God se vryspraak te gee
aan diegene wat in Jesus as God se Gesalfde glo (Gal 3:22) – vryspraak (dikaiosunê)
verwys na die regmaak van jou verhouding met God.
Die engel is in hierdie
Moseshimne (7:30,35,38,44) meer as die engele wat elders in Handelinge genoem
word (5:19; 8:26; 10:3; 12:7; 27:23). Hy is die onmiddellike Middelaar, ’n
verskyningsvorm van God self, soos die Engel in Eks 3:2 wat in die res
van Eksodus 3 die HERE (Jahweh) genoem word. In Handelinge 7:31 word die
engel van vers 30 die stem van die Here genoem; in vers 32 sê Hy: Ek is die God
van Abraham, Isak en Jakob.
7:39 Aan hom (Moses) wou ons
vaders nie gehoorsaam wees nie, hulle het hom verwerp (apōtheōmai eenkant
toe stoot, weier om te luister) en het in hulle harte teruggedraai na Egipte –
hulle het verlang na Egipte (Num 14:3-4 spel dit uit). So word die vaders se
ongehoorsaamheid aan die Here en verwerping van Moses as sy verteenwoordiger
die sesde voorbeeld van die Joodse Raad en die Joodse volk se verwerping
van Jesus en daarmee ook van God die Vader (Luk 10:16: Wie My verwerp, verwerp
Hom wat My gestuur het).
7:40 Die bewys dat hulle Moses en die Here verwerp het, is hulle opdrag aan Aäron om vir hulle gode te maak wat voor hulle kan uittrek, want hulle weet nie wat van hierdie Moses geword het wat hulle uit Egipteland uitgelei het nie (Eks 32:1). Hierdie Moses is ’n minagtende verwysing na Moses deur die Israeliete, soos die Raad na Jesus verwys het as hierdie Jesus van Nasaret (Hand 6:14). Volgens Eksodus 24:18 was Moses 40 dae en nagte op die berg om die lewende woorde vir hulle te ontvang (Hand 7:38). Toe soek Israel ’n leier, ’n afgod, wat deur Aäron met sy hande gemaak word, wat hulle kan sien en self kan dra waarheen húlle wil (vgl 1 Sam. 15:23 letterlik: afgodery en beeldediens is eiesinnigheid). Hulle is nie meer tevrede met die Here wat bedags met ’n wolkkolom voor hulle uitgegaan het om vir hulle die pad uit Egipteland te wys nie (Eks 13:21), maar wil terug Egipte toe, om slawediens te gaan verrig. 7:41 Die volk van die Here het sowaar soos die heidene die heerlikheid van die onsterflike God verruil en ’n beeld van ’n kalf gemaak (moschopoieō om ’n kalf te maak; Eks 32:4), ’n beeld van ’n armsalige dier (Rom 1:23). In Egipte is hulle god Aspis aanbid voor ’n beeld van ’n bulkalf. Aan dié afgodsbeeld het die vaders ’n offer gebring om hulle toewyding aan die selfgemaakte goue kalf te betuig, eintlik hulle toewyding aan hulleself. Daarom praat Stefanus van hulle vreugde oor die werke van hulle eie hande, soos die Jode op hulle eie wetswerke vertrou om God te behaag. Dawid het getuig dat die Here se teenwoordigheid hom met blydskap vervul (Hand 2:28 wat verwys na Ps 16:11). Dit is egte vreugde.
Skrywer: Prof Francois Malan