Die Handelinge van die Apostels: Stefanus word gestenig (Hand 7:54-8:1a) – Francois Malan
Die reaksie van die Joodse Raad op die toespraak van Stefanus is ’n finale bevestiging van sy aanklag teen Israel in Hand 7:51-52. Soos Israel in die verlede God se boodskappers verwerp en vermoor het, so het hulle Stefanus se woorde verwerp en hom doodgemaak om alle getuienis oor Jesus te probeer uitroei. Die slotwoorde in 8:1a is ’n inleiding tot hoofstuk 9 se verhaal oor Saulus.
7:54 Die ‘hulle’ waarvan die teks praat verwys na ‘almal wat in die Sanhedrin gesit het’ (vgl. Hand 6:15). Met ’n Joodse uitdrukking ‘om op die tande te kners oor iemand’ word hier verwys na ’n geweldige emosie, na die felheid van hulle woede wat hulle innerlik verteer (soos in Ps 35:16; 37:12; 112:10). Die teenwoordige lede van die Joodse Raad het innerlik briesend geword (Letterlik: ‘deurgesaag in hulle harte’) en op hulle tande gekners as uitdrukking van hulle intense woede oor Stefanus se getuienis oor Jesus en sy aanklag teen hulle. Die grond vir hulle woede is die omkering van hulle posisie as regters oor oortreders. Hulle staan nou voor Jesus en sy volgelinge as húlle regters wat hulle beskuldig as oortreders van die wet van God, waarvan hulle juis vir Jesus en Stefanus valslik beskuldig het. Die Raad word deur Stefanus aangekla as rebelle teen God en moordenaars van God se beloofde Messias. Die Raad vergeet dat hulle as regverdige regters moet optree. Soos in Jesus se verhoor laat hulle hulle lei deur hulle woede-emosie (vgl. Mark 14:65).
7:55 Lukas teken twee indrukwekkende beelde: Die Raad se innerlike woede teken hy met knersende tande teen Stefanus en stel daarteenoor Stefanus wat rustig om hulp stip na die hemel kyk. Pas voor sy martelaarskap open die hemel vir hom om hom innerlik te versterk. Soos die drie apostels op Jesus se berg van verheerliking (Luk 9:32) en later Paulus (Hand 22:6) sien Stefanus die glansende heerlikheid (doksa) wat van God uitstraal en in dié glans sien hy vir Jesus wat aan die regterhand van God staan as Regter oor die ganse skepping om sy getuie te ondersteun en eervol in die hemel te ontvang. So mag ’n Christen wat sterf die vreugde van sy Here jubelend ingaan (vgl. Judas 24). Dat Stefanus op die oomblik in die besonder deur die Heilige Gees vervul is, het hom in staat gestel om die geopende hemel te sien, die ligglans wat uit God straal en dié Jesus wat hulle vermoor het, maar uit die dood opgestaan het en, soos Hy aan hulle beloof het, aan die Regterhand van God is (Luk 22:69).
7:56 Soos Jesus aan die Joodse Raad verklaar het: ‘Julle sal die Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige…(Mark 14:62; vgl. Luk 22:69), sê Stefanus aan dieselfde Joodse Raad: ‘Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.’ Die ou wêreldbeeld het drie lae hemel: wolkehemel, sterrehemel, en die derde hemel waar God woon. Die drie word vir Stefanus geopen om die Seun van die Mens van Daniël 7:13-14 te sien staan. Hy is Stefanus se opdraggewer en sy getuie voor die Raad om hom te versterk in sy getuienis en martelaarskap en hom te verwelkom in die hemel by God. Toe Jesus dit voor die Raad verklaar het, het hulle Hom tot die dood veroordeel oor godslastering (Mark 14:64).
7:57 By die aanhoor van vir hulle godslastering, skreeu hulle Stefanus se woorde dood, druk hulle ore toe om dit nie verder te hoor nie en storm op hom af, homothumadon ‘soos een man.’ Dieselfde woord is in Hand 1:14 gebruik vir die groep wat van Jesus se hemelvaart teen die Olyfberg teruggekom het en eensgesind in gebed tot God volhard het – hier van die Raad wat almal op hom afstorm in hulle eensgesinde volharding teen God). Sonder beredenering of uitspraak handel die Raad nie soos regters nie, maar storm soos ’n moordbende op Stefanus af, en sleep die mense wat na die hofsaak kom luister het waarskynlik saam met hulle. Dit word ’n massa optrede teen die nuwe Jesusbeweging.
