Die Handelinge van die Apostels: Stefanus se toespraak vervolg (Hand 7:1-53) – Francois Malan
7:9-39 Die
genadeverbond is die Here se woord aan Abraham in Genesis 17:7-9,14: ‘Ek sal
julle God wees en julle sal my volk wees…wat my verbond nakom; elkeen wat my
verbond verbreek, moet van sy volksgenote afgesny word’ (en in menige tekste in
die Ou Testament, bv. Jer 7:23; 11:4; 24:7; 30:22, 31:33). Stefanus verwys in
7:9-39 na twee figure in die Ou Testament, Josef en Moses, wat hy as voorbeelde
voorhou van Israel se verwerping van hulle Redder, soos die volk nou met
Jesus Christus gedoen het.
Die geskiedenis van Josef (Hand 7:9-16)
7:9 Uit jaloesie
het Josef se 11 broers, wat saam met hom Israel se stamvaders was, hom as slaaf
verkoop om na Egipte geneem te word. Hulle was jaloers op Josef oor Jakob se
voortrekkery van die seun van sy geliefde vrou Ragel, oor sy voorbeeldige lewe
en die slegte stories wat hy oor hulle by hulle pa aangedra het, en oor die
Here se seën oor hom met die drome wat hy gehad het (Gen. 29:18; 37:2-11;
18-20; 28). Maar God was met hom en het deur dié slaaf in Egipte Israel se
redding bewerk (vgl. Gen 45:7; 50:20), soos wat die Here deur Jesus die mensdom
se redding bewerk het, die Jesus wat deur die Raad verkoop is en laat kruisig
is.
7:10 Die Here
het Josef uit al sy beproewings (thlipsis moeilikheid wat direkte lyding
bring) gered, uit sy slaweskap, uit Potifar se vrou se kloue, uit die
tronk. Toe Josef voor die Farao verskyn, het die Here aan hom wysheid en die
guns van die Farao en al sy amptenare geskenk (Gen 41:37-39). Daarop het die
Farao vir Josef aangestel as die regeerder oor Egipte en oor sy hele huis (Gen
41:40-41: oor sy paleis en oor sy hele volk en oor die hele land Egipte; vgl.
Ps 105:21-22). So is Jesus verhoog tot die regterhand van God as Leidsman en
Verlosser van sonde (Hand 5:31).
7:11 Die
broers het Josef in baie noodsituasies laat beland (thlipsis, 7:10).
Na ’n paar jaar laat die Here die hele Egipte en Kanaän in ’n groot nood (thlipsis)
beland met die sewe jaar droogte wat op die sewe jaar oorvloed gevolg het, soos
Josef die Farao se twee drome uitgelê het as ’n openbaring van wat God gaan
doen (Gen 41:25,28,32). Die gevolg was ’n wydverspreide hongersnood (Gen 41:56
‘oor die hele wêreld was daar hongersnood’) sodat ‘ons vaders’ geen kos kon kry
nie, en sou sterf (Gen 42:2), hulle wat vir Josef sonder kos in die put gegooi
het. Met ‘ons vaders’ wys Stefanus dat die gebeure van destyds ook vir hom en
die huidige geslag raak.
7:12 In die
nood van Abraham se nageslag het die Here sewe jaar voor die hongersnood al
voorsiening gemaak, deur Josef se raad om die sewe vet jare se oorvloed in
skure te berg vir die sewe maer jare (Gen 41:34-36). Die Here laat Jakob hoor
dat daar graan in Egipte is, en hy stuur ‘ons vaders’ daarheen (Gen 42:2). So
het die Here deur die wysheid wat Hy aan Josef gegee het, die redding van sy
volk en die omliggende volke berei (Gen 41:57).
7:13 Soos
Lukas die prediking en genesings deur die apostels beskou as ’n tweede koms
van Christus na Israel (Hand 3:26), beskryf Petrus Moses se twee pogings om
Israel te red in Hand. 7:23-25 en 34. By die tweede besoek van Josef se broers
om hulle van die hongersnood te red, het Josef hom aan hulle bekendgemaak as
hulle redder (7:13). Josef se herkoms het ook aan die Farao en die hele
heidense Egipte bekend geword. So word Jesus se herkoms uit die hemel aan die
regterhand van God as God aan die wêreld bekendgestel. Sy naam Jesus beteken
ook Jahweh red, die HERE is die Verlosser.
7:14 Die 75
mense (letterlik siele), die kern van die volk van die Here, moes toe
die land wat die Here aan hulle beloof het, verlaat (Genesis 46:26 se getalle
is effe verwarrend met 66 afstammelinge van Jakob sonder die seuns se vroue en
altesaam 70 afstammelinge met Josef en sy twee seuns bygereken. Die Griekse
vertaling het 9 seuns vir Josef en ’n totaal van 75 mense van die huis van
Jakob, ook so in Eksodus 1:5. Josef se 9 kinders sluit seker sy 3 kleinseuns en
twee agterkleinkinders in, Gen 50:23).
7:15-16 Hier loop Stefanus se weergawe van die geskiedenis effe deurmekaar. Josef is in Sigem begrawe op die stuk grond wat Jakob vir 100 stukke silwer by Gamor gekoop het (Josua 24:32; Gen 33:19; 50:25). Jakob is begrawe in die spelonk van Magpela by Hebron wat Abraham by die Hetiet Efron gekoop het (Gen 49:29-32; 50:12; 23:17-20). Die broers van Josef is volgens Josephus Ant 2:8:2 in Hebron begrawe, waar hulle vandag nog met ’n senotaaf in ’n moskee vereer word. Josef se geskiedenis onderstreep dat die Here sy reddingsplan deurvoer teen alles wat die mens as onwaarskynlik beskou. Jesus het oor die onmoontlikheid dat enigiemand gered kan word gesê: Wat onmoontlik is by mense, is moontlik by God (Luk 18:27).
Skrywer: Prof Francois Malan