Die Handelinge van die Apostels: Van Malta na Rome (Hand 28:11-15) – Francois Malan

image_pdfimage_print

28:11 Nadat hulle drie maande op die eiland gebly het, die winter verby was, en die skeepsvaart weer op dreef gekom het, het hulle vertrek (anágomai ’n skeepsterm) met ’n skip wat op die eiland oorwinter het. Volgens Plinius 23-79 n.C. se nat.hist. het die skeepsvaart op die 7e Februarie elke jaar begin. Drie maande tevore was dus ongeveer die begin van November wat Paulus-hulle op Malta gestrand het. Soos die skip waarmee hulle uit Mira vertrek het ’n Alexandrynse boot was (27:6), so ook hierdie skip, wat waarskynlik ook ’n vrag koring na Rome vervoer het. Op die boeg van die skip was beelde uitgekerf van die Dióskuroi ‘tweeling here,’ naamlik die Griekse gode Kastor en Polluks, twee seuns van Zeus, wat vereer is as beskermers van skeepsvaart en matrose, en wat uit nood op see red (Polluks het Zeus gevra om onsterflikheid te kry en toe is twee sterre na hulle vernoem, Polluks die groot rooi ster en Kastor die kleine in die Gemini=Tweeling stergroep).

28:12 Hulle is nou op pad van die eiland Malta af na Rome in Italië. Sirakuse, die hoofstad van Sisilië, lê aan die suid-oostelike kus van die eiland wat aan die voet van Italië lê. Dit is die eerste hawe op hulle nuwe reis. Hier gaan hulle aan wal (katáchomai tegniese skeepsterm) om goedere af te laai en ander op te laai.

28:13 Van Sirakuse op die eiland Sisilië vaar hulle tot by Regium op die suidelike punt van die vasteland van Italië. Die werkwoord periérchomai beteken eintlik om ‘om iets te vaar.’ Noord-oos van Sirakuse lê die beroemde tweeling rotse, die 12 meter hoë Skilla 70 meter van die kus af en 5 meter hoë Garibdis 50 meter van die kus af. Skepe kan van Sirakuse af tussen hulle deurvaar na die oop see, of met ’n wye draai om hulle vaar. Die twee name kom van Homerus se reis van Odusseus wat tussen die twee gevare van die Skilla en die Garibdis moes deur vaar. Later skrywers plaas die twee gevare in die straat van Messina tussen Sisilië en Italië, met Skilla op Sisilië se noordelike landpunt Skillaeum en Garibdis die gevaarlike draaikolk buite die hawe van Messina aan die noordpunt van Sisilië regoor Regium.

Nadat hulle vir ‘n dag in Regium was, het daar die volgende dag ’n suidewind opgesteek wat hulle binne die verbasende kort tydjie van twee dae die ongeveer 350 km tot by die hawe Puteoli aangedryf het. Waar die Here hulle met ’n woeste noord-ooste stormwind na Malta aangedryf het om te oorwinter, stuur Hy nou ’n kalm suidewind om hulle vinnig by Puteoli naby die stad Napels te bring (soos met hulle twee dae se vaart van Troas af tot in Filippi, Hand 16:11 teenoor die vyf dae van Filippi na Troas, Hand 20:6). Puteoli was destyds die belangrikste hawe waar skepe uit die ooste en suide hulle vrag afgelaai het. Later het die hawe Ostia wat keiser Claudius (41-54 n.C) reeds laat bou het en baie nader aan Rome was, belangriker geword vir oorseese-handel.  

28:14 In Puteoli vind Paulus-hulle ’n gemeente van Jesus Christus wat hulle dringend uitnooi om vir sewe dae by hulle oor te bly. Die ‘ons’ verwys waarskynlik na Lukas, Paulus en Aristargus, met of sonder Julius of een van sy soldate? (vgl. Hand 27:1-2,31). Dat die kommandant geen beswaar daarteen gehad het nie, wys sy welwillendheid teenoor Paulus. En so het Paulus-hulle in Rome aangekom. Die reis van Puteoli na Rome is te voet afgelê soos uit die volgende verse blyk, ’n vyf dae reis vir ’n rustige staptoer.

28:15 Na die sewe dae in Puteoli het die nuus van Paulus se aankoms in Italië reeds die gemeentelede in Rome bereik. Van hulle het Paulus toe langs die pad gaan ontmoet. Paulus-hulle stap van Puteoli tot by die nabygeleë Capua op die Via Campana; daarvandaan op die Via Appia wat tot in Rome loop; by die Markplein van Appius (Forum Appii), 69 km van Rome af ontmoet die eerste gemeentelede uit Rome hulle; daarvandaan stap hulle groter groep tot by die herberg met die naam Drie Herberge (Tres Tabernae) wat vir oorslaapreisigers ingerig is, 53 km van Rome af. Hier kry die tweede groep gemeentelede uit Rome vir Paulus-hulle. Toe Paulus die twee groepe gelowiges ontmoet, het hy God gedank wat vir hom as gevangene so ’n warm ontvangs gereël het en hy het moed geskep oor wat vir hom voorlê. Hy was nog nie vantevore in Rome nie, maar die gemeentelede het teen die tyd lankal Paulus se brief aan die Romeine ontvang, en sou gelees het van sy begeerte om hulle sien (Rom 1:11-12). Hulle reaksie daarop maak Paulus dankbaar teenoor die Here vir hulle liefde en toegeneentheid en die moeite wat hulle gedoen het om hom te kom ontmoet. Hy skep ook moed vir sy bediening wat voorlê en vir sy getuienis vir Jesus voor die keiser (Hand 27:24; 9:15; 26:16). 

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...