7:58 Soos Jesus word Stefanus buite die stad uitgegooi, soos Deuteronomium 17:5 voorskryf (Num 15:35; vgl. Jesus se gelykenis in Luk 20:15; ook Hebr 13:11-12). Vir godslastering skryf Levitikus 24:14 die doodstraf met steniging deur die hele gemeente voor. Die vals getuies teen Stefanus (Hand 6:11,13) moes volgens Deutr 17:6-7 die vonnis begin voltrek en daarna moes die hele volk dit help uitvoer. So is ook met Paulus in Listra gedoen na aanhitsing deur die Jode teen hom (Hand 14:19). Sagaria, die laaste profeet wat in die Hebreeuse Bybel genoem word, is egter in die voorhof van die tempel gestenig (2 Kron 24:21; vgl. Matt 23:35).
Die getuies het hulle klere aan die voete van die jongman Saulus neergesit om dit vir hulle op te pas. Later sou die hele stad die einste Paulus gryp en hom uit die tempel sleep (Hand 21:30), skreeu en hulle klere afpluk en stof in die lug gooi, so woedend was hulle vir hom oor sy getuienis oor Jesus en dat die Here met hom gepraat het, met hom wat destyds nog goedkeurend die klere opgepas het van Stefanus se moordenaars (Hand 22:20-23). Op hierdie manier stel Lukas vir Saulus aan sy lesers voor, om later voort te gaan met sy bekendstelling.
7:59 Terwyl hulle besig was om Stéfanus te stenig (die imperfektum werkwoord druk uit dat hulle aangehou het om hom te stenig) was hy besig om tot die Here in gebed uit te roep (epikaléomai hulp vra of na ’n hoër hof appelleer ): ‘Here Jesus, ontvang my gees!’ So het Jesus ook gesterf met ‘Vader, in u hande gee Ek my gees oor!’ (Luk 23:46). Dit klink soos die Jode se aandgebed, na aanleiding van die woorde van Ps 31:6 ‘In u hand lê ek my lewe…HERE troue God.’ Soos Jesus, vertrou Stefanus dat die verheerlikte Jesus hom sal opneem in die hemel, soos die engele die bedelaar Lasarus van Jesus se verhaal weggedra het om teen die bors van Abraham te rus (Luk 16:22); vgl. Jesus se woorde aan Martha: ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in my glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie.’
[Keiser Tiberius se ambassadeur in die Ooste,Vitellius, het Pilatus in 36 n.C. afgesit en sy handperd en swakkeling Marsellus vir die res van 36 n.C. oor Israel, aangestel. Vitellius was die Jode goedgesind en het aan die Joodse Raad groter mag gegee. Stefanus is waarskynlik in 36 n.C. deur die Raad gestenig. Vitellius se goeie gesindheid teenoor die Joodse Raad is ’n moontlike verklaring waarom dit kon geskied terwyl Vitellius besig was by die Eufraat. Vitellius het ook vir Jonathan, die magsugtige seun van Annas as hoëpriester aangestel wat die Raad teen die Christene gelei het, en sonder vrees vir Rome vir Stefanus gestenig het. Dit terwyl die Joodse Raad vroeër oor Jesus gesê het: ‘Ons word nie toegelaat om iemand om die lewe te bring nie’ (Joh 18:31). Jonathan het blykbaar vir Saulus aangestel om die gelowiges te vervolg, Hand 9:1].
7:60 Stefanus het op sy knieë geval om te bid terwyl die klippe op hom reën en met ’n luide stem, om bo die lawaai van die klipgooiers gehoor te word, uitgeroep: ‘Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!’ So het Jesus ook met ’n luide stem gebid toe die soldate Hom aan die kruishout vasgespyker het: ‘Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie’ (Luk 23:34). Jesaja 53:12 het al gesê dat die Kneg van die Here die sondes van baie op hom geneem het en vir die oortreders gebid het. Stefanus se voorbidding vir sy moordenaars is nog dringender as sy bede vir homself. So vervul hy Jesus se opdrag: ‘Julle moet julle vyande liefhê…dan sal julle kinders van die Allerhoogste wees omdat Hy goed is vir die ondankbares en slegtes’ (Luk 6:27,35).
En met dié woorde het Stefanus ontslaap, ’n eufemistiese tegniese term vir Christene en Ou Testamentiese gelowiges wat sterf (1 Kor 7:39; 15:6; 1 Thess 4:13; Hand 13:36; vgl. Joh 11:11-14). 8:1a Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur (anaireõ om van iemand ontslae te raak deur eksekusie dikwels met kwasi-wettige prosedures, daarom moord). Stefanus se gebed tot die Here vir sy moordenaars is in die geval van Saulus wel verhoor (vgl. Hand 22:20 oor die indruk wat dit op Paulus gelaat het)
Skrywer: Prof Francois Malan